Le Moutian Clair

 

Dit was Kersfees 2006 wat Wessie besef het sy ma is goed mal. Sy het daardie dag met haar trourok gaan aansit vir ete. ´n Meerlust Rubicon in die een hand, ´n sakkie potpourri in die ander. In die middel van die tafelgebed het sy Pampoen begin sing. Dromme gespeel met haar mes en vurk. Halfpad deur die koor het sy weemoedig begin huil, die res van die bottel wyn afgesluk, potpourri blare oor haarself uitgegooi en uitbundig gegiggel; ¨Kyk, dit reën engeltjiepoeppies.¨

 

Meeste mense sou effens geskok gewees het deur sulke gedrag, maar dit was juis díe dag waarvoor Wessie en sy verloofde al lank gewag het. Sien, Wessie se ma was ´n vrou van vermoëns. Haar man het, toevallig die dag na die Helderberg neergestort het, ´n klein fortuin van die Amerikaanse regering gekry. Maar dis ´n ander storie.

 

Wessie se pa is kort na sy meevallertjie lang bome toe. Hy het, volgens die polisie-verslag, homself per ongeluk sewe keer met sy eie 30.06 geskiet toe hy díe wou skoonmaak. Die testament het dit duidelik gestel dat solank Wessie se ma nog lewe en sy al haar varkies op hok het, sy volmag het wat die verdeling van die fortuin betref.

 

Nou ja, laasgenoemde onrein snorkertjies was volgens Wessie duidelik uit die hok en oor die krans die golwe in, so sy droom-Humvee met goue spinners was binne bereik. Hy het natuurlik goed geweet waarom sy ma besig was om dit heeltemal te verloor; Wessie het elke oggend een Ecstasy pil by sy ma se Maltabella pap in gerasper.

 

Aan die begin was die huis net verskriklik skoon en alles spieëlblink gepoleer. Daarna het die vreemde gedrag begin. Eers het sy vir ´n paar uur per dag soos ´n wafferse Napoleon hand in die bloes op ´n besem al om die huis gery; ¨Hey hô Stoffie!¨, het sy geskree om elke draai. Toe het die singery begin. Alles van Nicholis Louw tot Queen. Sy het selfs eenkeer die hele Bohemian Rhapsody stokalleen by die kerk se kermis opgevoer – op die Tombola tafel.

 

Die mense het vir Wessie verskriklik jammer gekry. ¨Hy was altyd so ´n sensitiewe seun...¨ het die tannies gemince, ¨..eers sy pa se selfmoord en nou dit. Shame.¨ Selfs die katolieke priester van die dorp het kom kyk of hy nie dalk ´n paar duiwels uit haar kon skud nie. Maar na Wessie se ma hom aan al sewe en twintig van haar denkbeeldige vriendinne voorgestel het as Liberace en gesmeek het dat hy ietsie sing, is hy stert tussen die bene daar weg.

 

Deur al die chaos het Wessie net geglimlag en kort voor lank het hy die prokureurs laat kom. Hulle is by die deur begroet deur Wessie se ma, uitgevat in ´n oranje badkamer-matjie en absoluut niks anders nie, met ´n geesdriftige; ¨Since you been goooooooone!¨

Die prokureurs het voorgestel dat sy vir sielkundige evaluasie by een van die beste kop dokters in die land gaan sodat die hof haar onbevoeg kon verklaar.

 

Die dag toe hulle haar kom haal het Wessie se ma daarop aangedring om agterop die bakkie hospitaal toe te ry. Met ´n koninklike wuif het sy haar seun gegroet en net toe die bakkie wegtrek gil sy; ¨Sit die feedback af Bles, for fuck sakes...¨ Van ver het sy vir Wessie geskree; ¨Ek vlieg môre Mercurius toe jou klein mofgat, cheers!¨

 

Die volgende dag het Wessie ´n oproep van die hospitaal gekry; sy ma het verdwyn net na die evaluasie. Min geskeel het Wessie gesê dat hulle net die verslag moet deurfaks en hom nie pla met details nie. Soos die papier by die faksmasjien uitgerol het, het die wiel ook vir Wessie gedraai – ¨Geen opmerklike geestesversteuring, bloot joviale en soms eksentrieke gedrag¨.

 

Die lettertjies het skaars die kleur van Wessie se gesig gewas toe sy selfoon lui. Dit was sy ma se bankier; Wessie en sy houvrou moes onmiddellik uit die huis padgee aangesien dit reeds verkoop is. Die opbrengs sal na Switserland gestuur word waar die res van die fortuin toe al lankal rente takkies groei. Wessie het na sy ma se kamer gestorm. In haar hangkas het hy ´n hele sak vol Ecstasy gekry met ´n briefie; ¨My geskenkie aan jou – jy gaan dit nodig hê.¨

 

So het Wessie daardie dag geleer hoe Slim sy baas vang, waar Dawid die wortels gegrawe het, presies hoe vinnig ´n koeël deur die kerk kan trek en dat die appel soms ook maar ver van die boom val.

 

 

En as jy ooit die voorreg het om in die suide van Frankryk te toer, gaan loer bietjie in by ´n wyn plasie naby Périgueux met die naam Le Moutian Clair. Die eienares is ´n eksentrieke ou dame wat mal is oor sing en verbasend goed Afrikaans praat.

 

 

Die Wit Rus