Die volgende generasie se lou bestaan


Ek staan vanmiddag weer in die sentrum wat se naam rym met enlyn, bitter naby aan trane. Ek weet nie waar is my bakkie nie. Ek weet nie waar is die Cape Union Mart nie. Ek is alleen in ´n oerwoud van engelssprekendes en kranse van glas. Parfuum dryf soos die oorblyfsels van chemiese wapens tusen die glans van hierdie doolhof se gange – die stil getuie van ´n bose plan om elke laaste sent uit styfgetrekte tannies se sakke te tap. Die demoniese winkelpoppe hou my dop waar ook al ek gaan ... ek is seker een het nou net beweeg. Moedeloos staar ek af in ´n mensgemaakte kloof uitgeteël met die posters van honger vroue in bikini´s.

As ´n laaste uitweg, net voor ek my oor die reling gooi uit pure frustrasie, beken ek; ek is die swakste skakel, ek wil ´n vriend bel. ¨Verduidelik my net tot by die CNA,¨ pleit ek. Tien meter, ´n links en later ´n regs glim die rooi letters vertroosend voor my. Ek gryp na die eerste boek oor die Wildtuin. Dankie tog - ´n Kameeldoring boom, twee bladsye later die mooiste Luiperd en hier agterop ´n tamaai Flapoor. Rustigheid vou my toe soos die klein geel kombersie wat ek as kind gehad het. Ek hoor vêr ´n Piet-my-vrou na sy maat soek, die brul van ´n Leeu tussen Buffelgras. Uiteindelik kan ek weer dink. My senuwees gekalmeer begin ek ´n uitgang soek, enigeen, net solank ek buite kan kom om te sien waar oos is. Soos ek deur die mense woel en stoei besef ek die woorde van Buckfever Underground is waar; ¨Die volk is in die kak¨.

Voor elke ontwerpers-winkel slenter die kinders doelloos rond, zombi´s wat net na Mammon luister. En wonder bo wonder praat Mammon Afrikaans.

Dogtertjies wat nog moet pop speel wys meer vel as Chris Chameleon by ´n Boo! konsert. Die neusies en oortjies deurboor deur die blink skrapnel van ´n promiskuïteit-bom wat onverwags onder hul Hello-Kitty hemelbeddens ontplof het.

Die lighties se broeke bly bo met hel se genade, sarkasme trek diep lyne om hulle geelgerookte tande.

Waar is die boelies heen wat in my tyd so ´n ou op sy moer sou gee?

Kry sy boude nie koud nie - dis dan winter?

Het ´n jags Vrieskoei sy hare so na die kant toe gelek?

Weet hy wat is ´n Vrieskoei?

Die hartseerste ding wat ek deur die loop van hierdie kultuurskok opmerk is hierdie kinders se dooie oë. Die vensters na hulle siel is vuil en toegewasem. Die glans van ´n kampvuur knetter nie meer in hul harte nie. Die moedeloosheid, laksheid en letargie van hulle besige ouers, die verwerping van ´n volk deur ´n hele nasie, het ´n groot tol geëis;



Slenter-slap-slordig staan hy tussen die gierige winkeltrosse, sy labels is sy rots

die poppe agter glas wat rande lok, net so dood soos sy trots

Met onbeperkte vryheid betaal hy die vriendskap wat hom dien

donkerbril op die kop het nog net sterlig gesien

Hy is die lankverlore seun van Potgieter, Pretorius en De la Rey

dink dis normaal om vrede en aalmoese verniet te kry

Hy weet nie hoe lyk ´n Sanna of ´n ossewa

hy weet nie wie was ons helde, nog nooit ´n R1 gedra

Sy pa se geld brand in sy sak – sy enigste vlam van respek

dieselfde vlam wat later smeul in die bottel se nek

Getrip met ´n geverfde fishnet aan die sy

het hy vergeet die glorie van sy volk is verby


Gaan spoel die arrogansie uit jou hare en trek op jou broek

betaal jou slawe met respek, soek die boer wat in jou hart roep

Jy´s ´n afrikaner, ´n trekker, ´n verkenner van formaat

besef dit net en weet, daar is mense wat jou sal haat

Vir die dinge waarvoor jy opstaan sal jy moet veg

dis moeilik as die reëlmakers verkeerd is en jy is reg


Die Wit Rus