*

Ek wil graag ´n weird ding met julle deel wat so nou en dan met my gebeur. Ek skryf partykeer aan ´n storie en uit nêrens oorval ´n stortvloed woorde my, partykeer te veel om vinnig genoeg op die rekenaar vas te lê. Na so paar minute van heidense getik, kyk ek dan op en daar staan die gedagtes wat ek in die agterkamertjie van my brein opsluit (meestal oor die skoner geslag) voor my op die skerm. Uiters onheilspellend. Herr Freud sal seker ´n mondvol te sê gehad het hieroor want dis verseker niks soos my ¨gewone¨ skryfwerk nie, kyk maar na my kleuterskool-agtige gedig vir Nina Swart. Ek het besluit om vandag s´n maar vir julle wys. As dieselfde met jou gebeur e-mail my, miskien kan ons ´n teorie vorm.



Vergeet jy nog?


Het gisteraand weer oor jou gedroom.

Met jou ligte hare wat saggies waai in die wind.

Jou oë het regdeur my gekyk, die donker randjies om die blou het my laat ril.

Jy´t my hand gevat en saammet my gestap na ´n droë pan, waar dooie Wilgers staan en huil

en ou stompe silhoeëtmonsters in die donker maak.


Jy´t met die water gepraat en die wêreld het begin blom.

Die donker het gaan lê agter die ruwwe punte van Rotsberg.

Die skyn het my gesig gestreel.

Die meer het blou geskitter met die uitbundigheid van lewe.


Maar toe ek omkyk was jy weg, jy´t jou rug gedraai en na die donker gegaan.

Gaan dans met die duiwels van Dooievlei, gaan vuif met die engele van die vuur.

Ek het jou probeer volg op die koue kronkelpad, deur moerasse van hartseer en verlange.

Maar toe ek jou kry het jy my verskel, my weggestamp, my weggedryf.

Maar ek het gebly, geskuil agter die geel swaelwolke van die vuur

gesien hoe jy Hulle geniet, gesien hoe gelukkig Hy jou maak.


Ek het jou daar gelaat tussen jou geluk, my eie ook vir jou daar gelos

gedrentel tot ek weer langs die blou meer was.

Maar dit was dood.


´n Deel van my siel het daar rondgedwaal en bly nogsteeds daar.

En as die wolwe teen die dooie bas krap.

Hul tande teen die bene van lank vergete liefhê slyp, voel ek sy bang, sy angs, sy kwaad.


Ek verraai myself vanaf daardie eeu telkens met ´n soen.

Die haan in my gewete kraai met die opkoms van die sekelsonde.

Weer en weer probeer ek my verdwaalde self teruglok, maar hy wíl daar bly, al maak die donker hom mal, die alleen hom siek, sal hy vir altyd bly hoop dat jy terugkom en met die water praat, die lag weer aan die takke laat groei, die donker stompe huisies maak vir geluk en vrede en omgee.





Die Wit Rus