Venster


Sartre en Nietsze drentel weer vandag in die konkels van my brein

jou dansies, dans, huppel, buig, om die wandelaars

jou oë verander van kleur onder hul voete

Twyfel fluister vir my vrae - of iets groter bestaan wat kaart speel vir Pandora se diamante

´n kruis hang onderstebo in my bors


Sand vloei deur die strikke van jou lyf – sê die tyd vloei uit

uit na leemtes gehou in opgewonde pakkies tusen mane en planete donker jare van hier

Ego eet my geduld, kolk dit weg met blou sikkels spyt

wakker, wakker, herhaal en rol wakker, droom die sand weer terug na bo

terug na glo, terug na die trompet wat huil buite die muur om jou siel


Tyd se verniel hap na my

Soek help my tussen die Jakaranda´s

systap die angels vol verstoot


Skadu´s terg my oor die gesmelte skakel in my voorneme

dans teen die muur sonder ´n vuur, vuur wat net vir my nie

bestaan

net skraps op die fyn wit haartjies wat skaam groei op my skatkis

my kis wat nie wil oop, of toe, besluiteloos, sonder en met grendel


Jy lag agter die sluier van telefoondrade en hoogspanningsdrade

vol krag getap uit ´n bodemlose put gevul met die bloed van dienaars

slawe van martel wat vlug en terugkeer, vlieg en val, hardloop en sink

Gee my ´n braambos om te blameer, om in twee te skeur sodat ek kan vergewe


Gaan haal Cupid uit die hoerhuis, doop hom Eensaam en hang hom

Om wie se nek kan ek nog die skuld-knoop hang, dis te swaar vir jou

Deur wie se oë kan ek kyk om te sien die engel in jou is nog daar

Die venster van geleentheid lê gebreek en stil

en skitter in die maan


Wie se vlerke kan ek leen om by jou te gaan kuier

sonder hierdie lyf

hierdie gesig

hierdie stem


Sodat ek kan


praat met die wind

vluister met ´n wolk

raak sonder voel



Die Wit Rus