Glim bliksem, glim
Dit wil vir my voorkom of Suid-Afrika bitterlik vinnig besig is om net so behep met beroeps veiligheid te raak as Brittanje. Oral sien ek mense met hi-vis jakkies aan wat blink genoeg is om van Mir gesien te word. In Afrikaans noem ons sulke jakkies “glim baadjies” maar vir die doel van die skrywe sal ek dit hi-vis noem, dit sê net baie lekkerder en klink vreeslik cool – HI-VIZZZ.
En ek dink dis waar een van die probleme met die skielike gewildheid van díe baadjies lê. Oral sien jy vreeslike lae drie liter Cortinas met een of ander hi-vis baadjie oor die passasier sitplek gedrapeer. Party van hierdie karre het selfs flitsende geel ligte op die dak wat NOOIT afgeskakel word nie. Ek kan die gesprek indink as Stoffel die oggend êrens in die noorde sy vuurwa beklim; “Ag my tong, bring vir pappa sy HI-ViZZZ jacket daar langs die sambok by die agterdeur.” Natuurlik word die geel lig dan ‘n laaste keer blink gevryf, van die huis se mians ontkoppel (want dit moet deur die nag ook op die kar se dak draai – dis kief) en dan spin Stoffel R600 rand van sy bande af site se kant toe. Wil hierdie mense voorgee hulle is spietkops? Ek dink so, waarom anders wil jy jou hi-vis uitstal soos die Shroud of Turin? Blikkies, as een van jou grootste aspirasies is om soos ‘n spietkop te lyk moet jy miskien die Cane neersit en diep oor jo bestaan gaan nadink.
Dit bring my terug na beroeps veiligheid. Sien, dis daardie woordjie wat hierdie vloed van produkte wat ontwerp is om almal meer sigbaar te maak aan Suid-Afrikaners bekend gestel het. Volgens beroeps veiligheid moet almal so sigbaar moontlik wees, maak nou nie saak hoe dik of stink jy is nie. Jy moet glim stroke dwars oor jou pens geplak hê, om die punte van jou arms (sodat almal kan sien waar jou lyf eindig) en as jy vir jou ’n hardhat gaan koop, omdat jy patties braai by McDonalds en nie sonder dit mag werk nie, moet die hoed wit of kanarie geel wees.
Wanneer het die mense van ons land hulle sig begin verloor? As jy nie die 300 kg pakhuis bestuurder voor die forklift kan sien nie is jy die probleem, nie hý omdat hy nie sy hi-vis aan het nie.
Dit laat my wonder of die mense wat beroeps veiligheid so streng toepas dit nie doen oor suiwer finansiële redes nie – ‘n baadjie is sekerlik goedkoper as ‘n bril.
Natuurlik het Beroepsveiligheid ook ‘n ander finansiële kant – regs gedinge. In die ou dae, as jy jou toon gestamp het by die werk, het jy ‘n Disprin gedrink, ‘n pleister op geplak en vêrder gewerk. As dit deesdae gebeur word jy vir ses weke gehospitaliseer. ‘n Eis vir verlies van inkomste, crimen injuria, kwaadwillige saakbeskadiging (jou linker crock is gekrap) en pyn en lyding teen die maatskappy ingestel. ‘n Kommissie van ondersoek word ook gestig om te bepaal waarom die betrokke trap nie ‘n hi-vis baadjie aangehad het nie – want sien, die trap was net nie sigbaar genoeg nie. Dan sal die werkers die ses weke wat hulle gevalle kameraad in die hospitaal is hulle tyd buite die besigheid deurbring met plakkate en vuvuselas terwyl hulle ‘n struggle lied sing. Die maatskappy sal dan as gevolg van al sy verliese sy deure moet sluit en nie die ou wat sy toon gestamp het, of die vier honderd stakers sal ooit ‘n sent sien nie. En ons almal weet natuurlik wie vir hierdie gemors verantwoordelik is – die direkteure wat nie hulle hi-vis in vergaderings dra nie – corporate bastards!
Ek meen, waar gaan dit eindig. Ek verstaan dat mens ongelukke in die werk plek moet voorkom, maar ons het ‘n hele land met moerse brûe, vreeslike lang paaie en majestueuse geboue opgerig sonder dat almal met hoë sigbaarheid foelie toegedraai was.
Hierdie hipotese dat absoluut niemand, nêrens MAG seerkry nie word nou selfs op kinders afgedwing. Hulle mag nie meer geslaan word op skool nie, hulle mag nie swaar tasse dra nie, mag nie aan lood basis verf lek nie en ook nie fiets ry sonder om soos ‘n Power Ranger te lyk nie. Waar is die pret daarin?
Dit gaan nie lank wees nie – hoor my lied – dan gaan die bloedjies gedwing word om in hi-vis skool toe te gaan. Sport gaan heeltemal afgeskaf word, hulle sal volgens wet in bubble-wrap toegedraai moet word elk keer voor hulle in ‘n kar klim en as hulle verkoue kry sal hulle ouers agter die polisiestasie geskiet word vir kinder mishandeling. Met regte ammunisie – rubber koeëls lei tot beserings.
Ek het gevolglik baie slegte nuus vir Specsavers; julle besigheid is op pad uit. Met almal wat so sigbaar is gaan niemand meer brille nodig hê nie. Behalwe as hulle net sonbrille begin verkoop is daar nie hoop nie. Maak net seker die brille het hi-vis stroke op al die skerp punte – iemand kan ‘n oog verloor.
Die Wit Rus