My boodskap aan die Borspersone op Valentynsdag
Geagte Eva / Medusa / Delilha (of met wie ookal jy identifiseer)
Wat verwag julle, die prima facie skoner geslag, van ons blote sterflikes (of die beter engelse term - mere mortals)? Ek verwys nou na die manlike spesie, die stuk vleis wie se rib jou alfa was. Ek wil graag aan julle ´n paar vrae stel. Antwoord dit vir jouself en doen ´n bietjie introspeksie. Ek skryf hierdie spesiaal op Valentysndag. Die dag wat ons, bedwelm met rooi harte, peperduur parfuum en onbekostigbare robyne, gedwing word om reuse bedrae geld op die altaar van beborste aanmatigheid te brand.
Moet ons deure vir julle oopmaak omdat dit goeie maniere is? Of moet ons julle dit self laat doen omdat julle ¨mos hande gekry het¨ en ¨nie heeltemal hulpeloos is sonder ´n groot en sterk man nie.¨ (lig jou hande, palms voorentoe en rol jou oë as jy bogenoemde sê)
Wanneer is die regte tyd vir die eerste soen? Sien, volgens my is daar ´n onsigbare ¨window of opportunity¨ wat dag na dag verskuif en van vrou tot vrou verskil. Een minuut te vroeg en jy´s ´n vatterige seksbehepte skisofreen wat op die teerheid van vroulike barmhartigheid parasiteer. Een minuut te laat en jy stel nie regtig belang nie, ¨jou onromantiese kretin¨.
Julle beweer dat julle nie in geld of status belangstel as dit kom by verhoudings nie. In dieselfde asem dring julle aan op ´n ewig-vloeiende stroom aalmoese. O ja, ons mans weet wat beteken; ¨ag, dis oraait¨ (met ´n opgetrekte neus) as julle nie daardie ring in die venster kry nie. Ek weet nie of julle dit al agtergekom het nie, maar mens betaal vir al die kere wat jy daai plastiek dingietjie deur die gleufie trek.
Mag mens nou voor julle vloek of nie? Net gister sit ek by ´n tafel oorkant ´n ou wat nou al dertig keer die p-woord gebruik het terwyl die vroumense simpel van die lus vir sy groot arms loer. Wel in daai geval; fokken lekker man, kom ons gaan fok ´n paar biere terug en moer die bottels teen ons koppe stukkend - Fok ja!
Hou julle daarvan as ouens julle oë toe-moer? Ek het nog nooit en sal ook nooit, my hande vir ´n vrou lig nie. En dit is hoekom ek nooit ´n ordentlike meisie sal kry nie. Ek kan nie verstaan dat minstens drie vrouens waarvan ek weet, mal verlief is op ouens wat hulle rondmoer nie. En as jy hulle vra waar die ou bly dat jy ´n ding kan gaan dôner - ¨nee, ek is lief vir hom, hy´s eintlik ´n goeie ou¨. Kak! .... Kak! Kak! Kak! - Het ek nou genoeg gevloek dat jy sal luister? Sulke ouens is die grootste etters op aarde, hy´t nie ´n goeie hart nie, hy gaan nie deur ´n moeilike tyd nie, hy´s nie lief vir jou nie. Hy is ´n selfsugtige, inhalige persoon wat te slapgat is om vir homself in konfrontasies met mense van sy eie portuur op te staan en haal dit dan op jou uit. Daar is soveel opregte deugsame ouens in die wêreld, maar julle het so ´n groot hangup met die ¨reël¨ dat die ou die eerste move moet maak, dat julle altyd die bombastiese, sosiaal agresiewe ouens raaksien.
Op watter punt gaan ´n ou wat te min balangstel oor na stalker-status? Is daar, of was daar ooit, ´n ou wat net die regte hoeveelheid belang gestel het. Hoe breed is die lyn tussen absoluut romanties letargies wees en krimineel obsesiewe gedrag? Is daar ´n handleiding met glyskale en formules wat bepaal of drie sms´e, ´n bos van tien rose en ´n telefoon-oproep per dag aanvaarbaar is, maar sodra jy die bos van tien rose na twaalf verander, jy te desperaat is vir enige betekenisvolle verhouding?
Hoe kan dit wees dat as ´n ou een van die tien miljoen verhouding-reëls oortree, misinterpreteer of bloot onbewus daarvolgens optree, enige toekomstige toenadering met daardie persoon taboe word vir altyd. Sê nou net daar is regtig net een persoon in die wêreld wat jy werklik innig, sonder twyfel of voorwaarde kan liefhê? Word julle rigiede spelpatroon van die liefdes-skaakspel nie ´n bietjie gevaarlik nie. Onthou net dit; hoe harder die pionne val, hoe groter raak die kraak in die skaakbord.
Die Wit Rus