Die tonnelvisie epidemie


Ek het eendag lank gelede met ‘n selferkende kretin gepraat. Die persoon het aan my erken dat hy geen belangstelling het in enigeiets wat nie op M-tv of een of ander breindood program soos Idols verskyn nie. Hy het my so die moer in gemaak dat ek erg intellektueel begin nadink het oor algemeene kennis. Die volgende is die produk van ‘n heidense geblaai deur ‘n woordeboek en een bottel Nederburg Pinotage;


Dit gebeur so dikwel dat geklikheid seëvier oor basiese algemene intelligensie. Die afwesigheid van kennis en standaarde wat ‘n beskaafde samelewing moontlik maak weerklink daagliks tussen die bladsye van elke koerant. Ek rig die volgende paar woorde aan al die mense wat dink algemene kennis is vir die intelektualistiese elite wat hulle dae en nagte spandeer tussen mure vol boeke met hulle neuse in een of ander fisika boek. Te veel keer het ek al agter gekom dat mense net te min belangstel om meer uit te vind oor die aangeleenthede wat rondom hulle gebeur maar hulle nie direk raak nie.


Ons as moderne mense het ‘n wonderlike bron van inligting in die internet en tog stel soveel mense wat toegang daartoe het, ook nie eers daarin belang nie. Beskaafdheid is gesetel in die kennis en ervaring van elke lid van die samelewing en dit is alombekend dat die mens ‘n ingebore neiging tot emulasie het. Wie weet wat sal gebeur as meer mense na kennis, eerder as selfsug begin hunker? Is daar dalk ‘n kans dat ons stadig maar seker ‘n kultuur kan skep waarin mense sal verstaan dat beskaafdheid deur intelligensie groei en nie deur rykdom nie. En dat kennis sy eie rykdom inhou?


Wetenskaplike toetse het bewys dat die gewone Homo-erectus nie dood sal neerslaan as hy ‘n boek oopmaak of ‘n koerant lees, in ‘n poging om sy oogklappe af te skud nie. Meeste Suid-Afrikaners weet te min, omdat hulle te min wil weet. Ek kan hulle ook nie kwalik neem as gekyk word na die huidige wêreldtendens van diefstal en tereur nie. Die wonderlike ding van kennis is egter dat jy kan kies van waar jy dit kry. Selfs ‘n roman of ‘n kort storieboek kan jou iets leer wat jou die res van jou lewe sal bybly. Dit kan jou woordeskat verbeter en die kennis wat jy opdoen mag jouselfs eendag help om een of ander struikelblok in jou lewe te oorkom.


Om saam te vat;

Mense-kennis en kennis van algemene of gespesialiseerde aard, is iets wat niemand by jou kan steel nie. So iets is nie net skaars nie, maar goud werd in hierdie versteurde land van ons.




Die Wit Rus