Suzi van Tosca
Suzi het dit besef die dag toe sy destyds ´n storie
oor Trechikov in die Sarie gelees het; Dis
oraait om kommin te wees. Sy het die drie porselein eendjies uit die
garage gaan haal en weer teen die muur in die sitkamer vas gespyker. Haar Lance
James poster is weer agter die toilet se deur geplak en sy het ´n paar
pienk flaminke stewig op die lawn voor die huis gaan indruk. Daarna het
sy vyf bakke, elkeen met ´n goudgeel vis in, gaan koop en dit om die
hi-fi rangskik. Na sy haar Cortina so paar keer lekker geref het,
is sy met bande wat skree Checkers toe - ´n kop vol krullers en ´n Lexington in
die hand.
Ongelukkig was Suzi se bevryding van korte
duur. Net drie dae daarna, terwyl sy till geslaan het by die koöperasie
op die dorp, tref ´n bloedklont haar tussen die brein lobbe en sy word die heel
slimste vrou in die hele wêreld. Party mense het vas geglo sy is deur die
dwergies in haar tuin getoor maar meeste was nie te vinde vir sulke
onbenulligheid nie. Wat ook al die mense gesê het, oor een ding kon hulle nie
stry nie; Suzi was regtig baie slim. Sy kon die geen kode van elke stoet-bees in
die land onthou, grondmonsters ontleed deur slegs daaraan te proe en het selfs
altyd onthou om haar vuurwa se olie en water te laat check.
Die mense het skielik gaande geraak oor Suzi.
Die Griek van die kafee het selfs ´n burger na haar vernoem. En Tannie Tert van
die tuisnywerheid het vir ´n jaar lank niks anders as ´n Suzi roomys koek vir
kinder partytjies gemaak nie. So het Suzi ook toe maar honger geword vir meer
kennis en die burgemeester gevra om vir haar ´n rekenaar met internet te koop,
omdat sy die dorp op die kaart gesit het. So gesê, so gedaan en kort voor lank
het Suzi die binêre tsunami van inligting gesurf soos ´n gerookte kuns
student.
Maar soos enige man wie se vrou te veel Oprah
kyk sal weet, is te veel kennis in die verkeerde brein nie altyd goed nie. Sien,
Suzi het begin rondkrap in die CIA se diepste geheime. Enige wagwoord was vir
haar kinderspeletjies om te kraak. Sy het uitgevind daar is regtig groen
space mannetjies maar dat hulle eintlik baie vriendelik is en van glimlag
lewe. Nie kos nie, nie water nie, net glimlag. Die mannetjies het besluit om
nooit weer aarde toe te kom nie na hulle een keer per ongeluk 7de Laan gekyk het
en vir Madel Terreblanche gesien het. Die helfte van die ekspedisie is
onmiddellik dood.
Sy het ook ontdek dat Kennedy se vrou hom laat
skiet het omdat hy haar verjaarsdag vergeet het. Hoe meer Suzi gekrap het, hoe
meer wou sy weet. Dit het so erg geraak dat sy vrede gemaak het met die feit dat
die Amerikaners haar gaan vang en nie eers probeer het om hulle te vermy nie.
Solank sy nog net ietsie kon uitvis.
Een middag net na Noot-vir-Noot het hulle haar
kom haal en weggevat na Langley waar hulle die aller vreeslikste toetse op haar
gedoen het. Behalwe vir die toetse het hulle haar nog gemartel ook - sy moes vir
ure lank episodes van Barney the dinosaur kyk en heeltyd na James Blunt luister.
Hulle het haar selfs eenkeer met ´n pistool teen die kop gedwing om vir ´n uur
lank na ´n foto van Marthinus van Schalkwyk te kyk. Gelukkig is dit gestaak toe
sy hulle begin smeek het om haar liewer te skiet. Nie eers Bono wou ingryp om
haar lyding te stop nie (In sy verdediging; hy het nie van die Marthinus van
Schalkwyk ding geweet nie). Die elfde dag van hierdie beproewing strip sy toe
haar moer, dink ´n gat in haar sel se muur en ontsnap.
Vir lank is daar niks van Suzi gehoor nie. Tot
die dag wat die haat ´n krater in haar hart gevreet het en sy haar meesterplan
uitgevoer het. Ja vriende, 11 September 2001 se chaos was Suzi se manier om die
VSA te straf vir wat hulle aan haar gedoen het.
So daar het julle dit, die geheim is uit –
Osama Bin Laden is in werklikheid Suzi Mouton van Tosca net duskant Bray in
Noord-Wes. Ek weet dit klink vêrgesog, maar kyk maar; die grot waarin hulle haar
eendag gaan kry sal dwergies voor die ingang hê en drie porselein eende wat
êrens in gelid vlieg.
Die Wit Rus