Ongemaklike stiltes
Ek sit nou die dag saam met ´n pêl in my bakkie oppad Sodwana toe, vir twee ure uit die ses is dit tjoepstil, salig, vreedsaam. Ek kry tyd om oor lief en leed te dink, oor Vincent se Starry night wat êrens oor die water hang ... en in my hart. Ek reis deur die Skotland en verbeel my die grasvlaktes om ons was eens op ´n tyd Wallace se oorlogsgronde. Langenhoven fluister een van sy spreuke in my oor. Man, nou het ek weer krag na die stad my amper verwurg het, nou is ek reg vir vakansie!
Ook nie te lank terug nie sit ek saam met ´n vriendin in die bakkie oppad plaas toe. Dit raak weer so tjoepstil; ek klim op die Queen Elizabeth oppad na die oudhede van Europa...
¨hoekom is jy so stil?¨, krap ´n plaat hier langs my.
¨Ek weet nie, ek dink maar net¨, sê ek in die rustigste stemtoon wat ek kan, klim by die Louvre se trappe af, ruik Louis die 14de se minnaresse se soet parfuum..
¨Waaroor dink jy?¨, scratch DJ Ira weer die plaat hier langs my oor.
¨Sommer maar net oor goed, ek kan dit nie regtig verduidelik nie.¨
Sien my vriendin se onderlippie begin bewe;
¨Ek het geweet jy´s kwaad vir my oor die ander aand...¨
Ek was regtig nie vir haar kwaad nie, ek kan ook nie onthou dat ek oor enigiets móét kwaad wees nie;
¨Nee man, waaroor sal ek nou vir jou kwaad wees?¨
¨Toemaar ek kan sien jy wil nie met my praat nie, los dit net.¨
Ek dink; wel fokken fine dan, terug na my dagdroom; om een of ander rede het die trappe van die Louvre na die afgrond voor Dante se Inverno verander, ek sukkel teen die klippe af en kyk; daar´s Paradiso en vêr agter waai Beatrice, sy wuif my nader en skree; ¨Jy hoef nie so kortaf met my te wees nie, dit is nie so ´n groot deal nie.¨
¨Wat de fok¨, dink ek perongeluk hardop. Oops, verkeerde woordkeuse. Langs my het iemand die Angel falls se krane wawyd oop gedraai – dis net snikke en snot;
¨Ek wou maar net vir jou ´n rustige shooter koop, ek het nie geweet dit gaan so sleg wees nie.¨
Nee, het nog steeds nie ´n clue waarvan sy praat nie, maar trane maak my vreeslik senuagtig, dis nou tyd om sensitief te wees;
¨Ek is regtig nie kwaad met jou nie, ek´s flippen jammer ek was so kortaf, ek het dit regtig nie bedoel nie, is jy oukei?¨ Die onderlip het ophou bewe maar die snot sit nog dik op die wang;
¨Oukei, ek´s net bly jy´t my vergewe.¨
Vergewe vir wat weet ek tot vandag toe nie, het ek ooit gesê ek vergewe haar? Miskien moes ek kwaad wees vir haar, wie weet, wie gee om, van nou af maak ek maar of ek luister terwyl ek die piramides verken. Al dwalende tussen die katakombes met ´n draaiorreltjie onder my arm;
¨Haai kyk die swart en wit beesies wat noem mens hulle nou weer het ek jou al vertel my tannie het so een gehad met ´n keep in een oor toe noem hulle haar blommetjie snaakse naam vir ´n bees né anyway die beesie het eendag....................................................................¨
Mense, stiltes is daar vir ´n rede. Ek weet nie hoekom is almal verslaaf daaraan om onbenullige kak kwyt te raak net om die ongemaklikheid te verdryf nie. Die goed wat jy sê om sulke stiltes te vul laat jou gewoonlik soos ´n totale idioot klink.
In Quentin se woorde:
¨That's when you know you've found somebody special. When you can just shut the fuck up for a minute and comfortably enjoy the silence.¨ - Mia in Pulp Fiction
Die Wit Rus