Prinses Kaaskrul


In die koninkryk van tchoP het eenmaal ´n pragtige prinses gewoon – prinses Kaaskrul. Sy was die dogter van koning Kaas en koningin Krul en hulle het saam in ´n massiewe paleis reg langs die donker Avokado-woud gewoon.


Soos enige prinses was prinses Kaaskrul vreeslik alleen. Haar enigste vriendin was Koekie Krummel, wat haar eintlik moes oppas en leer om soos ´n ware prinses op te tree. Die prinses en Koekie het vir ure in die groot tuine rondom die paleis gepraat oor lande vêr verby die Avokado-woud en al die wonderlike plante in die tuin bestudeer. Plante soos gespikkelde Eerbieders wat buig as koninklikes verby loop, helder oranje Kleursnotters wat jou so ´n paar reënbogies laat nies as jy die stuifmeel ruik en selfs skaars Spooktulp-bosse wat net sigbaar word as jy per ongeluk daaraan raak.


Prinses Kaaskrul het ´n wonderlike gawe ontvang waarvan net die koning en die groen koninklike fee, Absinthia, geweet het; Daar was ´n reuse kamer diep onder die paleis wat, met die prinses se geboorte, deur die Bibber-engel van die westewind getoor was. In hierdie kamer was daar duisende veer-penne, potte vol ink en tamaai rolle perkament. En in die aand as prinses Kaaskrul geslaap het, het daardie penne elke droom wat sy gehad het neergeskryf. Stories van helde op die betowerende wit perde van Rusland, sprokies van belaglike gediertes wat onder die see bly en selfs nagmerries van die bloeddorstige Likkepikkeakkestruisvoëls en die gevaarlike Giftandrotte wat diep in die Avokado-woud skuil. Die koning en die fee het besluit om hierdie kamer ´n geheim te hou (selfs vir die prinses) omdat hulle geglo het dat geen persoon in die koninkryk na ´n getoorde koningin sou luister nie – die prinses was immers die volgende troonopvolger.



Eendag besluit die koning toe dat dit tyd is dat die prinses haar mense moet ontmoet. So is prinses Kaaskrul en koning Kaas op ´n warm Slakdagmiddag by die paleis se hekke uit met hul silver koets getrek deur ´n volwasse Adrenalienbekruiperbos. Díe energieke bekruipers word van kleins af bespuit met kreatien en was vinniger as enige slerd in die hele koningkryk. Om te stop moes die drywer net so ´n bietjie peper oor die bos se agterkant sprinkel en dit dan anker voor dit ophou nies en weer begin kruip. Om regs te draai moes hy ´n skêr aan die linkerkant in die lug snipper en aan die regterkant om links te draai – vreeslike bang bos.


Die koninklike koets is in die loop van ´n week deur ´n groot deel van die ryk en die prinses het vreeslik lief geword vir haar mense. Sy was nog nooit uit die paleis nie en was verbaas hoeveel liewe mense geskenke vir haar gegee het. Die koning het groot bankette in elke dorpie gehou en almal genooi. Toe die prinses uiteindelik by die paleis terugkom was sy trots op haar ryk en kon nie meer wag om koningin te word nie. Sy´t in alle erns begin om alles wat daar oor regeer te wete is, te bestudeer.


´n Jaar na die prinses se besoek het slegte nuus van een van die verste dorpe gekom - die Lektorianers het die koninkryk aangeval en was oppad paleis toe om die heerskappy oor te neem. Al die lande om die koninkryk van tcjoP was versigtig om oorlog met die ryk te maak omdat hulle bang was vir al die snaakse en gevaarlike diere wat daar voorkom. Maar die bose prins Zaum van Lektorië het nog altyd gedink dis bogstories. Net na sy pa gesterf het, het hy die opdrag gegee dat tcjoP aangeval moet word.


Die koninkryk was in chaos. Niemand het geweet hoe om oorlog te voer nie. Die koning het vir Absentia beveel om prinses Kaaskrul so vêr as moontlik in die Avokado-woud in te neem sodat die Lektorianers haar nie kon vang nie. Hy sou ´n boodskap stuur as die invallers weg is.

Die boodskap het nooit gekom nie.

Na baie koue dae en baie bang aande het die prinses en Absentia besluit om terug te keer paleis toe, die woud was net te gevaarlik en hulle was byna dood van die honger.


Toe die prinses die paleis sien het sy inmekaar gesak – die hele plek was tot op die grond afgebrand, selfs die tuin, en tussen die as het almal waarvoor sy lief was se lyke gelê. Daar was geen teken van die Lektorianers nie. Oral vanuit die donker woud het mense begin nader loop. Die prinses het besef dat hulle huise ook geplunder is en dat hulle nou vir haar gaan vra wat om te doen. Na die koning en koningin tot ruste gelê is het Absinthia vir al die mense wat om die paleis se puin rondgedwaal het gesê om net daar te wag todat die prinses ¨met haar oorlogs-raad vergader het¨, daarna sou sy hulle toespreek. Die fee het prinses Kaaskrul aan die hand gevat en haar weg van die mense begin lei. Die prinses kon nie glo dat Absinthia so vir die mense kon lieg nie, sy het goed geweet dat daar geen ¨oorlogs-raad¨ was nie. Absinthia het die prinses tot by die begin van die donker woud gelei en ´n groot, plat klip opgetel. Onder die klip was daar ´n dun skag met trappe wat diep die grond in lei. Sonder om te huiwer het die prinses die trappe na benede begin klim, sy was hoeka lus om onder ´n klip te gaan wegkruip.


Na honderde trappe het die prinses voor ´n geroesde staal deur te staan gekom. Absinthia het haar staf gewikkel en die deur het stadig oopgeswaai. Binne was rakke en rakke vol perkament gepak, elke rak met sy eie opskrif; Monsters en magiese diere, Helde en prinse, Vreemde lande. Die rakke het so vêr langs mekaar die kamer ingegaan dat die prinses nie eers die einde daarvan in Absinthia se groen lig kon sien nie. Prinses Kaaskrul het ´n rol onder die opskrif ¨Avonture in die Avokado-woud¨ uitgetrek en begin lees. Dit was die wonderlikste verhaal van vreemde diere, hoe om hulle jou vriend te maak en hoe om hulle towerkragte te gebruik. Daarna het sy ´n storie gelees van vreemde uitvindsels soos vliegmasjiene en vuurstokke. Die prinses het soos sy verder gelees het alles onthou, al die plekke wat sy al in haar drome besoek het, al die dinge waarvan mense nog nooit gehoor het nie. En uit die duister van haar hartseer het daar ´n liggie van hoop begin flikker. Prinses Kaaskrul het vir Absinthia gesê om al die mense af te bring na die kamer – sy het ´n plan.


Vir die ystersmit en sy handlangers het sy gesê om al die rolle onder die opskrif ¨Masjiene van staal¨ te lees. Vir die kleremakers; ¨Reuse drake¨. Die beste sangers moes die rolle onder ¨Die betowering van woud-diere¨ gaan lees. So het elke persoon met ´n talent ´n klomp rolle gekry om te lees en kort voor lank het mense, een vir een, elkeen met ´n plan in hul oë by die trappe op gehardloop na buite. Omdat die Lektoriane vêr van die paleis gestry en baklei het wie die ryk van tchoP gaan regeer kon die mense in vrede planne beraam en wapentuig bou. ´n Week later was dit wat eens die paleis se majestueuse tuine was, oortrek van gevaarlike rotsrekke, reuse drake van lap wat onrusbarend eg gelyk het en eens bloeddorstige diere wat mak soos lammetjies getoor was deur geheime liedere.


Op die oggend van die agtste aand na die tchoPenaars begin bou het aan hulle oorlogs-masjiene, is die mal dokter van Groenwoud beveel om helder rooi vonke hoog die lug in geskiet uit sy swart pot – dít sou verseker die Lektorianers uitlok om te kom baklei. Daardie selfde middag het die vyand in hul duisende opgedaag. Prinses Kaaskrul het in die puin van haar paleis gestaan – stoksielalleen. Koning Zaum het kliphard gelag. Sy hele bataljon het nader geloop, hierdie prinses sou verseker op die brandstapel sterf. Toe Zaum skaars ´n paar meter van die prinses af was het die Avokado-woud begin brom. Dit het geklink soos ´n reuse swerm moordbye wat nader vlieg. En toe raak dit tjoepstil. Die Lektorianers kon die wind in hul ore hoor. Dit was ´n onheilspellende stilte. Selfs Koning Zaum het hoendervleis gekry. Van nêrens het Absinthia neergeswiep, Prinses Kaaskrul opgetel en die lug in geskiet. Die bome aan die rand van die bos het begin kraak en breek soos duisende mense met vreemde wapens, monsteragtige masjiene en afskuwelke gediertes nader storm. Hulle rotsrekke het brandende teer balle op die Lektorianers laat reën, vliegmasjiene het bakke vol reuse rooi oorkruipers op die vyand uitgekeer. Vir ´n paar minute was daar totale chaos en verblindende vrees in die lug. Reuse ¨drake¨ het nader gestorm en dis net toe wat die vyand besluit dis genoeg. Hulle het gevlug tot vêr oor hulle grens, sonder om terug te kyk.


Die storie van tchoP se demoniese diere en onverstaanbare oorlogs-masjiene het soos ´n swaelbosbrand versprei. Van heinde en verre het ander koningkryke geskenke gestuur met bang briewe wat hul lewenslange vriendskap met die koninkryk belowe.


Die koninkryk van tchoP is weer tot sy vorige glorie herstel met boumasjiene uit die koninklike perkament-biblioteek en koningin Kaaskrul is ingehuldig as die sowereine heerser van die ryk. Die biblioteek is daarna met groot sukses gebruik om siektes te genees en hongersnood en droogte heeltemal uit te wis.



Dit kom dalk onbelangrik vir jou voor, maar jou hoop en drome kan nie gesteel of geplunder word nie. En dit kan dalk net vir mense veel meer beteken as wat jy dink.



Die Wit Rus