Meer praktiese tegnologie asseblief


Tegnologie, die versinnebeelding van vooruitgang. Dit speel deesdae so ´n groot rol in ons lewe dat ons nie meer daarsonder kan nie. Verbeel jou ´n lewe sonder selfone, rekenaars of die Energizer-hasie. Daar word al karre gemaak wat ´n digitale hoesie aan die fabriek stuur as sy filters vuil is en trekkers wat ploeg sonder ´n drywer. Ek het selfs noudiedag tannie Laurika se nuwe cd by die rekenaar ingepop en sekondes later het een van haar musiekvideos begin speel. Dit alles maak ons lewens ´n bietjie lekkerder en ´n bietjie makliker. Daar is egter nogsteeds haakplekke in die lewe wat ek graag sal wil sien verdwyn in die volgende 10 jaar of so.


1.

Vat byvoorbeeld die spoeltoilet. Kyk, moenie my verkeerd verstaan nie, om binneshuis te kak is seker een van die grootste voordele van die moderne samelewing, die idee van ´n longdrop maak my uiters senuwee-agtig. Maar is dit nie dalk tyd dat ons die porselein telefoon ´n bietjie opgradeer nie. Ek dink nie ek is alleen as ek sê dat ´n ´post-bollie-launch-plons´ teen winterboude, vreeslik onwelkom is nie. Wat julle daaraan gaan doen weet ek nie, maar ek dink dis ´n goeie idee om dit die ¨Bollie-bommie-belemmeraar¨ te noem (BBB in kort). En hoekom het niemand nog ´n koel opwaartse windjie ingebou vir daardie Nando´s extra hot peri-peri hol nie. Maar nou genoeg kak gepraat.


2.

Daar is ook die taal-rubicon wat ´n groot probleem, veral in Suid-Afrika is. Kan iemand nie ´n draagbare vertalertjie ontwerp wat ´n persoon voor jou se woorde in jou eie taal omsit nie. En as jy hom omdraai kan jy Afrikaans praat en die vertalertjie praat Engels. Dink net hoe maklik sal ons lewens wees as ons nie alewig hoef te soek na die Engelse ekwivalent vir woorde soos dompelpomp, desnieteenstaande en poepol nie. Nooit sal daar weer vir ons Afrikaanses gelag word as ons sê; ¨ are you being having only twice bottle of Stonedrift, or is you have nog in the storeroom? ¨. Van drank gepraat, dit sal ook darrem handig wees as die vertalertjie dronk mense se gemompel in ´n regte taal kan omsit.


3.

Baie vooruitgang is al gemaak in die gebied van voedsel preservasie, maar het iemand al gedink dat dit nuttig kan wees om voedsel, maar veral druiwesap, vínniger te laat verouder. Fokkit, jy kan ´n bottel vol sap maak en ´n half uur later aan ´KWV-5jaar´ teug. En wat sal ´n ou brannewyntjie nou wees sonder ´n lekker stuk beesbiltong? ´n Rou stuk steak kan binne minute in billies verander. Nou dit, dames en here, is vooruitgang geïnspireer deur agteruitgang.


4.

Lees en sy produk, kennis, is ´n kosbare en integrale deel van vooruitgang. Ek was al partykeer net te moeg, of net te gatvol, om my koerant te lees. Dít, lei weer tot verlies van kennis. Wat ek voorstel om hierdie verlies van kennis stop te sit, is ´n masjientjie wat soos ´n bandspeler werk, maar wat slegs ´n rapsie meer as ´n koerant kos. Díe toestel ¨sê¨ dan vir jou die berigte een vir een en het ´n ´next´ knoppie waarmee jy van berig tot berig kan spring.


5.

En nou vir die ´piece d resistance´;

Ek weet die mense wat tegnologie onwikkel hou van ´n uitdaging. En die volgende voorgestelde toestel is nie alleen ´n moerse uitdaging nie, maar ´n juweel wat waarde tot die samelewing en ons alledaagse lewe kan voeg. Ons het almal al beleef hoe irriterend ´n blaffende hond, ´n skreeuende kind, ´n taxi toeter en ´n teemende vrou kan wees. Dit sal ´n seën wees as jy jou eie persoonlike ¨mute¨ koppie kan hê, wat selfs die irriterenste geluide kan uitkanselleer. Met die skiet van ´n onsigbare straal na die objek van jou irritasie sal jy lavenis vind (dit klink eintlik soos ´n goeie advertensie). Die knoppie sal net op jou eie gehoor werk. So die teemende vrou byvoorbeeld, sal dink jy luister terwyl jy eintlik wonder of jy die Arseen in haar koffie of oor haar Corn-flakes gaan gooi.



Nou toe, spring aan die werk mense. En as julle wil tou-opgee, dink net hoe lekker dit sal wees om met brannewyn en biltong op die bank te lê en ontspan, terwyl jou vrou dink sy kak jou uit, maar jy inderwaarheid na jou koerant luister.




Die Wit Rus