Pikkie du Preez
Die lewe is onregverdig. Ons almal weet dit;
Die zef ouens met die ghries onder die naels en 20up Fiela tekkies kry altyd die mooiste meisies.
Daar´s te veel lotto nommers.
Daardie godin van ´n waitress by Cynthias sal nooit van jou hou nie, maak nie saak hoeveel tip jy los nie.
Alkohol se betowerende effek op jou persoonlikheid hou ook net so lank.
As jy uiteindelik die moed bymekaarskraap om die meisie van jou drome uit te vat sal jy ´n monster puisie op die punt van jou neus kry, twee ure voor die tyd.
Minki het toe wragtig vir Greame teruggevat.
Britney Spears is preggies met daai vetterige steekmoer se kind.
Die persoon waarvoor jy lief is (alias ¨die een¨) voel net nie dieselfde nie – jammer hoor, probeer in ´n volgende leeftyd weer.
Petrol kos nou dieselfde as Coke per liter (regtig, gaan werk dit uit).
Mooi meisies is meeste van die tyd dom en die lelikes slim.
As jy uiteindelik al die geld bemekaar geskraap kry vir daardie SL65 AMG roadster sal jy te oud wees om dit te geniet.
Marthinus van Schalkwyk lewe nog en Zak het nog steeds nie vir Wilmien van Ysland af terug gebring nie.
En so kan ek ad infinitum aangaan. Dis genoeg om enige mens weemoediglik te laat grens.
As die lewe my so in die pitte skop is ek geneig om vieslike goed oor onskuldige mense te dink (of te sê) om myself te laat beter voel - dis die maklike uitweg. Ek sal byvoorbeeld dink; ¨Daardie waitress by Cynthias is nou wel oulik, maar ek is seker daardie voorskoot steek ´n allemintige paar boude weg¨. Ek weet dis verkeerd en die feit dat ek nie regtig die wilskrag het om iets anders te doen nie maak my so moedeloos soos ´n Nylkrokodil sonder tande. Ek´s so moedeloos ek skryf sommer ´n storie;
Eendag lank, lank gelede, in ´n plek vêr van hier, het ´n jong man met die naam Pikkie du Preez gewoon. Pikkie was ´n goeie seun. Nooit gevloek of gedrink nie, boeremusiek geluister en naweke in die ouetehuis se tuin gewerk. In sy etenstye het hy boeke voorgelees vir die blindes.
Maar toe ontmoet hy vir Brenda, dogter van Hans Griesel, die dorp se sweiser.
Hans was van geboorte af sleg, hy´t aspris gekak net na sy ma sy doek omgeruil het en sy fopspeen gedurig in sy neus gedruk. Hy´t al gespyker voor hy sy laaste melktand uitgespoeg het en op 14 was hy die jongste pa in die dorp. Brenda se ma het haar doodgedrink op 17 en Hans moes die kind self grootmaak. Gevolglik was haar rolmodelle die dorp se hoere en strippers. Wonder bo wonder was Brenda glad nie sleg op die oog nie en het met die eerste oogopslag ´n sagte hart gehad – sy het self haar kat versmoor toe díe sy been gebreek het, die lyding kon sy net nie verduur nie.
Maar terug na Pikkie. Die seun was goed tot op die been, daar was geen haat of verwyt in sy hart nie, maar hy het ´n groot probleem gehad; hy was alleen. ´n Bitterse alleen wat hy elke dag agter ´n glimlag moes wegsteek.
Een Vrydagmiddag toe Pikkie die minusipale swembad gaan help skoonmaak, gewaar hy vir Brenda. Dit was liefde, hy´t dit geweet. Haar mooi ou bolletjies wat onder haar bikini gebult het was vir hom soos ´n moerse ongeluk op die highway – hy kon net nie wegkyk nie. Haar lang krul hare met die goen en rooi strepe het heilig gegloei in die middagson. En daar langs die swembad besef Pikkie om hierdie cherrie te kry sal hy moet ¨bad¨ word.
Volgende dag het Pikkie sy blou Cortina verkoop en vir hom die grootste Honda motorfiets in die dorp gaan koop. Die kinders by die weeshuis het vir hom vlamme opgeverf en Gjeert by die panelbeaters het die exhaust vol gate geboor. Tossie by die haarkapper het sy hare midnight-black gekleur en die volgende dag is hy daar weg Johannesburg toe om ´n groot anker op sy bors te laat tatoeëer. Teen Dinsdag was Pikkie rof soos kan kom; leathers van kop tot tone, bril-cream in die hare en ´n skyf wat skeef in sy bek hang. Hy´t sy werk bedank en ´n appie by oom Snakes se garage geword.
Aand na aand het Pikkie by Neon Steam gesit en kyk hoe Brenda dans, maar nooit die moed gekry om haar uit te vra nie. So het die dae weke geword en Pikkie het al hoe meer begin drink. Laat een Woensdagaand sit Pikkie poepdronk by die kroeg toe Brenda hom op die skouer tik; ¨Wat spek jy my so hê?¨ het sy vir hom gefluister.
Vir Pikkie was daardie die mooiste sin wat hy nog ooit uit iemand se mond gehoor het.
Hy het haar in die middel van die eyeshadow gekyk, sy hande deur sy bril-cream getrek en gesê; ¨Ek´t jou lus.¨
Daar in die bar pak hulle mekaar toe soos twee bronstige Panda´s wat koud kry. Dinge het vinnig gegaan en skaars twee weke later trou hulle by die landdros en huur ´n huis langs die spoorlyn. Brenda het intussen vir Pikkie aan ´n hele keurspel dwelms voorgestel en kort voor lank het die eienaar van die huis begin dreig om hulle uit te skop as hulle nie betaal nie.
Pikkie en Brenda was op moedverloor se vlakte. Hulle het skaars geld vir drugs gehad, wat nog van huur en kos?
Toe een oggend kry Pikkie ´n brief in die pos van ´n prokureur. Sy oom Daniël van Boksburg is dood aan kanker en het R300 000 nagelaat. Pikkie was die enigste erfgenaam. Hy´t het net daar op sy Honda gespring, vir oom Snakes geskree presies wat hy met homself kan gaan doen en huis toe gejaag.
Brenda was natuurlik befok van blydskap toe sy die nuus hoor. Sy het vir Pikkie gesê hy moet homself gaan bad dat hulle sommer dadelik die geld kan gaan haal.
Pikkie het net lekker teruggelê toe Brenda die deur oopmaak met ´n haardroër in die hand. ¨Wat nou my tong?¨, was die laaste woorde wat Pikkie du Preez ooit geuiter het. Daardie droër het hom geshock dat hy gelyk het soos ´n seisoenale werker van Brits.
Brenda het haar tassie gepak, ´n hartseer gesig getrek en die prokureur gaan sien. Niemand weet presies wat met Brenda gebeur het nie. Party sê sy´t met haar pa getrou en in Vereeniging gaan bly. Ander beweer sy het haar hare rooi gekleur en bied nou ´n TV-program aan. Al wat ek weet is sy was boos en dit was nie heeltemal haar skuld nie.
Die lewe kan partykeer onregverdig wees, daaraan kan ons niks doen nie, maar ons kan wel keer dat die Brenda wat in ons almal skuil uitkom en die lewe nog meer onregverdig vir onskuldige mense maak.
Die Wit Rus