Verantwoordelikheid en pienkvoete
My somatoloog (die jong dame wat die stres uit my skouers vrywe) is swanger. Ek sê nou mý somatoloog want ek wil ook so ´n bietjie belangrik voel – ryk mense sê mos altyd; mý prokureur, mý ouditeur, mý poolboy (nooit Horhei of Klaus nie).
Die feit dat sy swanger is, beteken nou seker vir ander mense nie veel nie, maar dit het ´n groot impak op my lewe. Sien, sy is net so oud soos ek en die enigste ding wat ek nog grootgemaak het is ´n tamatieplantjie (dit was eers ´n pit) wat ek vir my verjaardag gekry het (díe is ook onlangs langranke toe).
Soos party mense te min seretonien, insulien, of sinvolle woorde afskei is my reseptor wat verantwoordelikheidsin afskei óf in hibernasie óf net moerse spitefull. Ek is een van daardie mense wat ´n baba op die kar se dak in sy carry-cot sal vergeet en dan met ´n helse gejuig by die straat sal af jaag. Of vergeet om die arme ding se polle te poeier - ek weet nie wat gebeur as mens dit níe doen nie, maar ek het al my tannie op my oom hoor skree toe hy dit eenkeer vergeet. Ek dink hulle fondamente val af, shame, daai man se ore is seker tot vandag toe nie dieselfde nie.
Maar terug na verantwoordelikheid.
My gewete word wel in ´n mate gesus deur die feit dat ek nie alleen is in hierdie skynbare gebrek aan verantwoordelikheid nie;
- Marie Antoinette se onverantwoordelike uitlatings oor soetgebak het haar, haar kop laat verloor, letterlik.
- Guy Fawkes se onverantwoordelike besluit om vir Francis Thresham van sy versteekte vaatjies biskruit te vertel, het daartoe gelei dat hy soos ´n maandoue Fizzer gerek en daarna tereggestel is.
- Viktor Bryukhanov wat besluit het om die woelinge atoompies by Chernobyl se aircon so ´n bietjie af te skakel, het veroorsaak dat mense wat daar naby gebly het nou nog ekstra goedjies op vreemde plekke groei.
Ek gee nie regtig om dat ek my kop verloor soos Marie Antoinette nie want as jy stupid is moet jy kak, dis mos jou eie skuld. Maar om ´n kind se lewe in jou hande te neem as jy weet jy nog nie daarvoor reg is nie is myns insiens erger as om 300 keer meer radiasie as die Heroshima-bom in die lug te stuur. Dit is vir my skrikwekkend dat ander mense soveel verantwoordelikheid het en ek niks.
Gelukkig weet ek mý somatoloog is 100 keer meer verantwoordelik as wat ek is, en is reg vir die klein klits wat oppad is - daarvoor het ek vreeslik baie respek.
Ek is nou nie een wat regtig kan raad gee oor pienkvoete en die grootmaak daarvan nie, maar ek wil tog ´n paar goed uitlig;
- Die eerste ding wat jy vir daardie baba gaan koop gaan hy deur sy gat trek, eintlik gaan jy dit vír hom deur sy gat trek, leef daarmee. En koop tog die Pampers sonder Velcro – daai goed krap.
- Sodra die kind leer loop moet jou man vir homself ´n kluis gaan koop waarin hy al sy Guinness aandenkings wat hy in kroeë regoor die land vasgelê het in kan bêre. Ek het al beleef hoe tuimel ´n rak met vyftig onvervangbare versamelaars-items na die vloer.
- Laat hulle jou tog dose met daardie ¨eppie¨ inspuiting op die groot dag. Die blote meganika van geboorte-skenk is vir my uiters duisligwekkend. Ek kan my nie eers die pyn verbéél nie, daar is ´n rede hoekom die mediese gemeenskap pynstillers maak, moet nou nie GI Jane wees nie toe. Dink net daaraan; jy gaan lê in die bed, jy´s moerse sad, maar na die inspuiting lekka ¨eppie¨ (dis seker waar die naam vandaan kom), en terwyl jy besig is om te skree; I karint feel my legs, can somebody told me why I karint feel my legs, pop jy nog iemand die lewe in. So maklik soos boomklim.
Verder baie, baie geluk met die eerste. Mag sy snot vanself opdroog, hy skoon en reukloos soos ´n Rooibok poef, homself op twee maande leer bad en swem, en mag hy eendag die lewe beter verstaan as die ou oom wat hier skryf.
NB: Soos jy kan aflei het ek klaar besluit dis ´n lightie, wag maar en sien...
Die Wit Rus