outomortis


Kom ons hou vanaand ´n piekniek in die donker woud, skree ´n jakkals koud

Maak jou monsters vriende, maak nog sitplek om die mandjies vol verlede


Dis reg, nooi almal, stuur ´n kaartjie met ´n kraai na ´n lemmetjie wat kan sny

Kyk die bloedrooi armband, sê die bosnimfies, al te modern, verpligtend, baie cool


Nooi ´n pilletjie, mooi gepers, strelend wit

Haai, hier onder die watte is die geluk wat verdwaal het!

Elke gelukkie ´n liggie, meer en meer verblindend, uitstekend

Sjoe, waar´s my maniere tog, Haat, Spyt, Genot, Venyn, kry nog!

Verlam daardie requiem van realiteit saam met my


Nooi ´n vaatjie einde, met ´n jassie van koper, ´n mussie van lood, blink gepoleer

Die rooi horing-diertjies om die vuur gil van plesier vir die laaste vuurwerk vonkies


Kom ons dans om die vure, dronk van die kraffies vol nostalgie

Kom ons vergeet van die bose geeste wat onder die skaduwees uit loer

Nooi hulle ook saam!

So sal ons nooit alleen wees nie, gee al die dink-dwergies ´n sluk

Nooi die feetjies wat warm ysters smeulend in rou wonde druk


Nooi ´n tou met ´n mooi koesister lus, wat ´n pragtige serpie!

Al te sjarmant, swiepend onder die wieg van ou akkers


Die wyse ou uil fluister sag, fluister van die groener velde aan die ander kant

Dis net oor die draad, toe nou, toeeee! Klim deur, kom!


In ´n groot swart pot kook die gevoel weg, voel niks meer, hoe lekker!

Weg is die krampe in geswelde ventrikels


Nooi ook die pikswart rand om elke silwer dolk

draai die skerp nuuskierige punt net reg, perfek!


Die snacks is hier julle! Elkeen kan die yster diep op sy tong proe,

die staal teen ons slape voel, koel en bang en opgewonde en vol verligting

vol donker hout, vol rooi satyn, vol wit wurmpies


Vuurvliegies drom saam en wys die pad na ´n hoë rots randjie,

wys die pad na kranse met ´n aanloop om te vlieg, net lank genoeg,

lank genoeg om alle probleme weg te waai,

plat, plat, plat probleme, uiteindelik vry!



Die Wit Rus