Net ´n opmerking


Anton Goosen se liedjie ¨Brief vir Simone¨ is een van die mooistes wat ek ken. Al dink ek oom Anton sal deesdae eerder op die Hilbrow toring sit en wegkruip vir die Nigeriërs as om te dig, was dit darrem so bietjie anders in sy tyd.


In bogenoemde meesterstuk praat hy van ´freudiaanse insekuriteit´. Ek het nou al oral gesoek na ´n definisie vir hierdie term, maar met geen sukses. Freud was ´n mal bliksem en party van sy sienings is heel onverstaanbaar. My eie afleiding is dat dit iets te doen het met onsekerheid oor jouself en die toekoms. ´n Tipe van verlange na ´n tyd toe dinge beter gegaan het. Jy dink; gaan dit ooit weer so goed gaan soos tóé. Dit kan volgens my geasosieer word met nostalgiese verwyt, ´n verwyt oor wat kon gewees het as jy die status quo kon handhaaf tot op hede en ´n wete dat dit nooit weer presies so idiaal sal wees soos hoe jy dit onthou nie. Ek hoop van harte ek het die term reg verstaan en geanaliseer, oom Anton (en Freud) sal seker nie omgee as ek die pot so ´n bietjie mis gesit het nie.


Die rede hoekom hiedie term my so aangryp, is dat ek myself pas gediagnoseer het met chroniese freudiaanse insekuriteit. Dit beklemtoon my vrees vir verandering. Ek kan nagte om droom oor hoe goed ´n situasie was en selfs kon gewees het en dan net so maklik miskyk hoe lekker die toekoms kan wees. Dit is verkeerd om so in die verlede te leef maar mens kan ook nie ´n totale laizes faire houding hê oor wat was nie, dis partykeer goed om uit die geskiedenis te leer maar meer belangrik om nie aanhoudend oor gedane sake te tob nie.


Ek hou daarvan om só oor denkwyses te redeneer. Jy sien; ons is op hiedie aarde gesit sonder ´n users-manual vir die lewe. Daar is riglyne, maar meeste van die oplossings moet ons self uitdink. Dit is een van die redes hoekom dit so belangrik is om kennis in te samel. Hoe meer informasie jy het om deur te sif, hoe meer tips tel jy op vir ´n suksesvoller lewe. Met meer teoretiese kennis van die kanonballe wat die lewe na jou kant toe skiet kan jy ´n beter praktiese strateeg word en hulle tot jou voordeel gebruik.

Neem maar die volgende aanhaling deur Satchel Paige -

¨Work like you don´t need the money, love like you´ve never been hurt, dance like nobody´s waching¨.

Almal van ons kan die wysheid in die woorde sien, maar dit bly ons verantwoordelikheid om ons eie weergawe daarvan te vorm. Dit is wat kennis so demensioneel maak. Of ons dit nou soos Freud ananliseer of dit op die proef stel, dit moet aangepas word. Jy kan tog nie letterlik werk asof jy nie die geld nodig het nie - jy sal gefire word. Of dans asof niemand kyk nie - jy mag dalk gemoer word.

Die enigste stuk uit die aanhaling wat ons letterlik kan opneem is om lief te hê asof ons nog nie seergekry het nie. Elke verhouding het sy eie stel reëls. As jy vorige verhoudings op ´n nuwe een gaan toepas is jy, en jou verhouding, in die moeilikheid.


Maar dis net my opinie.






Die Wit Rus