Klank en kunstenaars
Dit het my vandag opgeval dat klank heel waarskynlik twee derdes van ons sensoriese wêreld uitmaak. Nou wonder julle seker wat my geïnspireer het om so ´n aanvegbare stelling op ´n koue Woensdagoggend uit te dink. Wel, kom ek spoeg dit nou maar uit soos die vis wat Jona ingesluk het;
Die badkamers by my werk is sopas klaar geteël. Gevolglik het my alleentyd-tempeltjie nou die eggo en amplifikasie van die heel grootste kamer in die Kango grotte. Laasgenoemde en die feit dat ek ´n sensitiewe gestel soos ´n senuagtige Budgie het, doen natuurlik onskatbare skade aan die sosiale verhouding tussen my en my kolegas. Nogal ironies dat dit voorkom of die woord ¨kolegas¨ van die woorde ¨kool¨ en ¨gas¨ afgelei is né?
Net voor julle begin dink my teorie is net ´n spul warm lug, dink bietjie mooi oor klank.
Alles rondom ons het sy eie klank. Jy kan ´n persoon aan sy stem uitken sodra jy die telefoon optel, selfs al probeer hy anders praat. Ons neem laasgenoemde as vanselfsprekend aan, maar dink hoe kompleks so ´n proses moet werk. Die frekwensie, die manier waarop die persoon sekere letters uitdruk en die spoed wat die persoon praat word in millisekondes geproseseer. Ons kan diere ook so van mekaar onderskei. Daar is mense wat honderde verskillende voëls net aan hulle klank kan uitken.
Deur die nag registreer jou brein klank selfs as jy slaap en kan jou waarsku om op te staan al kan jy niks sien nie. Sekere klanke kan breingolwe so beïnvloed dat ons beter oplet en leer. Wetenskaplikes wat absoluut niks het om te doen nie beweer selfs dat plante reageer op klank.
Wat my bring by die mooiste en mees komplekse uitvloeisel van klank; Musiek.
Musiek is ´n taal op sy eie, ´n enkele lied kan meer beteken as ´n hele hoofstuk in ´n boek. Dit is ook die belangrikste instrument wat ons kan gebruik om ons taal te behou.
Ons is so gelukkig om die opkoms van soveel nuwe afrikaanse kunstenaars te beleef. Ek glo nie enige ander land in die wêreld het al so ´n verskriklike bloei van talent in hulle eie taal beleef nie.
Miskien is ek oningelig, maar ek dink die mense wat beweer afrikaans is besig om dood te gaan oordryf dalk bietjie. Dat sekere mense probeer om afrikaans dood te druk is geen geheim nie, maar as ek so na al die optredes van nuwe kunstenaars in die land (en veral op die kunstefeeste) kyk, moet ek se dit lyk of die taal terugdruk. En ek geniet elke oomblik daarvan. Druk harder afrikaans, kop laag en voorentoe!
Skryf, dig, sing en spreek toe – dis hoe mens ´n kulturele oorlog voer.
Van die cd´s wat ek onlangs ¨onder ore¨ gehad het is;
¨Stoomradio¨ van Radio Karoo Orkes – Ja, die manne van die Boet en Swaer Castrol advertensie het ´n cd uit, nie al die liedjies is briljant nie maar
dis amper die moeite werd om díe album te koop net vir ´n bietjie nostalgiese waarde.
¨Soet September¨ van Spinnekop – Ek sê nog altyd die skrywer van ´n liedjie sing hom beter as enigiemand anders en Gian Groen se ¨Vier seisoene
kind¨ kom hier uit die perd se bek.
¨My bezirkste treffers¨ van Zirk Bergh – Ignoreer die dodgy televisie advertensie en gaan koop hom, dis nogal lekker braai musiek.
¨My memories in ´n menthol¨ van Adam Tas – Laat jou verlang na mense wat jy nog nooit ontmoet het nie.
¨Vis innie bos¨ van Anton Goosen – Na al die jare kán die liedjieboer nog musiek maak. Ek hou veral van nr 7, ¨Pampoene op die dak¨, dis só waar.
¨Sally Williams nougat¨ van Jak de Priester – Hierdie ou gaan nog diep spore trap, as jy in Pretoria bly sal jy nie kan help om te glimlag as die titelsnit
speel nie.
Hierdie is maar net ´n paar van die goeie cd´s op die mark en is baie goedkoper as meeste.
Ek wonder wie het besluit om ´n goeie saamgestelde album wat nuwe kunstenaars so goed bekendstel soos RSG se ¨Musiek sonder grense¨ heeltemal onluisterbaar te maak met swak covers van goeie liedjies.
Snit 19 op cd1 en snit 10 op cd2 word altwee deur Wonderboom gesing, die een is Valiant Swart se ¨Eyeshadow¨ en die ander Sonja Harold se ¨Harlekyn¨. Skrik, fokken, wekkend. Ek het nog nooit sulke drek in my lewe gehoor nie. Maar smaak verskil – mens kry byvoorbeeld goeie smaak en kak smaak.
My eintlike groot probleem lê by kunstenaars wat bekendheid verwerf met ander mense se liedjies en die oorspronklike kunstenaars nie die erkenning gee wat hulle toekom nie.
As iemand nou weer vir my vra of ek al die Theuns Jordaan liedjie, ¨Hierdie hande van my¨ gehoor het, gaan ek ´n ligte beroerte kry. Dis ´n DavidKramer liedjie. ¨Sonvanger¨ is deur Valiant Swart geskryf, nie Theuns Jordaan of Laurika Raugh nie.
¨Beautifull in Beaufort-wes¨ is ook nie ´n Theuns Jordaan liedjie nie – Gert Vlok Nel het dit geskryf en sing dit volgens my baie beter.
Groot was my verbasing toe ek hoor Dozi wil iemand hof toe sleep omdat hulle sý liedjie ¨Ou ryperd¨ op ´n album gesit het sonder sy toestemming. Chris Blignaut het ¨Ou ryperd¨ geskryf, as jy my nie glo nie sal ek jou die plaat wys.
Een van die redes hoekom ek so baie van Jakkie Louw se musiek hou is dat hy na elke cover wat hy sing dankie sê vir die oorspronklike kunstenaar. Ek weet dis moeilik om op ´n cd spesifiek erkenning te gee vir al die skrywers maar om dit met mikro-drukwerk binne die cd se blaaidjie aan te bring, is net nie genoeg nie.
Ek het nie genoeg kennis van die musiekbedryf om kritiek te lewer wat enige noemenswaardige gewig dra nie, maar as ´n gewone ondersteuner van afrikaanse musiek sulke vergrype kan raaksien, dink ek ´n paar kunstenaars moet bietjie gaan dink wat die woord ´plagiaat´ vir hulle beteken.
Oor die algemeen is afrikaanse musiek redelik gesond, behalwe vir die bogenoemde en die ¨pomp-en-dop¨ musiek waaroor ek nie eers gaan uitbrei nie – dit laat my te veel vloek. Musiekwinkels hou nie altyd die beste afrikaanse kunstenaars se musiek aan nie, as jy jou afrikaanse musiek versameling wil uitbrei met goeie musiek, stel ek voor jy gaan kyk op Kalahari.net – hulle het alles. Mooi lirieke is strelend vir die siel, doen jouself ´n guns en luister wat jou moedertaal het om te bied. Dit kan jou net goed doen.
Musiek inspireer, maak bly, laat vry, verower en betower. Dit laat ons huil, gee ons energie en sus ons aan die slaap. Musiek kan ons vul met Hades se ondergrondse gedagtes, met Bacchus se sosiale septer slaan of met Cupid se pyle skiet.
Vanaand as jy weer nie kan slaap omdat die karre in die straat te veel raas, dink bietjie in jou gebede aan die dowes en hoe mal die stilte hulle deur die dag maak.
Die Wit Rus