Martin se splinternuwe tekkies
Einde 1999 loop ek en my goeie vriend Martin Conradie in Menlyn Sentrum in Pretoria rond op soek na 'n paar nuwe tekkies. Die bouers van Menlyn het seker maar gedink dat die millenium gogga alle lewe op moeder aarde gaan uitwis, want die gebou moes toe al lankal klaar gewees het. Mense wat my ken weet dat die skielike gedonder van 'n jackhammer nie vreeslik goed met my gestel akkodeer nie en ons het op 'n stadium vir onderbroekwinkels begin uitkyk. Na 'n paar noue ontkomings met vallende bourommel en/of bouers, kry ons toe 'n sportwinkel wat fokken duur tekkies verkoop. Martin was nog nooit een vir groot uitgawes nie, maar nadat ek aan hom verduidelik het dat my senuwees so shot is, dat ek enige tyd in my broek kan kak, koop hy toe maar 'n paar van die witste en duurste Reebok tekkies wat ek nog gesien het. Ons is toe daar uit met die soort derdegraadse gesukkel wat 'n Survivor deelnemer sal trots maak. Ek weet nie of dit die sementstof of die breingolfdodende gebulder van boutoerusting was nie, maar net daar en dan besluit ek en Martin toe vandag, hier, nou, ry ons Kaap toe. Met net die klere aan ons lyf, 'n matras en 'n sak hout onder my 1400 bakkie se seiltjie, is ons toe daar weg. Op die N1 suid net duskant Johannesburg kom ons toe tot die besef dat ons nie in die bakkie kan slaap nie en dat ons nog geen reëlings wat verblyf betref gemaak het nie. Na 'n heidense gespook met die selfone, reël ek toe met Sarel Fourie se ma in Stellenbosch dat ons vir twee nagte daar kan bly en Martin reël dat ons by sy oom in Bloemfontein kan gaan aandete eet. Min het ek geweet dat Martin ook 'n nefie in Bloemfontein het wat 'n hedendaagse weergawe van Trompie en die hele bokshombende in een is. Martin se oom het ons daardie aand die verskriklikste stories oor sy jongste vertel, onder andere dat hy en sy vriende uit hulle nuutste skool geskors is, omdat hulle vir pret benzine op duiwe gespuit het om te kyk hoe die vlamme die lug in trek. Ons het te verstane toe maar besluit om nie te lank daar te vertoef nie en later so klein gebedjie vir die duiwe op te sê.
Die mense wat baie Kaap toe ry sal weet hoe bliksems mooi die sterre so deur die Karoo is. Die mense wat gereeld Kaap toe ry sal ook weet hoe bliksems koud dit in die aand in die Karoo word. Ek en Martin het daardie aand amper gevrek van die koue – ons is met 'n kortbroek en kortmouhemp by Menlyn weg. Na Job se beproewing kom ons toe 10uur die oggend in Stellenboch uit en besluit om iets in die Dros te gaan drink. Twee Draugts later voel ons toe altwee so 'n bietjie beter en bel na Sarel se huis toe. Sarel weet toe nog niks van ons besoek nie en was heel tranerig toe hy hoor ons kom kuier. Sarel-hulle het daardie tyd 'n huis op 'n wynplaas gehuur met sulke moerse kaapse gewels. Daar aangekom het ons dadelik aan 'n bottel Merlot begin weglê en Martin – wat nóú nog nie gewoond is aan wyn nie – was na 'n rukkie lekker kakdronk.
Net 'n bietjie agtergrond oor Martin; hy is seker die enigste mens wat slegter geluk het as Poenie Fourie van die fliek Lipstick Dipstick. Hy het homself amper eenmaal in Hermanus doodgeskok deur te naby aan 'n tuinlig te pis. Hy het ook 'n grilerige neiging om na meeste rowwe baccanale so 'n bietjie te “flood” soos oom Tolla gesê het. Martin het al per geleentheid in 'n helmet, teen sy kar se toegedraaide venster en op sy Pa se skoen laat gaan. Maar terug na die storie;
Na die Merlot sessie, twee bottels Port en drie biere, het ek en Martin besluit om terug te gaan Dros toe. Sarel het êrens middernagtelike plesier soek en sou ons eers later by die huis kry. Die Dros was redelik vol en ons het maar by die kroeg gaan sit. Ons het net die sesde bier klaargemaak toe Martin sê hy gaan gou badkamer toe. Vyftien minute later het ek begin onraad vermoed en Martin gaan soek, maar toe die Merlot-walms die badkamer se deur toedruk toe ek dit oopmaak, het ek geweet dis sulke tyd. Martin was nêrens te vinde nie en ek het toe maar by die bakkie gaan kyk. Daar onder die seiltjie, sien ek toe twee voete uitsteek – sonder spierwit Reeboks.
Twee dae later is ek en 'n baie depresiewe Martin, Hermanus toe en na vier dae daar weer terug Pretoria toe. Ons het die “scenic route” gery en ons 12 uur die aand op die Uniondale-pad bevind. Baie gepas speel ons toe maar Anton Goosen se “Blommetjie gedenk aan my”. Maar soos mense wat spoke ken jou sal vertel, spot mens nie met sulke goed nie. Net by strofe twee verby gewaar ek toe iets wat my hare laat rys het - daar, langs die pad, staan die bleekste meisie wat ek nog ooit gesien het ......... met spierwit tekkies aan haar voete.
Die Wit Rus