Op soek na ´n bietjie gravy


Marta was meeste van haar lewe nooit regtig iemand nie. Sy was ´n vervelige gemiddelde meisie - op haar plek en sonder vyande. Het altyd genoeg jammer gesê en nie te wyd gesmile of gedans nie. Op negentien het sy ´n vervelige man getrou en in ´n vaal huisie tussen die plotte gaan bly. Toe een Dinsdag, dertig jaar later, kry die man vir hulle DSTV om die darts te kyk. Marta was laas so opgewonde toe sy op sewentien ontdek het sy het borste. Die volgende dag toe die man by die werk is pak Marta haar gat op die bank uit en sy ontdek Hollywood op kanaal 41. In haar doodgewone bestaan het Marta nog nooit so iets gesien nie, sy het na haar asem gesnak elke keer as ´n peloton kamera´s iemand op die rooi tapyt flash. Gehuil toe sy hoor Brad en Jen is uit. Dit was asof iemand haar op ´n ander planeet neergesit het.


En een oggend in November bekruip die spyt vir Marta so dat die frons op haar voorkop amper begin bloei en sy roer Rattex by haar man se koffie in. Sy´t hom onder die papawers in die tuin gaan begrawe en vir Huisgenoot ´n brief begin skryf – ietsie vir die soek hoek.


Aangesien haar man so ´n vaal wese was het die dorp nie eers agtergekom hy´s weg nie, maar in die aande het hy by Marta gespook. Aand na aand het hy met sy arms gekruis by die voetenent van haar bed verskyn; ¨Skaam jy jou nie?¨ het hy gevra. Maar Marta het net elke keer op haar sy gedraai en gesê; ¨Elke hond kry sy dag.¨


Later daardie week het Marta se advertensie in Huisgenoot verskyn; ¨Vlakvark-pie van Moreesburg op soek na ´n bietjie gravy. Ek lus na ´n man met groot growwe hande en bak ore. Verkieslik ´n boer tussen twintig en sestig. Moet hou van kookkos, drink en sweet.¨


Twee dae later bel die poskantoor toe om te se haar pos is te swaar om alles met die fiets aan te ry, sy moet dit maar self kom haal. Daar was duisende briewe van regoor die land, twee het verloofringe ingehad. Geralda van die poskantoor was die grootste skinderbek op die dorp en kort voor lank het almal geweet Marta kry moerse baie fanmail van êrens. Die mense het skielik begin draf en met hulle honde begin loop net om verby Marta se huisie te stap. Niemand het geweet hoekom nie, maar hierdie vrou was famous.


Soos enige goeie dorp het Moreesburg ook ´n neef van ´n broer se tante wat se kennis iemand ken wat by die Son koerant werk en die een oggend kom haal ´n makeover-span vir Marta en vat haar Johannesburg toe. Daar is sy gebad, getease, gekrul en afgeskuur, maar party mense kan net ´n pannelbeater mooi kry. Die redakteur sê toe maar hulle moet vir Marta net so afneem en die storie plaas - volgende maand sit hulle vir Juanita op die voorblad om die verkope weer op te kry; ¨Kry haar net so glad as moontlik en smeer Vaseline op die lens¨.


Toe die tyd kom vir die foto´s was Marta gemessel soos Michael Jackson, sy´t haar spatare self toe-gepoeier en loop lê tussen ´n hoop indiese kussings, ¨lyk happy¨, het die fotograaf gese, Marta het geglimlag dat jy net stopsels sien, haar been in die lug gegooi en gepout soos iemand wat nou net ´n warm plaat gesoen het. Sy het haar kop skuins gedraai en haar wimpers gewikkel. Sy´t liefde gamaak met die lens. ´n Duisend foto´s later het die kamera man begin arc-eyes kry en twee van sy assistente het leeg gekots buite rondgedwaal.


Terug by die huis het die hele dorp Marta ingewag met Melktert en konfetti. Onder die groot boom voor die stadsaal het die burgemeester vir haar die sleutel van die dorp gegee. Die mense het gejuig en Marta het gesmile.


Sy het terug huis toe gegaan, Time to say Goodbye van Andrea Bochelli kliphard voor die spieël gesing, ´n glas rooiwyn gedrink en haarself in die bad geskiet met ´n haelgeweer.


Sy word vandag nog onthou as Moreesburg se enigste ware celebrity.


Die Wit Rus