Magriet Rossouw



Magriet Rossouw het altyd gesmile. Dis nou ten spyte van die feit dat haar een oor in standerd een deur 'n baba haai by Gansbaai afgebyt is, haar ouers albei dood is toe sy vyftien was, sy effens geset was en dat sy nou nie juis slim was nie. Haar ouers het darem vir haar iets gelos in die testament en díe het sy gebruik om verpleegster te gaan swot. Na ses jaar, baie beledigings en baie eensame aande het sy deurgedruk en by 'n hospitaal in Memel gaan werk. Daar het die gespottery 'n bietjie bedaar maar een persoon was onuitputbaar in sy aanvalle, Arrie van der Merwe, die hoof van die hospitaal. Arrie van der Merwe is vriendelik versoek om die weermag te verlaat, omdat dit aan die lig gekom het dat hy van die ander troepe onwelvoeglik betas het. Hy was 'n opperste doos en as dit moontlik was vir Magriet om iemand te haat, dan was dit hy. Maar Magriet het ewe gedwee die uittarting aanvaar en aangegaan met haar werk.


By die hospitaal het Magriet vir die eerste keer in haar lewe 'n regte vriendin ontmoet. Herta was baie dieselfde gebou as Magriet maar sy het 'n bietjie meer breinselle gehad. Herta het altyd vir Magriet die stories op TV verduidelik en moes haar altyd wys hoe om die videomasjien te stel. Hulle het saam gaan fliek en inkopies gedoen, en vir 'n ruk was Magriet regtig gelukkig. Die pasïente kon sien sy gee om en meeste het haar ordentlik behandel. Eendag, terwyl Magriet en Herta in die hospitaal se tuin sit en eet, val daar 'n baba voëltjie uit sy nes in Magriet se kosblik, langs haar Bullybeef-toebroodjie. Selfs Magriet met haar beperkte inteligensie kom toe agter dat nie sy of Herta met hulle gewigtige gestaltes daardie voëltjie in sy nes sal kon kry nie. Sy besluit toe maar om hom met al die liefde en moeite van 'n moeder groot te maak. So gesê so gedaan en na 'n ruk was klein Toebroodjie (Herta het hom gedoop) vol vere en so honger soos 'n ruspe. Magriet het hom bedags in 'n mandjie saamgevat hospitaal toe. Meeste van die pasiënte was mal oor klein Toebroodjie en het altyd vir hom kos of water gegee.


Op 'n Dinsdag oggend, na Magriet met haar rontes klaar gedoen het kry sy vir Toebroodjie dood in sy mandjie. Toe sy omdraai kyk sy in die gesig van Arrie van der Merwe vas. Hy het haar met 'n grynslag aangekyk en gesê “diere hoort nie in 'n hospitaal nie” en uitgeloop. Die smile het van Magriet se gesig verdwyn. Die bloed het in haar are begin kook. Sy het al die beledigings wat sy al in haar lewe toegesnou is gelyk gehoor. En daardie oggend raak Magriet Rossouw toe so befok soos 'n jags buffel met 'n seer bal.


Die aand was Arrie van der Merwe laat in sy kantoor besig toe daar 'n klop aan sy deur is. Hy het soos altyd dit geïgnoreer tot die persoon aan die ander kant mooi geïriteerd was. Maar daar was nie nog 'n klop nie. Daar was een helse slag en toe die deur uit die kosein val staan Magriet lewensgroot voor hom. Al wat sy gesê het was; “vrek mofgat”, en toe skiet sy hom dwarsdeur sy kop met 'n kruisboog. Van daar af is sy na ou oom Rodgers (hy't haar “Moby” genoem) se bed en het hom sommer in sy slaap uit sy leiding gesit. Daarna is sy na haar ou hoërskool en blaas toe die plek op met al die plofstof wat sy by die myn kon steel. Magriet het net daar buite die skool in die pad gaan sit, na die flamme gekyk en begin huil. Sy't gehuil vir al die kere wat sy nie gehuil het nie. Vir die keer toe Herman in standerd 5 op haar gunsteling penneblikkie getrap het. Vir die keer toe haar Afrikaanse onderwyser haar 'n walvis genoem het.


Toe die polisie haar kom arresteer was sy uitgehuil. Herta het met dikgeslaapte oë vir haar by die polisiestasie gewag. Magriet het voor Herta gaan staan en 'n stuk papier in haar hande gedruk, weggedraai en geloop. Herta wou nog praat maar die polisie het gesê lesbians word nie in die selle toegelaat nie.

In Herta se hande was 'n Lotto kaartjie. En daar, in Memel se polisiestasie word Herta, die enigste mens wat kans gesien het om vriendskap aan 'n oorgewig nurse met een oor te gee, 10 miljoen rand ryker.




Die Wit Rus