Kômmin
(Jy sal merk dat ek kommin met ´n kappie op die ¨o¨ gespel het want dis hoe kommin mense dit sê.)
Ek is mal vir my-se-mense – Afrikaners. Ek glo daarin om jou eie mense te ondersteun in wat hulle doen, hulle is tog deel van jou kultuur. Maar hoe lief ek ookal mag wees vir my mense, is daar tye wat ek behoorlik hoendervleis kry van skaamte.
Soos die keer by Sodwanna toe die oom met die pers Land Cruiser vir sy vrou geskree het; ¨Volgende keer as ek trou, trou ek met ´n hoer, want dis makliker om ´n hoer te leer kook, as om ´n boermeisie te leer stoot¨. Agenee bliksem man, wie de hel dink sulke sê-goedjies uit?
Of soos die keer toe ek drie dronk ou ooms agter op ´n bakkie vir die betuurder hoor skree het; ¨Steek hom bles!¨ Ek weet nou nie of die bestuurder se naam Bles was en of bles ´n nuwe naam vir vinnig is nie, maar sjoe.
Gelukkig is die bogenoemde gevalle geisoleerd gewees. Min mense het dit gehoor en dit sal seker nie vir altyd in my brein bly vassteek nie. Die ander bevolkingsgroepe van ons land het slegs per ongeluk van sulke afrikaanse kommingeid gehoor.
En toe verskyn Belboks op die kassie.
Miljoene mense kan nou op die program kyk hoe afrikaanses hulle naam gat maak. Afrikaanse komingeit het ´n spreukbuis gekry. Ek sê hoegenaamd nie dat al die inbellers en kunstenaars op die program ietwat aan die ¨hihn hihn lekker spin¨ kant is nie, maar meeste is wel.
Vir die van julle wat dit nog nie gesien het nie;
Daar is ´n sms rolstrook onder aan die skerm waar jy jou liefde aan ¨my ou Koekstampertjie van Klerksdorp¨ kan getuig en vir haar sê dat sy ¨die lekkerste lekker, ja net soos ry op ´n trekker¨ is. Dan kan jy ook inbel om te vra vir die nuwe treffer van een of ander kunstenaar sonder ´n van.
Dit is vir my opvallend dat die nuwe afrikaanse kunstenaars wat nie instrumente kan bespeel nie, nie hulle naam én van gebruik nie (probeer seker maar Madonna se trick) en dan ´n geluidjie wat lekker sing opmaak soos ¨diodanda¨ en dit dan, saam met die koor sing, in plaas van lirieke.
Elk geval, nou sit ek Maandagaand sesuur vasgenael vir my les in etnologie en daar kies Koeksie van Camperdown (ongelooflik hoe dit altyd allitereer) ´n liedjie van Jottie die griekse boertjie. Iets van ¨draai die kombolooitjie¨. Maar ek´s geskok hoor. Hy praat van iets wat hy in sy sak draai om sy stres te verlig. Ek was nog besig om te wonder of oom Jottie nie dalk vir die Loslyf werk toe kom ek agter ´n kombolooitjie, of iets in den voege, is kraletjies wat Griekse mans by hulle dra en dan so in die rondte draai om ... wel, ek weet nie regtig nie. Nou, ek ken van suggestiwiteid mnr. Die griekse boertjie en ek dink jy het dalk effens oor die lyn getrap. Wie gaan glo dat jy heeltyd met jou kraletjies in jou broek speel as hulle jou sien vroetel?
Na Jottie (op Belboks gebruik jy nie iemand se van nie, al het hy een) se skokkende gefroetel kies iemand toe Shine4 en so ou met te veel gel se liedjie van ´n voicemail. Nou nie juis my tipe musiek nie, maar shit, daai astertjies kan dans – en so mooi saampies (in sinc).
Van die os op die jas, kan iemand ´n beter afrikaanse woord vir ¨in sinc¨ uitdink as ¨gesinkroniseer¨, dit klink te veel soos ´n oumens siekte.
Maar om terug te kom na die astertjies wat so dans; hulle lyk almal verskriklik oulik maar die simpel lirieke en die gel-ou het alles versuur. Die lirieke klink of dit, soos baie van die Belboks liedjies, deur ´n rekenaar aanmekaargesit is. Ek verstaan net nie sekere mense se beheptheid oor rymwoorde soos sokkie, rokkie, tjoppie, doppie, floppie en bokkie nie. Hulle wil alles in een sin gebruik en dit maak nodeloos om te sê glad nie sin nie.
Afrikaans is so ´n kreatiewe taal met die allerpragtigste woorde (behalwe nou vir ¨gesinkroniseer¨). Hoekom gebruik so min kunstenaars dit tot hulle voordeel en meer belangrik, hoekom vind die ¨elktroniese¨ lirieke meer aanklank as die wonderlike woorde van kunstenaars soos Gert vlok Nel, Gian Groen en MD Greyling?
Hier is my boodskap aan die nasie:
Hou op om julle karre so te ref, daar is ´n brandstof tekort.
Luister meer na musiek soos Valiant Swart se goed en waardeer goed deurdagte, diep, afrikaanse musiek. Dit hoef nie te doef om lekker te klink nie.
Powerhouse klere was vyftien jaar terug al uit die mode.
Mans; moenie julle vrouens so slegsê nie, veral nie in die openbaar nie. Daar is beter maniere om konflik te hanteer.
Vrouens; moenie so getrek raak nie, gedra julle soos dames demmit. En haal julle krullers uit as julle kafee toe loop.
´n Land Cruiser moet wit wees, nie neon pienk of pers soos jou vrou se oog op ´n Sondag-oggend nie.
In kort, hou op om so flippen kommin te wees.
Die Wit Rus