klop-klop


Klop-klop die blou deur jou vensters

warm pols klop-klop deur jou hand

Gloei jou buik teen my wang

groei jou vlam

binne my


Vingerpunt raaklings teen jou gesig

vang sterre vol rooi van jou blos

Jou wasem klou steeds aan my ruit

en traan hier binne my venster


Son se gluur brand in my kop

mis jou hande deur my hare

Klop-klop die grou van verlang

spyt pols warm deur my lyf


Koud is jou gedagtes teen my

Oor my spoel jou ysreën

af teen die vensters vol blink seer


Klop-klop die krake in my vensters

elke keer as jy verby waai

Breek my vensters, sny my hart

pols die liefde uit my are

Donker figuur hurk in die deur

glim sy tande

reën die spoeg van sy bek

sy wasem asem hy die kamer deur

stink die laaste vlam dood

blus my vuur

wurg my rook


Jy koester geen verlange

Jy snik met geen geloof

Jy ken geen hoop

Jy het nooit geweet van my

klop-klop vir jou

my pols oor jou

my gloei

net vir jou

.