´n Klopjag op die huis van vergeet
Die nageslag van Delilah moet asseblief nou die terug knoppie druk, hierdie is net vir die manne:
Ek het nou net die liedjie ¨24 uur¨ van Klopjag herontdek. Wat ´n kunswerk. Wat ´n spul waarheid.
¨Ek moet jou vergeet, ek weet, ek sweer ek probeer, maar ek kan nie¨ - Klopjag
Elke ou ken só ´n meisie. Ek verwys nou na die Evaskind wat jou so goed in jou moer gestuur het dat jou kop nou nog so ziiiiing maak. Daai aster wat jou noop om ´n pakkie filters net na middernag op te rook, al het jy nog nooit jou lippe aan ´n sigaret gesit nie. Die prinses van kammaland wat jou in die reën, met jou hoed in die hand, voor die poorte van haar kasteel weggewys het. Daardie meisie wat jou daartoe dryf om die hele skinkbord Tequila alleen op te drink.
Die Italiaanse digter Dante Alighieri (1265 – 1321), wat La divina commedia geskryf het, het bykans al sy gedigte aan Beatrice Portinari opgedra. Sy hele lewe lank, vandat hy haar die eertse keer op die ouderdom van nege gesien het was hy oorweldig deur haar skoonheid, siek van liefde. Beatrice het uiteindelik met ´n ander man getou maar nog steeds het Dante aangehou om haar goedheid te prys. In La divina commedia het sy die hom deur paradiso geneem en uiteindelik na haar plek in die hemel terug gekeer.
Of jy nou die hardste etter op aarde, of die sensitiefste wurm in die biblioteek is, so ´n aster kan jou hart uitruk met groot oë en kak verskoningtjies omdat sy nie genoeg durf het om reguit vir jou te sê dat die hunchback van Notre dame ´n mooi bliksem teen jou is nie. Nimmer as te nooit sal die waarheid oor haar gesplete tong rol. Nooit sal sy sê haar renons in jou is aangevuur omdat jy rook, te veel drink, oor die algemeen maar eintlik ´n kont is, jou asem sleg ruik of jy net nie ambisieus genoeg is vir haar nie. Dis altyd een of ander monoloog reguit uit ´n Danielle Steel hyg-roman met verwysings na haar eie wroeging met die liefde, soppy stories oor vorige rampspeodige verhoudings of iets in die lyn van: ¨Ek´s op die oomblik in ´n baie moeilike plek in my lewe¨ - aaagh, fokkit, het jy al ooit so ´n spul drek in jou lewe gehoor?
Goed en wel, kak gebeur. My vraag is nou net; hoe vergeet mens van haar. Maak nie saak hoe hard jy probeer droom van Ferrari´s en groot kegs bier nie, as jy jou weer kan kry sien jy haar gesig voor jou. Wat my effens afpis as dat sulke asters geen probleem het om jóú te vergeet nie. Soos Klopjag sê; ¨Vier en twintig uur was genoeg vir jou om alles in twee te vou.¨
Ek het dit goed gedink om op vandag iets vir my mede-mans te doen. Ek wil hê elke kalant met ´n bodemlose put waar sy hart moet wees, moet aan my skryf en die tegniek verduidelik hoe jy van daardie de Melker-tert probeer vergeet. Dan plaas ek volgende week almal se voorstelle in een stuk en sodoende móét elke Simson ten minste een tegniek daaruit kan haal wat vir hom werk.
Ons moet saamstaan teen die kurwes, verenig wees in ons soeke na die ware serum teen die leed wat hulle wat sit en piepie ons wil aandoen. En ons sal seëvier want ons is mans. Die ewige jagter, die overskrokke draer van die vlam. Die geslag wat alles begin het, wat verlei is en verdryf is tot buite die poorte van die paradys. Die geslag wat gaan terugveg met ons intelek, durf en deursettingsvermoë.
So gaan nou terug, kliek op ¨stuur vir my ´n E-mail¨, lug jou mening en vertel nog manne hiervan. Hoe meer raad ons kry hoe beter.
As jy anoniem wil bly sê asseblief so.
Die Wit Rus