Kleredrag
Ek wil graag ´n paar mode-ettiket kwessies aanspreek wat my na aan die hart lê. Nie dat ek tannie Emsie Schoeman se kleinseun is nie, dit is bloot my oortuigings met betrekking tot formele en informele kleredrag. Daar is ‘n paar van my-se-mense wat my partykeer laat sidder met die drek wat hulle soggens oor hulle koppe trek (as ek nog een Powerhouse T-shirt sien gaan ek fokken kots). Let wel; hierdie stellings, behalwe vir die laaste paragraaf, het slegs betrekking op mans, ek verstaan vroumense se styl en kleredrag net so goed soos Robert Mugabe die fynere details van diplomasie verstaan.
Werksdrag:
Wit sokkies word NOOIT by werksklere gedra nie, net pedofiele doen dit. Jou sokkies se kleur moet by jou broek se kleur pas, donkerblou of donkergrys sokkies pas nie by ´n swart broek en swart skoene nie. Van skoene gepraat; jy dra nie skoene met sole van meer as 1cm by ´n pakbroek nie. Onthou, hoe hoër jy staan hoe harder val jy. En as die skoen enige gekroomde metaal aanhet, dra jy dit glad nie (behalwe as jy navorsing oor magneetvelde doen).
´n Das by ´n kortmouhemp lyk moer kommin en das wat te kort is, lyk nog erger. Jy dra nooit swart skoene of ‘n swart belt by ‘n kakiebroek nie, so ook nie bruin skoene of belde by ´n swart broek nie.
Effekleurige dashemde met wit krae is dood, brand of begrawe dit. Moet nooit ´n geel das dra nie, dit lyk of ´n heks op jou gebraak het. Moet ook nooit ´n das of sokkies met Disney-karakters dra nie, as jy ernstig opgeneem wil word, moet jy soos CNN lyk, nie soos Cartoon Network nie.
Informeel:
Swart belde of skoene word nie by blou jeans gedra nie. ´n Beltbuckle wat groter is as jou kop word slegs gedra as jy op vakansie is in Texas of Vereeniging.
Jy dra nie ´n afmou hemp in die publiek nie, die cherries spek jou wel meer, maar dis slegs uit skok, jy fire nie hulle jets nie. PT-broeke met die ¨slit¨ aan die kant lyk, en is, ongemaklik, moenie dit dra behalwe as jy ander gay mense opgewonde wil maak nie.
Die hele doel van ´n pet, is om die son uit jou oë te hou, nie uit jou ore of agterkop nie, dra die afdakkie na voor en as jy onder dak inloop, haal dit af.
Jou broek se bokant moet op jou jeupbene sit nie onder jou gat of onder jou arms nie. Niemand stel belang hoe jou boxer lyk of watse snaakse vorme jou genetalië onder druk aanneem nie.
Bykomstighede:
´n Sonbril hoort op jou oë, in sy sakkie, of in jou hand, nie op jou kop, om jou nek, of voor aan jou kraag nie. En haal tog jou sonbril af as jy met iemand praat, behalwe as jy nou net iets gesteel het.
´n Selfoon moet nie aan jou belt gedra word nie, dis ´n Nokia, nie ´n Beretta nie.
Net twee wenke aan die dames:
Daar is niks so mooi soos ´n kant boudeflossie wat net so effens uitsteek nie. Maar met die klem op ¨net so effens ¨. Ek kry trane in my oë as ek van agter vir vrou loer en dit lyk of haar g-string besig is om haar boude en blaaie te sny.
As jy ´n rolletjie het, moet asseblief nie ´n ¨ boob-tube¨ met ´n oop maagie dra nie, ´n stukkie suurdeeg wat oor ´n belt borrel is verkeerd in enige boek.
Die Wit Rus