Die legende van KK

 

Die dag toe Kaptein Tobie Viviers (die bevelvoerder van die polisiestasie) vir Joop die heel eerste keer gesien het, het hy geweet hy gaan hom een of ander tyd moet donner. Party mense het mos net sulke gesigte. ¨Mathinus van Schalkwyk het ook so ´n gesig¨, het Tobie gedink. Goeie waardes en pure onordentlikheid het hom, homself laat inhou, maar daardie dag kom toe maar soos alle goeie en slegte dinge aan sy deur klop;

 

Joop het by die kroeg oorkant die fabriek gewerk. Maar rubbish; sy vrou gereeld goed gemoer, sy Langley Sondag na Sondag nog ´n bietjie laer gedrop en selfs so nou en dan ´n knypie by die hoerhuis om die hoek gaan maak. Soos mense maar is het almal gemaak of hulle niks wis nie want Joop was ´n goeie kroegman – van daardie wat so nou en dan vergeet om jou geld te vra as hy lekker gepis is. En so het dinge voort geploeter, week na week dieselfde ou roetine. Die mans het op Saterdae na die rugby bodyshots uit ou vet-Braam se minderjarige vrou se naeltjie gedrink, die vrouens was mislik, gebliksem, polisie is laat kom en teen Maandag was almal weer happy.

 

Toe, op ´n snikhete, verskroeiende, helwarm dag in November, sak daar ´n rugby toerspan van Grootfontein in Suid-Wes by die kroeg in en begin pot. Maar die een se hande is groter as die ander, skurf soos woestynsand. Jong, daar daag hulle mos toe vir ou Joop uit om saam met hulle Absinthe te drink - was glo hulle borg. Bottel vir bottel het gesak, so mooi ritualisties saam met die gesmelte suiker en alles. Vet-Braam se minderjarige vrou moes later nog ´n kilogram Huletts by die kafee gaan koop.

 

Toe Joop agt ure later sy bewussyn herwin was hy alleen in die kroeg - kaalgat op die toonbank. En dis toe wat die Absinthe-feetjie aan Joop verskyn. ¨Joop¨, sê die fee; ¨hierdie dorp van jou lyk vir my soos ´n bakgat plek, ek dink hier gaan ek en jy sommer nog lekker baie kak maak ¨, en met so swaai van haar towerstaf betrek daardie fee Joop se are soos kwaadaardige kanker. Hy was skaars regop toe´s hy heel besete. Net uit by die bidde-bidde deurtjies poep hy so lang groen flam en blaas die hele kroeg moer toe. Af met die hoofstraat het hy ruit na ruit met sy groen lazer oë stukkend geskiet, die lamppale omgebuig en gedek wat hy in die hande kon kry. Toe die son daardie oggend oor Yzterfontein opkom het dit gelyk of ´n orkaan die plek getref het. Joop het vêr in die veld gaan slaap en die mense was vreesbevange.

 

Bid groepe is gestig, die koerant is laat weet en mense het ¨The Exorcist¨ vrot gekyk vir leidrade oor hoe om hierdie boosheid te bestry. Die mense het hout kruise teen hulle deure vasgespyker en knoffel is in elke huis opgehang. Die angs het soos ´n wolk oor Yzterfontein gehang.

 

Toe die son sak was Hans van die staalwerke se vrou en dogter toegesluit in hulle nuwe chastity belde en die res van die dorp agter slot en grendel. Nege-uur daardie aand was Joop terug om te plunder, die dorp se mans het uit hul toegeplankte huise op hom geskiet maar die koeëls het net so ¨tshwiiieeee¨ van sy lyf af getrek. Teen tien uur was die teerpad al opgebreek en meeste van die winkels afgebrand.

 

Maar uit die puin en as kom daar toe ´n held in ´n geel poeliesvan aangejaag – Kaptein Tobie Viviers. Tobie het daai van met so ´n windgat fluit van bande in die pad tot stilstand gebring en uitgeklim. Die dorp het doodstil geraak. Joop en die fee se oë het verstar. ´n Tolbos het tussen die twee verbygerol. En toe gewaar almal dit; in Kaptein Viviers se hand was die enigste super-elikser wat hulle kon red - ´n bottel Klipdrift brandewyn! Tobie het ´n groot sluk gevat en gesê; ¨Berei jouself voor vir die krag van Kaptein Klipdrift!¨ Tobie het stadig na Joop toe begin loop, toe begin hardloop, dit het gelyk of hy teen die spoed van lig beweeg. Joop het hom probeer skiet met sy lazer oë maar die Kaptein het soos paparazzi om Britney Spears beweeg. Toe Tobie voor Joop te staan kom was die gort gaar – hy´t daar losgetrek en die feetjie sewentig maal sewe keer uit Joop se tenger lyf gedonder, so hard en aanhoudend dat die feetjie op Dassen-eiland gaan skuiling soek het. Die dokters moes nog bloed uit Darling laat kom om díe wat Joop verloor het te vervang.

 

So het die legende van Kaptein Klipdrift begin – die man wat ´n hele dorp gered het voor volksvreemde drank dit kon uitwis.

 

 

Die Wit Rus