´n Konsertina vir Kersfees
Op die plaas Jakobsvlei het daar eenmaal lank-lank gelede ´n seuntjie gewoon. Stil en diep soos die put by Kolvlei, lank en vol senings soos tant Babs se beesstert. Sy naam was Maans, Manie, vir die wat hom ken. Hy het vir my díe storie vertel – uit sy bed in die ouetehuis;
Daar was maar min maats om mee te speel naby Jakobsvlei, oupa LangHennerik het altyd gemeen dis die dat Manie so kon dagdroom. Daardie tyd was die plase nog so groot soos die Heer se genade, sonder drade of teerpaaie wat hulle opsny. Die Sekelbosse het soos stil krygers van ´n massiewe weermag in die bloedige son gestaan, hul dolke geslyp om regdeur jou skoen te steek, elke vlegsel van tak en blaar ´n skuilplek vir Luiperds. Dit was harde wêreld, dors wêreld, onvergeeflik ... en pragtig.
Een Maandagoggend vroeg, ´n dag voor Kersfees, is Manie se pa saam met twee jonge en sy wa daar weg dorp toe. Manie het geweet wat dit beteken; hy gaan daardie nuwe kettie wat hy in ou Joon se winkelvenster gesien het koop, of as hy regtig gelukkig is – daai blou Weatstone konsertina. Sien, Manie kon nie net konsertina speel nie, hy´t ´n konsertina laat kerm, dit was asof die regte knoppies voor sy vingers inspring, die wurm het net die regte noot gehuil. Díe het hy geleer speel toe oom Ben van sy ma ´n rukkie daar gebly het. Oom Ben was so beïndruk met die klein lat se spelery dat hy sommer sy eie konsertina daar gelos het. Maar toe kry Hes se klein vuilgoed-brakkie dit beet en verskeur die hele ding. Van toe af droom hy van daai blou Weatstone. Maar wat, hy´t geweet sy pa is nie die rykste nie en hy kort immers dringend ´n nuwe rekker.
Manie moes daardie middag die drie beeste wat hulle oorgehad het na die droogte tot heel bo in die kloof lei waar daar darrem nog so ´n kommetjie water koel onder die takke gelê het. Dit was omtrent ´n halfdag se loop tot bo en terug so hy moes vroeg in die pad spring. Teen vroeg middag kom hy toe doodmoeg by die poel aan met die beeste so ent agter. Die koel water was die lekkerste lekker. Die skadu van die bome weerskante van die kloof hemels. Manie het vir ´n oomblik met sy kop op ´n koel lappie mos gaan lê en begin dink, sommer so oor die lewe en daardie blou Weatstone en ....
Toe Manie wakker skrik was dit al agtermiddag, die beeste was skoonveld en daar was ´n onheilspellende sluier wolke oor die blou lug getrek. Die eerste ding waaraan hy kon dink is dat sy pa hom hierdie keer nie net die Leviete gaan voorlees nie maar ook sommer Openbaring met ´n sambok in die hand - hierdie was nie die eerste keer wat die drome hom so oorrompel het nie.
Manie het soos ´n malle begin soek na die dwalende beeste, maar díe was gelukkig nie te vêr nie. Die groot moeilikheid was om hulle by die berg af te kry voor die storm met mag en mening op die aarde neerdaal – die blitse het klaar binne die wolke begin rond-dans. Net voor die pad oor die nekkie begin dit toe sous, emmers vol. Manie het nog nooit so baie water gesien nie. Het al sy pa se gebede vir reën dan êrens voor die hemel vasgehaak en op een slag deurgegaan?
Hy´t die beeste almal aan mekaar vasgemaak en onder vetste os gaan sit. Na ´n ewigheid het dit so effens begin opklaar maar Manie het besef om nou teen die berg af te ploeter sou moord wees - dit was teen daardie tyd al stikdonker. Hy´t die pad oor die nekkie goed geken, dis dieselfde pad wat sy pa daardie oggend dorp toe geneem het, hy sou tog nie in hierdie weer terugry plaas toe nie? Hy moes net daar wag vir sy pa ... en sy sambok. Die reën het na ´n ruk stadig maar seker opgehou, maar die koue het in Manie se bene ingekruip, en hy´t bonop nog allerande geluide begin hoor wat net nie gesond is vir iemand met so ´n bedrywige verbeelding nie. Stefan van oom Voetjies het hom hoeka na die laaste nagmaal in die groot dorp vertel van ´n man wat op donker nagte met sy kop onder sy arm deur net so ´n kloof jaag – met vuurballe waar sy oë moet wees. Manie het van kop tot tone hoendervleis gekry – hier sit hy met ´n gebreekte rekker en hy kan nie eers goed klip gooi nie. En toe, in die vêrte, hoor hy ´n wa aankom. Al nader tot dit reg voor hom tot stilstand gekom het.
Wat hy daardie aand gesien het, het hy homself belowe, gaan hy nie eers probéér om vir sy pa te vertel nie, hy mag dalk net ´n oorveeg kry. Daar in die paadjie het ´n Kakebeenwa gestaan met ´n goot ronde man bo-op, en voor die wa .... ses tamaai Koedoebulle ingespan. Manie se mond het oopgehang - in sy lewe sal niemand hom glo nie.
¨Naand boetie¨ kom dit van die man op die wa, ¨sit ´n bietjie handjie by, mens kry nie sommer hierdie pens self van hier bo af nie hoor.¨
Manie het geskarrel om die oom van sy wa af te help, wat toe nie so maklik was as wat dit gelyk het nie.
¨En toe, wat roep hulle jou?¨
Manie wat steeds na die Koedoes gestaar het het met ´n krakerige stemmetjie geantwoord;
¨Maans oom ... eintlik Manie.¨
Die oom het begin ruk van die lag; ¨Is dit nou Maansoom of Eintlikmanie? Ek´s Nieklaas, Nieklaas van die noorde.¨
Manie het die oom ´n stywe handdruk gegee nes sy pa hom geleer het en vir die eerste keer besef hoe verlig hy is dat iemand op hom afgekom het. Oom Nieklaas het ´n vuur gemaak, sommer so met die nat hout, en vir Manie ´n kombers gegee.
Hulle het begin gesels, oor alles, alles waaroor Manie so dagdroom, lande vêr oor die oseane en konsertinas. Uiteindelik het Manie begin moeg raak en ingesluimer langs die vuur, lekker warm en met ´n geruste gemoed. Toe die dou hom die volgende oggend wakker maak was oom Nieklaas weg en Manie se nek was seer van die groot klip waarop hy sy kop gerus het. Hy´t die kombers opgelig om na die sondebok te kyk en na sy asem gesnak – onder die kombers op ´n pol gras het ´n splinternuwe blou Weatstone gelê.
Hy´t hom verwonder aan die spierwit knoppies, die patroontjies op die kante, en hom so lekker lang trek gegee. Dit was die mooiste geween van ´n wurm wat hy nog ooit gehoor het. Manie het hom net reggemaak om ´n lekker vastrap te speel toe sy pa oor die bult kom.
Dit het ´n rukkie geneem om homself te verduidelik (natuurlik nie baie oor die wa uitgebrei nie) maar uiteindelik het sy pa hom vasgedruk en gesê; ¨Net solank ons almal saam is vir Kersfees is alles voor die wind.¨
Oom Manie het vir my daardie dag in die ouetehuis gesê; ¨Ek is nie ´n man wat in onbenullighede glo nie, maar daardie aand met die wa en die Koedoes, was niks anders as pure magic nie.¨
Almal van ons beleef Kersvader anders. Of hy nou ´n rooi pak met wit tossels dra of vellies met ´n kam in die kous. Hy help ongelowiges om die vreugde van Kersfees te beleef, en wie weet, miskien die regte pad te sien. Dít is hoekom ek dink Kersvader steek dalk ´n stralekrans onder daardie rooi mus weg - hy´t verseker ´n tikkie engel in hom.
Maar as jy hierdie Kersfees vir ´n oomblik stil raak tussen die warm geklets van die mense na aan jou en vir net ´n oomblik hulle teenwoordigheid vóél (maak jou oë toe as dit moet), sal jy besef kersfees is nie ´n groot man met ´n baard, liggies aan ´n plastiek boom of klein goue klokkies nie. Kersfees is liefde. Liefde vir mekaar, en liefde vir ´n baie spesiale babatjie wat vir ons elkeen meer gedoen het as wat ons ooit kan begryp. Al wat Hy vir Sy verjaardag wil hê is ´n outhou-drukkie van twee biddende hande.
Ek wens vir julle almal ´n geseënde Kersfees, die teenwoordigheid van skares omgee-mense, en net so ´n bietjie magic.
Die Wit Rus