Die moderne mite van Mej M
Bigfoot, Logh Ness se monster, die Jetti. Gediertes waaraan mense hul verwonder en al baie verbeeldings aangegryp het. Ons wil hê hierdie goed moet bestaan. Ons wil iets nuut ontdek in ´n wêreld waar alles ou nuus is. Nog so ´n gedierte is my vriend JJ se ¨meisie¨.
Mense het haar al gesien, daar bestaan foto´s van haar, maar niemand weet regtig of sy net ´n verdigsel van sy verbeelding is en of sy ´n werklike tasbare mens is nie. Ek het haar al self gesien - net vlugtig. Was dit ´n drogbeeld? Het my brein ´n pragtige meisiekind geskep wat my oë gesien het omdat ek haar wou sien? Ek het besluit om hierdie kwessie te analiseer en hopelik ´n oplossing te vind;
Hoekom sal JJ sy ¨meisie¨ wegsteek?
Dit sal heel logies wees om vir ¨Mej M¨ van sy vriende af weg te hou omdat die meeste van ons se etiket-breinlob nog nie regtig verder as die Neanderdal s´n geëvolueer het nie. Die vloekwoorde en gevaarlike dinge waarmee ons die noodlot tart sal enige vroumens na maandstond-simptome dryf.
Aan die ander kant het ons klomp buffels die beste mensekennis, sêgoedjies en kuierlus wat ek nog beleef het. Ons is mens-mense wat lief is vir die bottel maar ook vir die geselskap van ´n wye verskeidenheid karakters. Ons is immers grootliks verantwoordelik daarvoor dat hy ´n karakter onwikkel het waarop sy verlief geraak het.
Dit kan wees dat hy skaam is vir Mej M - sy´s dalk hard met die lelike-stok gemoer. Maar JJ vertel dikwels hoe mooi sy is, so laasgenoemde kan nie die rede wees nie.
Bestaan sy regtig?
Hierdie punt is oop vir debat. Die feit dat twee mense (myself ingesluit) wat ek ken haar al gesien het en dat ek selfs al ´n foto van haar gewaar het, ondersteun die teorie dat sy wel bestaan. Aan die ander hand is daar duisende foto´s van Nessie, Bigfoot en slim spietkops, asook mense wat hoog en laag sweer dat hulle al hierdie verskynsels gewaar het. Ongelooflike goed kan deesdae met Photoshop gedoen word, om die foto wat ek gesien het self te maak is kinderspeletjies en soos ek hierbo gesê het, het ek haar dalk in my gedagtes geskep omdat ek wou glo dat JJ ´n meisie het. Ek en heel waarskynlik die ander persoon wat haar ¨gesien¨ het, het haar as´t ware lewendig gedink. Dis redelik algemeen dat mense goed sien wat nie daar is nie, omdat hulle of vas oortuig is dat dit bestaan of hoop dat dit bestaan.
Een van die simptome van skisofrenie is hallusinasies. As mens dink dat ´n persoon se kanse tussen sewe en nege uit ´n duisend is om skisofrenie te ontwikkel, kan maklik afgelei word dat JJ aan ´n ligte geval van skisofrenie lei en sy brein Mej M ontwikkel het. As ingereken word dat hy ´n ouditeur is en meeste ouditeurs in elk geval aan ´n wye reeks bipolêre, represiewe, projektele en sublimatiewe geestelike krenkings lei is die hipotese, dat Mej M vir hóm ´n baie werklike hallusinasie is, glad nie vergesog nie.
As hy normaal is, hoekom sal hy vir ons lieg?
Die reuse taak om ´n meisie te ontwerp, vir haar ´n familie, ´n blyplek, motor en ´n beroep uit te dink is nodeloos om te sê ´n logistieke nagmerrie, maar skrywers doen dit elke dag. Die moontlikheid bestaan ook dat hy te veel van ´n poeiergat is om die hele naweek saammet sy vriende te drink en dan ¨Mej M¨ as verskoning gebruik om ons te ontduik. Hierdie toerie vind veral byval - die feit dat hy ´n Peugeot 206 besit help sy verdediging nie veel nie.
Ter opsomming
Na hewige innerlike debat het ek nog nie nader gekom aan ´n oplossing vir die raaisel nie;
- Ek wil nie glo dat een van my kamerade my bedrieg deur my in die oë te kyk en kak stories te wiggel nie, maar daar bestaan ´n goeie moontlikheid dat dit wel die geval is.
- Ek wil nie glo dat my vriend van sy rocker af is nie, maar hartseer soos dit is, is daar ook ´n moontlikheid dáárvan.
- Daar is volgens my net soveel bewyse dat Mej M bestaan as bewyse dat sy nie bestaan nie.
Behalwe as ´n klomp mense haar gelyk sien bly die kwessie van JJ se ¨meisie¨ dus ´n moderne mite. Dis nou behalwe as hy betrap word waar hy ´n brose Saterdag-middag aan ´n bottel Creme Soda voor die TV lê en suig, terwyl hy en Mej M by ´n fliek moes gewees het. Of as die manne met die wit jasse hom in ´n bekussingde sel gooi en sy stapelvoedsel Prozak word.
Die Wit Rus