Oor blink humeure met wiele
Ek sien hulle elke oggend werk toe ry. In enigiets van ´n geroesde skedonk tot die heel nuutste duitse blinkes. Ek wonder partykeer; Vir wie is hulle so kwaad? Waaroor is party van hulle so gelukkig?
Wie gaan die ou in die BMW bliksem sodra hy by die kantoor instap?
Met wie baklei die vrou met die sigaret en muurprop-hare so oor haar selfoon?
Hoekom lyk die vrou met die vyf kinders in haar gesondheidsbrood karretjie so gelukkig?
Waaraan dink die oom in die Datsun langs my wat hom so laat glimlag?
Daar is duisende mense met duisende verskillende lewens en gevoelens.
Die man in die BMW se vrou het hom dalk vir sy ouditeur gelos wat sopas sy pensioengeld gesteel het. Nou moet hy vir die res van sy lewe werk. Of hy het in hondestront getrap en sy gesig trek so nors van die reuk. Miskien lyk sy gesig maar so en hy is eintlik ´n baie vreindelike, godvresende familieman.
Die vrou met die sigaret in die een hand en die selfoon in die ander (bestuur seker maar met haar bene) vertel miskien vir haar vriendin hoe lekker haar vakansie was en het vir baie lank drama geswot. Sy is nog so uitgerus dat sy net nie lus gahad het om haar hare te kam nie. Sy kan natuurlik ook met die munisipaliteit baklei omdat sy vir ure moes aanhou en haar krag nog steeds nie aangeskakel is van gisteraand af nie. Dit sal verduidelik hoekom sy nie haar warmborsel vanmôre kon gebruik nie.
Die vrou in die regop multisitplek karretjie kan baie lief wees vir kinders of net voor die kinders glimlag om weg te steek dat hulle papa haar gisteraand regtig seer geslaan het. Sodra sy die kinders afgelaai het kan sy haar gesig soos die man in die BMW trek en dokter toe jaag, as sy net kan uithou tot dan.
Die oom in die geroeste Datsun dink dalk aan die keer toe hy en sy vriende perskes in die dominee se tuin gaan steel het, kleilat gegooi en skelm agter die snoepie gerook het. Of hy kan dink aan die keer toe hy geld uit die kerk se kleinkas gesteel het om te gaan drank koop vir hom en sy skelmpie.
So baie mense, so baie moontlikhede. Dink bietjie hoeveel keer jy daardie ou in die blink duitse wa gevloek het omdat hy sy ligte agter jou flits om verby te kom. Het jy toe gedink dat daardie ou met die groot oë agter die stuur se seuntjie dalk op die agtersitplek lê met ´n gebreekte arm? Of het jy eerder aspris voor hom in die baan gebly todat hy jou links moes verbysteek.
Dink net hoeveel keer jy die ou in die vrot geroesde Isuzu verwens het omdat hý te stadig ry na jou wense? Weet jy presies hoeveel geleenthede hy al in sy lewe gekry het en hoe lank hy al sukkel met daardie bakkie?
Die woord verdraagsaamheid is al so verkrag deur die politici dat ek dit nie gaan gebruik nie.
Wat ons dringend in hierdie wêreld nodig het is die wilskrag, moed en intelligensie om ander mense om ons, nie net op die pad nie, die voordeel van twyfel te gee. Dit is nie maklik nie, ek weet, maar omdat daar soveel onverskoonbare idiotiese dinge op die pad gebeur dink ek dis die beste plek om te begin omgee en respekteer. Daarna is die ander situasies in ons lewe redelik maklik hanteerbaar.
Onthou;
Jy gaan ook eendag oud, hardhorend en stadig word – die wiel draai.
Sal jy wil hê iemand moet stadig voor jou ry as ´n persoon waarvoor jy omgee in pyn op die agtersitplek lê?
Nie almal het dieselfde geleenthede gekry nie. Almal sal eerder ´n nuwe vinnige kar in plaas van stadige geroesde een wil bestuur.
Sirenes is daar vir ´n rede, draai uit as een agter jou aangejaag kom. Jy mag dalk jou wieldop verloor in die proses, maar in ´n noodgeval tel elke sekonde – as tien mense vinnig genoeg uitdraai kan die ambulans ´n minuut vroeër daar wees.
Ons sal nooit al die mense om ons se lewens en denke presies kan opsom deur net na hulle gedrag te kyk nie. Gee partykeer vir daardie bedonerde ou in die Mercedes ´n kans om voor jou in te draai en glimlag dan van oor tot oor. Wie weet, miskien keer jy dat iemand wat ´n familie het om te onderhou, afgedank word.
Die Wit Rus