Oom Herman se
terugkeer
Hy sit op die ouetehuis se stoep en kyk na die
piepklein tuintjie. Hy het al dikwels gewonder hoeveel van hierdie belaglike
stukkies grond hy op sy plaas sou kon inpas. As die wolke so saamdrom en blitse
maak in die vêrte soos vandag, mis hy Sekelvlei. Party oggende verbeel hy
homself hy ruik die kraal as die wind net reg draai. Hy verbeel hom hy hoor vir
Sokkies teen die deur krap om sy melk binne te kom drink. Hier tussen die koue
stene is die enigste lewe die miere en goggas wat al langs die muur skarrel. Die
enigste bries rammel kunsmatig uit ´n ou waaier. Medisyne en krukke is die
klippies en bosse.
Toe oë probeer hy dink presies hoe die koring
op die lande goudgeel golwe onder die son gemaak het, die trekker se doef-doef
in die vêrte onthou, die Tarentale wat regmaak vir die donker.
Die son skyn nooit in sy kamer soos op die
swaai bankie voor die ou Wildevy nie. Die son het moed opgegee met hierdie
spelonk, asof hy nie meer sy energie wil mors op ´n ou sieklike man
nie.
Hy skakel sy verwarmer aan en maak of dit die
knetterende vuur is op die berg die keer toe hy sy os gaan soek het. Hy´t die
dier naby aan die vuur vasgemaak sodat hy nie koud kry nie en hom net daar
´Beswaard´ gedoop. Sy voorkop, wat altyd op ´n plooi getrek was, het hom altyd
aan die besadigde diaken laat dink wat elke Sondag voor hom in die kerk gesit
het. Hoe wens hy hy kon net nog een keer sy vingers deur Beswaard se lang
rooibruin hare op sy skof trek. Hy sien sy groot oë waarin hy altyd ´n bietjie
mens gesien het. Hy voel sy perd teen sy arm stamp vir nog ´n suikerklont wat hy
altyd baie versigtig uit Martie se kas moes steel.
Die reën begin op die sinkdak raas en hy sê uit
gewoonte dankie na bo. Maar die reën hier is nie dieselfde as op die plaas nie.
Dit gee nie lewe nie, dit maak koud en styf.
Sulke oggende mis hy die bloedige warm dae en
die groot doringboom op die bult waarteen hy gaan sit het om uit die son te kom.
Dit is naby daardie doringboom wat hy vir Bekkie, sy eerste hond, begrawe het.
Dieselfde boom wat hy en Martie Beukes smiddae heen gegaan het om onder hul
ouers se oë uit te kom. Dis ook daardie doringboom waar hy haar gevra het om te
trou en veertig jaar later haar lyk gekry het.
Hy sien steeds die bloed oor haar gesig, die
ysterpyp wat eenkant, skuldig in die gras lê. Hy sien hulle glimlag in die hof,
hulle familie wat hom tart en hy sien sy eie mense wat hulle skouers optrek asof
dit normaal is om die beste ding in jou lewe te offer vir die duiwel se
skynheilige magte.
Die geweer is koud in sy hande, die loop styf
teen sy voorkop gedruk.
Saggies prewel hy: ¨ek´s oppad¨.
En die engele kry solank die stropers reg en
gooi die blomme voor die huis nat, want hulle weet hy kom - Oom Herman kom terug
plaas toe.
Die Wit Rus