*


Henco van Wyk van Potchefstroom het homself Vrydagmiddag by sy ouerhuis opgehang. Hy was net tien jaar oud. Ek het hom nie geken of al ooit van hom gehoor nie, maar om een of ander rede wou ek vir hom ietsie skryf;



Henco van Wyk – 21/10/05


wat was fout klein willewragtig?

kon niemand jou trane hoor val?

wat het jou laat dink dis hopeloos

as mamma jou in die aande troos?

watse grootmensdinge het jou hart kom vang?

wie het die diepste donker aan jou siel kom hang?


waarom was jy so sad blondekopklits?

het jy geweet die donker bliksems in jou pad was eintlik niks?

lê maar stil tussen hout en satyn presies uitgemeet

niemand daar bo het jou ooit vergeet

hulle wag daar met ´n vierwiel bike en tshoklitkoek

terwyl ons, hier onder, die antwoorde soek


weet maar jou boeties het hard probeer

om jou siel se swewe na die ander kant te keer

hulle dra ´n stukkie van jou skaarse lag

soos skitterblink klippies in hul harte dag na dag


sê vir hulle met die lig bo die wolke ons verstaan nie

sê vir hulle ons wil

sê vir hulle al glo ons nog is ons gebede vir ´n paar aande stil


eendag sal ek jou kom vra

waaraan het jou hart só swaar gedra

deur die trane sien ons die son maar eendag weer

die seer verdoof miskien, maar dit kom terug, keer op keer




Die Wit Rus