Die groot verlange



Ek verlang na Saartjie. Nie Annie Malan nie, Saartjie wat op die tievie was. En ek verlang na die Bokshombende, Boesman die brak en die Man van staal. Toe ons nog kaalvoet met He-man manne in die tuin kon speel met ´n hek wat slotloos oopstaan. Toe ons vir Marietjie op haar strawberry-mandjie-fiets moes weghol voordat sy ons soen.


Ek verlang na die kere wat ek en my ouma in kleuterskool-vakansies kafee toe gestap het. Ek met my volle cammo-gewaad en Rambo-mes, sy met haar blommetjies rok. Sy´t altyd volgens my so stadig geloop, soos iemand wat die wêreld se tyd gehad het. Min het ek geweet dat ek ook die wêreld se tyd gehad het. Daar was geen rekenings om te betaal nie, geen ongeskikte kliënte om te paai nie. Daar was net die sypaadjie, my ouma se verrumpelde omgee-hand en die vooruitsig van ´n handvol Fireballs.


Ek verlang na padpatrollie. Nugter weet alleen of ons enigsins die lewe veiliger gemaak het vir die skoliere. Die belangrike ding was die vroeg opstaan om saam met jou vriende in die bittere koue langs die pad te staan. In daai belaglike oranje beffies het ons vir elke motoris wat verbygaan ´n ander gesig getrek. Ons het meer gelag as enigeiets anders, veral die kere as die Kaptein gedreig het dat hy; ¨Lid passeer ´n flatus¨ in die voorvalleboek gaan skryf as Daan nou weer poep.


Ek verlang na Voortrekkers elke Woensdag na skool en verag die mense wat nou se dit was een groot komplot om kinders te leer om swartes te haat. Ek maak nou nog die knope wat hulle my geleer het as ek iets moet vasbind, braai nou nog ´n varkrib langer aan die beenkant en maak selfs so nou en dan stokbrood met stroop in. Die stories wat om die reuse kampvure vertel is en die liedjies wat gesing is sal ek nooit vergeet nie. Ook nie die nagmarse, hardgekookte eiers vir ontbyt en die hoofmeisie se pantie toe sy voor my oor die hindernisbaan gesukkel het nie. Dit was die eerste keer wat ek met ´n longdrop kennis gemaak het. Ek het as gevolg daarvan my uiters suksesvolle veldtie tegniek vervolmaak. Ons is geleer oor hoe ons voorvaders oor die berge moes swoeg om weg te kom van die etterse engelse af – die ware geskiedenis soos vertel deur die mense wat daar was, nie die aweregse strond wat hulle nou vir kinders vertel nie. Ons mense was ons trots, waar gaan ons kinders van trots leer?


Ek verlang na die visvang saammet my oupa, al het nie een van ons ooit iets gevang nie. As ek in die aande gaan slaap onthou ek hoe hy nagte deur langs my bed kom kniel het en ´n elle lange gebed prewel om my veilig te hou van die lewe. Ek mis die kere wat hy op Naas Botha geskree het en die manier wat sy voet getik het as daar boeremusiek iewers speel. Ek mis elke keer wat hy na Sondag middag ete die konsertina probeer speel het en my kitaar uitgestel het. Hy het vir my gebid dat die nare stad my nie insluk nie en dit het gewerk. Maar hy is nie meer hier nie. Wie gaan nou vir my en die kleinkinders van ons land bid?


Ek verlang na ´n land waar my mense kon praat daaroor as hulle trots was op wat ons voorvaders vir hierdie land gedoen het, trots kon wees op sy taal en kultuur en nie hoef te swyg omdat dit polities inkorrek is nie. Mens noem dit vryheid van spraak.




Die Wit Rus