Die Groenes
Ek het onlangs agter gekom dat ek so ‘n bietjie van ‘n greenie is. ‘n Tipe “environmentalist”. Die rede vir my openbaring is dat ek, onder andere, deesdae meer daarvan hou om na bokkies te kyk as om hulle te skiet. Omdat sulke persone (greenies) vir my in die selfde kategorie val as mense wat swart babatjies aanneem omdat dit mode is en in 1992 ‘ja’ gestem het vir dieselfde rede, het dit my groot laat skrik. Ek wil nie in daardie groep val nie. Ek wil nie eers sulke vriende hê nie. Dit maak my kwaad om net met sulke mense te praat.
Meeste greenies wil hê die mensdom moet soos oorlede antie Stienie suffer. Ons moet almal in koue modder huisies bly, nooit weer poep nie en slegs vrugte eet wat reeds van die boom geval het. Natuurlik moet die insekte ook eers ‘n happie van die vrugte gehad het, want hulle het ook siele en mense hoort in elk geval nie in die voedselketting nie.
En as jy dink plaasdiere word greenie se gramskap gespaar moet jy weer dink. Een of ander bleeksiel het vir ‘n jaar koei poepe gaan staan opvang en uitgewerk dat ‘n bees 100 kg metaangas per jaar produseer. So hulle mag ook nie poep nie. Watse hartseer, lewelose, bleek, smaaklose lewe moet jy lei as jy in die aande lê en dagga rook terwyl jy peins oor bees poepe? En ja, hulle rook Dagga. Baie. Dit borrel by die vensters van hulle Priusse uit.
Wat my tot ‘n baie belangrike punt bring. Die Toyota Prius. Om een van hierdie Hollywood karretjies te maak het jy Nikkel nodig vir die battery. Dis waarom Toyota elke jaar 1000 ton by ‘n myn in Ontario (VSA) aankoop. Die prosesse wat die myn gebruik produseer soveel suur reën dat die area om dit bekend staan as “the dead zone” en NASA nou hulle maan karre daar toets. Van Ontario word die nikkel eers na Europa vervoer, dan na China, dan na Japan en uit eindelik terug na Amerika. Als ingereken neem dit 50% meer energie om ‘n Prius te bou as ‘n Humvee. En onthou; ‘n Humvee is vir drie keer langer op die pad, voor dit opgesmelt word, as ‘n Prius. En hulle worrie oor ‘n koei se poep...
Wat gebeur het met die Prius is presies wat gebeur het met swart babatjies. Hulle het mode geword. Ons gee nie regtig om vir die aarde nie – dit moet net lýk of ons omgee. Sodat ons ‘n honderdduisend rand se kaviaar kan opvreet by ‘n welsyn dans wat tweehonderd rand skenk aan iemand in ‘n hut wat bly in ‘n land oor een of ander oseaan. En en natuurlik word die rook van die dagga wat by sulke funksies gebruik word nie ingereken by groen huis gasse nie omdat dit organies is en eksistensialisme bevorder.
Greenies se kortsigtigheid verstom my werklik. Hulle het onlangs voorgestel dat geen olifant ooit weer geskiet mag word nie. Maak nie saak hoeveel bome hulle doodmaak of hoeveel ander spesies hulle laat vrek van die honger nie. Sien, ‘n olifant is net te cute om dood te maak. Hulle moet almal gelos word om in bome te verander aan die einde van hulle lewens – net soos Dawie die kabouter. Ek hou ook van olifante. Regtig. As ek hulle in ‘n sirkus sien met kettings aan hulle voete wil ek net hansworse vermoor. Maar ek het al gesien wat doen olifante aan die bosveld. Hulle is die sokker hooligans van die natuur. As Ollie die heel boonste blaar van ‘n boom wil eet stoot hy die hele boom om en beweeg aan. Nodeloos om te sê hou bitter min bome van horisontaal groei.
Dit is net logies; as daar te veel diere is wat elke dag 220kg groen goed elk eet en dan nog bome vermoor so ver as hulle gaan, gaan daar niks vir die ander diere oorbly nie. Hoekom kla geen greenie oor die cute leeutjies wat gaan vrek van die honger nie? Olifante is skattebolle, maar hulle moet uitgedun word. Dit is net logies. En onthou; HULLE IS DIERE, HULLE HET NIE REGTIG EMOSIES NIE. Diere het net een ding op die brein – seks en kos.
Net gister sit ek en kyk na daai klets program wat aangebied word deur ‘n vrou met gemaklike skoene. Een van haar greenie gaste het ‘n boek geskryf oor waarom almal in die wêreld dadelik moet ophou vleis eet. Hy beweer, onder andere, dat die mens nie gemaak is om vleis te eet nie. Ons is eintlik almal vegetariërs van die dag wat ons uit amoeba geëvolueer het. Wat??? Ek is nou nie snaaks nie maar is nou die grootste klomp stront wat ek in ‘n lang tyd gehoor het. Dink daardie moer regtig dat die mens vandag sou wees waar hy is, as dit nie vir vleis was nie? Idioot.
Ek het dus agter gekom ek is nie ‘n greenie nie. Dit beteken nie dat ek alles wil doodmaak wat roer of poedels is my spaar tyd martel nie. Ek glo ons het ‘n verantwoordelikheid teenoor ons nageslagte en moeder aarde – moet net nie die sambreel in die gans se gat oopmaak en dan boonop net om in die mode te wees nie.
Julle moet my dan nou verskoon. Ek gaan my 4.2 liter diesel Land Cruiser so bietjie ref.
Die Wit Rus