Die groen blomme-projek
Ek het Maandagaand die 20ste Maart die voorreg gehad om Anton Goosen se CD vrystelling by The Steak and Ale in Centurion by te woon. Soos alles wat die godin van Afrikaanse musiek-blootstelling, Lydia Winchester, reël was dit weer ´n skitter-funksie. Daar is net ´n paar aande in my lewe wat totaal en al behoorlik bekoorlik was en hierdie was een van hulle.
Die drek van die Suid-Afrikaanse media (Die Son) het hulle pionne ook daar gahad maar ongelukkig vir hulle glo ek nie hulle kon enige skietgoed bymekaar maak om iemand se loopbaan op te fok nie.
Die CD se naam is ¨groen blomme-projek¨ - Anton het ´n paar van die ¨groentjies¨ van Afrikaanse musiek se talent op ´n ronde stukkie goud vasgelê. Dit lyk my Anton kan net nie genoeg vir Afrikaanse musiek doen nie. Afrikaans se fans skuld hom ´n groot dankie.
Ek glo vas Anton haal sy stembande elke aand uit en vries dit in ´n spesiale cryogenic Coleman langs sy bed. Kyk, Anton is nou nie meer vandag se kind nie maar sy stem is nog vyf en twintig. Die liedjie ¨Forever young¨ wat almal saam gesing het, het regtig meer betekenis gekry.
Die manne wat saam met Anton gespeel het daardie aand het my asem weggeslaan, hulle is die superheros van die Suid-Afrikaanse musiek bedryf. Hulle het nie bloed in hulle aare nie, maar klein musieknootjies – mooies. Hulle was;
Dromme; Vinnie Henrico
Vinnie het eintlik agt arms, waarvan slegs twee sigbaar is vir die gewone mens. Daar is geen ander verduideliking nie – hoe die dôner anders speel hy dromme, drink met die een hand, mis nie ´n beat met die ander en kyk nog vir die gehoor ook nog nie? Vinniger as ´n AK, harder as ´n G6 en so rustig soos ´n vrieskoei wat dagga gevreet het.
Baskitaar; Jasper van Rensburg
Om baskitaar te speel is vir Jasper soos wat tandeborsel vir gewone mense is. Dit kom nou maar net natuurlik. Dit lyk kompleet of die kitaar ´n verlenging van sy hand is. Hy laat dit so maklik lyk soos om met ´n Land Cruiser oor Marthinus van Schalwyk se kop te ry – en so lekker.
Kitaar; Theo van Rensburg
Mense, ek kan nie op papier verduidelik wat hierdie man met ´n kitaar doen nie. As jy dit nie self beleef nie sal jy nooit die volle omvang daarvan verstaan nie. Volgens my bestaan daar ´n groot moontlikheid dat die mense in hierdie land nog sulke klein brons beeldjies van hom gaan giet en dit aanbid. As Erick Clapton, Albert Frost of Slash daar was het hulle hulself verseker aan die slaap gesnik want Theo speel die kak uit al drie van hulle uit.
Dit word vir my al hoe meer duidelik dat die meeste Suid-Afrikaanse musiek-aanhangers skape is wat agter mekaar aanloop in dieselfde ou groef - as Piet Poepol sê iemand is ´n goeie musikant moet ek ook so sê, ek wil tog net nie uit voel nie. Hoekom anders is die bogenoemde musikante nie huishoudelike name nie?
En hierdie (meestal bona fide) vals patriotisme van mense wat sê; ¨ek luister NET Afrikaanse musiek¨, moet nou klaar kry. Dit is hoekom Suid-Afrikaners vas oortuig is alle liedjies moet doef, skud en perfek rym. Hulle het vir hulle oorklappe geweef uit gare van apatie. Dis die selfde ou storie – ons wil nie meer weet nie, dis te veel werk, ek voel veilig in my ou koekonnetjie. Jy kan nie ignoreer dat die res van die wêreld se musiekbedrywe ligjare voor ons s´n is nie, leer van hulle! Ons het maar onlangs ophou skaam wees vir ons kunstenaars, ons bedryf is eintlik nog maar in babaskoentjies.
Aan die ander kant van die spektrum is daar die mense (en ek sluit myself by hiedie minderheid in) wat moan oor ¨kunstenaars¨ wat backtracks gebruik en soos ´n nagapie op Speed rondspring op die verhoog. Waaroor dit eintlik gaan is hoeveel jy vir Afrikaans doen, nie oor die tipe mags op jou Cortina nie.
Ek dink ons kan baie van Anton leer, veral in die lig van die gedagte agter die groen blomme-projek. Ons Afrikaners moet hierdie gewoonte, van eendjies-in-´n-ry oor onbenullighede en verdeeld wees oor die goed wat eintlik saakmaak, wat homself êrens in ons kulturele genetika ingerank het wortel en tak uitroei. Redeneer, verskil, wees verdraagsaam oor ´n ander se mening, maar wees ook onwrikbaar verenig in ons algemene doel om trots te staan vir ons taal en beginsels.
Die Wit Rus