Op soek na ´n bietjie
gravy
Marta was meeste van haar lewe nooit regtig
iemand nie. Sy was ´n vervelige gemiddelde meisie - op haar plek en sonder
vyande. Het altyd genoeg jammer gesê en nie te wyd gesmile of gedans nie. Op
negentien het sy ´n vervelige man getrou en in ´n vaal huisie tussen die plotte
gaan bly. Toe een Dinsdag, dertig jaar later, kry die man vir hulle DSTV om die
darts te kyk. Marta was laas so opgewonde toe sy op sewentien ontdek het
sy het borste. Die volgende dag toe die man by die werk is pak Marta haar gat op
die bank uit en sy ontdek Hollywood op kanaal 41. In haar doodgewone bestaan het
Marta nog nooit so iets gesien nie, sy het na haar asem gesnak elke keer as ´n
peloton kameras iemand op die rooi tapyt flash. Gehuil toe sy hoor Brad
en Jen is uit. Dit was asof iemand haar op ´n ander planeet neergesit
het.
En een oggend in November bekruip die spyt vir
Marta so dat die frons op haar voorkop amper begin bloei en sy roer Rattex by
haar man se koffie in. Sy´t hom onder die papawers in die tuin gaan begrawe en
vir Huisgenoot ´n brief begin skryf – ietsie vir die soek
hoek.
Aangesien haar man so ´n vaal wese was het die
dorp nie eers agtergekom hy´s weg nie, maar in die aande het hy by Marta
gespook. Aand na aand het hy met sy arms gekruis by die voetenent van haar bed
verskyn; ¨Skaam jy jou nie?¨ het hy gevra. Maar Marta het net elke keer op haar
sy gedraai en gesê; ¨Elke hond kry sy dag.¨
Later daardie week het Marta se advertensie in
Huisgenoot verskyn; ¨Vlakvark-pie van Moorreesburg op soek na ´n bietjie
gravy. Ek lus na ´n man met groot growwe hande en bak ore. Verkieslik ´n
boer tussen twintig en sestig. Moet hou van kookkos, drink en
sweet.¨
Twee dae later bel die poskantoor toe om te se
haar pos is te swaar om alles met die fiets aan te ry, sy moet dit maar self kom
haal. Daar was duisende briewe van regoor die land, twee het verloofringe
ingehad. Geralda van die poskantoor was die grootste skinderbek op die dorp en
kort voor lank het almal geweet Marta kry moerse baie fan mail van êrens.
Die mense het skielik begin draf en met hulle honde begin loop net om verby
Marta se huisie te stap. Niemand het geweet hoekom nie, maar hierdie vrou was
famous.
Soos enige goeie dorp het Moorreesburg ook ´n
neef van ´n broer se tante wat se kennis iemand ken wat by die Son koerant werk
en die een oggend kom haal ´n makeover-span vir Marta en vat haar
Johannesburg toe. Daar is sy gebad, getease, gekrul en afgeskuur, maar
party mense kan net ´n pannelbeater mooi kry. Die redakteur sê toe maar
hulle moet vir Marta net so afneem en die storie plaas - volgende maand sit
hulle vir Juanita op die voorblad om die verkope weer op te kry; ¨Kry haar net
so glad as moontlik en smeer Vaseline op die lens¨.
Toe die tyd kom vir die foto´s was Marta
gemessel soos Michael Jackson, sy´t haar spatare self toe-gepoeier en loop lê
tussen ´n hoop Indiese kussings, ¨lyk happy¨, het die fotograaf gesê,
Marta het geglimlag dat jy net stopsels sien, haar been in die lug gegooi en
gepout soos iemand wat nou net ´n warm plaat gesoen het. Sy het haar kop
skuins gedraai en haar wimpers gewikkel. Sy´t liefde gemaak met die lens. ´n
Duisend foto´s later het die kamera man begin arc-eyes kry en twee van sy
assistente het leeg gekots buite rondgedwaal.
Terug by die huis het die hele dorp Marta
ingewag met Melktert en konfetti. Onder die groot boom voor die stadsaal het die
burgemeester vir haar die sleutel van die dorp gegee. Die mense het gejuig en
Marta het gesmile.
Sy het terug huis toe gegaan, Time to say
Goodbye van Andrea Bochelli kliphard voor die spieël gesing, ´n glas rooiwyn
gedrink en haarself in die bad geskiet met ´n haelgeweer.
Sy word vandag nog onthou as Moorreesburg se
enigste ware celebrity.
Die Wit Rus