Oom Gerrit-grootlieg deel II
Soos ek al vroër geskryf het, kon oom Gerrit so blatant gelieg dat dit eintlik sy eie kunsvorm geword het. Nie te lank gelede nie, ry ek daar by sy huis aan vir ´n bietjie inspirasie. Dit was die eerste keer wat ek Mampoer saam met Coke gedrink het en seker ook die laaste, maar die storie wat hy my vertel het, het die smaak in my mond die moeite werd gemaak;
Die geleerde mense sê mos Tiere kom nie in Suid-Afrika voor nie, maar ek het nuus vir hulle. Ek het al met my eie oë van die goed hier in die Magaliesberg gesien. En dis nie Luiperde nie, dis Tiere, ek behoort die goed mos nou te ken na ek daardie een keer so lank in die woude van Indië verdwaal het. Nou kyk, jy sal my nou nie glo nie, maar net hier bo in die kloof het ek eenkeer ´n doring uit so Tier se voet getrek.
Ek het die beeste na die koppie aan die linkerkant van die kloof gejaag en toe maar die goed daar gestaan en oppas. Maar nou moet jy verstaan, ek het daardie tyd met oor die twintig duisend beeste geboer. Om die goed op te pas sit nie in enige man se broek nie. As dit nie was dat ek elke bees van kleins af soos ´n hond leer bevele gehoorsaam het nie, sou dit waragtig onmoontlik gewees het. Ek het daardie tyd ´n mak Zebra gehad waarmee ek rondgery het en díe het so laatmiddag se kant lelik dors begin word - ek het hom geleer het om die waterbottel met sy mond op te tel en na my kant toe te gooi as die dors te veel raak. Ek lei toe vir Strepe daar in die kloof in en dis toe wat ek die Tier gewaar. Maar groot. Die ding se kop sou net onder my ken pas as ons teen mekaar sou staan. Gelukkig het ek my Mauser by gehad, juis vir die gediertes daar in die berg. Met díe mik ek toe vir die ding se kop - was mos springbok-skut op my dag en ek weet daar sal nie gemis word nie. En toe gebeur ´n snaakse ding.
Daardie Tier kom reguit op my afgestap. Nou daar is al baie van my agter my rug gesê, maar ek dink die waarste van dit is dat ek senuwees van staal het. Ek het tjoepstil gestaan tot die ding vlak voor my kom staan het. Jy gaan my nou nie glo nie, maar daar lig die Tier mos sy poot in die lug en daar in sy tamaai trapper sit daar een van die grootste Sekelbos-dorings wat ek in ´n lang tyd gesien het. Was ook maar skrikerig om my Mauser te laat sak, maar ek kon in die dier se oë sien hy´t geen slegte bedoelings nie. Ek het die doring uitgetrek, bietjie whisky oor gegooi en toe laat spat die Tier daar in die kloof in op.
Jare het verby gegaan na die storie, toe die Ingilse mos dink hulle kan die land oorvat. Ek was daardie tyd tweede in bevel onder Generaal Koos de la Rey. Ons was eendag op patrollie hier in die berg toe ons reguit in ´n lokval in ry. Dis nou ´n ander lang storie, maar om my kommando te red moes ek toe alleen die bliksems weglok sodat die res kan wegjaag. Na ´n helse gajaag word ek toe ongelukkig vasgekeer teen ´n krans en die Kakies neem my gevangene. Pligsgetroue burger wat ek is, het ek nie enige informasie laat glip onder die pyn van hulle martelsessies nie.
Hulle besluit toe maar om my net daar, teen die krans, met ´n vuurpeleton dood te skiet. Bang was ek nog min in my lewe, veel erger goed het met my gebeur toe ons in Afrika teen Hitler se troepe geveg het, maar ´n man wonder maar of jou saak met jou skepper reg is. Jy gaan my nou nie glo nie, maar net voor daai robbies van ´n Engelse kaptein kon ´fire´ skree spring daar ´n moerse Tier tussen daardie rooinekke in en begin onder hulle maai. Hy het elke laaste een doodgebyt. En toe ta seker was nie een van hulle beweeg meer nie, het hy na my toe gestap, die toue waarmee ek vasgebind was afgebyt en weggestap. Nou kom ek vertel jou nou; ´n Luiperd is ´n bliksem, hy sal jou kallers een vir een opeet. Tiere aan die ander kant het emosies, nes mense. En dis hoekom hulle ook pommies kan haat.
Die Wit Rus