Oom Gerrit grootlieg
Daar is 'n paar mense wat al lieg tot 'n kuns
vervolmaak het, mense wat hulself by die poorte van die hel kan teruglieg die
lewe in. Mense soos oom Gerrit-grootlieg. Oom Gerrit se verbeelding was heel
waarskynlik nóg groter as sy pens, en twee keer dieper as sy naeltjie.
Om hom in en uit sy vrot geroeste Hilux bakkie
te sien klim was vir my nog altyd net so fassinerend as sy stories. Eers word
die regterbeen uitgegooi en díe se momentum en met die linkerhand wat help,
lanseer Oom Gerrit dan sy pens by die deur uit. Sy pens se gewig trek dan die
res van sy lyf uit die bakkie en hy kom so drie tree verder eers tot stilstand.
Om hom uit 'n groot trok se kajuit te sien spring is 'n ervaring wat woorde geen
reg aan sal doen nie.
Maar om terug te kom by sy stories; Oom Gerrit
jaag nooit met 'n storie nie, hy neem altyd 'n ruspose om sy pyp te stop en dan
langsaam daaraan te teug. Die boere van die distrik het al besluit dat dit juis
dan is wanneer Oom Gerrit die res van sy storie uitdink, of seker maak hy lieg
homself nie vas nie.
Op 'n warm Donderdag-middag ry ek daar by oom
Gerrit aan en daar sit hy en Dik Daan met-die-galstene toe en drink brannewyn op
die stoep. Oom Gerrit vertel toe daardie middag díe
storie;
Ek weet nie of ek julle al vertel het nie, maar
my Pa het mos die Amerikaners gehelp om die bom te bou wat daai Chinese plek so
verwoes het. Tot die dag van sy dood het hy nog so 'n geel skynseltjie in die
aand gehad, glo van al die radio's se golwe. Toe hy die dag daar weg is Amasone
oerwoud toe om 'n entstof teen kanker te gaan soek, was die Amerikaners so
dankbaar vir sy hulp, dat hulle hom 'n eksperimentele lemoenpit gegee het om te
plant as hy die dag terug kom Suid-Afrika toe. In die Amasone gekom het hy
duisende blaar- en sap monsters geneem en binnekort kon hy met trots 'n telegram
deurstuur na Dr. D.F. Malan om te vermeld dat hy 'n kuur gekry het en dat hy
binnekort terugvlieg Suid-Afrika toe.
Die geluk het my pa al vele kere in sy lewe
ontwyk, maar op pad terug na Suid-Afrika verlaat dit hom heeltemal en die
vliegtuig stort net duskant die Hartbeespoortdam neer. Na my Pa toe al die
oorlewendes na veiligheid gedra het en na hulle wonde omgesien het, besluit hy
toe om maar die 30 kilometer plaas toe te loop. Soos die noodlot dit ook toe nou
wil hê, moes hy op pad plaas toe die Magaliesberg oorsteek en daar, 3 Kilometer
van die plaasopstal af, val 'n Luiperd hom aan en hy beswyk aan sy wonde.
Ons het net sy koffer, sy skilpaddop mes in sy
haaitong skede en ´n 50 Kilogram sak meel, wat hy onder die armes by Mooinooi
wou uitdeel, by sy lyk gekry. Van die kanker kuur en die lemoenpitte was daar
geen teken nie. Ons dra hom toe van die berg af en vergeet heeltemal van die
pitte.
Toe noudiedag gaan stap ek met die kinders in
die berg en kom op die allamintig ste lemoenboom af wat ek nog ooit gesien het.
Sy vrugte was so groot dat vier van hulle 'n bakkie sal vol lê en sy stam was so
breed en lank dat ek vir my 'n hele eetkamerstel kompleet met twaalf stoele
gemaak het. Ou Piet, my voorman, was die enigste een wat ooit van die vrugte
geëet het voor die boom afgekap is en sy vreemde sieklikheid het tot vandag toe
nie weer kop uit gesteek nie. Kyk, ek weet nie wat die Amerikaners aan daardie
pitte gedoen het nie, maar as ek nie elke 6 maande my eetkamerstel goed afskuur
en vernis nie, loop daar oral sulke groen blaartjies
uit...
Die Wit Rus