Oom Gerrit grootlieg


Daar is 'n paar mense wat al lieg tot 'n kuns vervolmaak het, mense wat hulself by die poorte van die hel kan teruglieg die lewe in. Mense soos oom Gerrit-grootlieg. Oom Gerrit se verbeelding was heel waarskynlik nóg groter as sy pens, en twee keer dieper as sy naeltjie.


Om hom in en uit sy vrotgeroeste Hilux bakkie te sien klim was vir my nog altyd net so fasinerend as sy stories. Eers word die regterbeen uitgegooi en díe se momentum en met die linkerhand wat help, lanseer Oom Gerrit dan sy pens by die deur uit. Sy pens se gewig trek dan die res van sy lyf uit die bakkie en hy kom so drie tree verder eers tot stilstand. Om hom uit 'n groot trok se kajuit te sien spring is 'n ervaring wat woorde geen reg aan sal doen nie.


Maar om terug te kom by sy stories; Oom Gerrit jaag nooit met 'n storie nie, hy neem altyd 'n ruspose om sy pyp te stop en dan langsaam daaraan te teug. Die boere van die distrik het al besluit dat dit juis dan is wanneer Oom Gerrit die res van sy storie uitdink, of seker maak hy lieg homself nie vas nie.

Op 'n warm Donderdag-middag ry ek daar by oom Gerrit aan en daar sit hy en Dik Daan met-die-galstene toe en drink brannewyn op die stoep. Oom Gerrit vertel toe daardie middag díe storie;


Ek weet nie of ek julle al vertel het nie, maar my Pa het mos die Amerikaners gehelp om die bom te bou wat daai Chinese plek so verwoes het. Tot die dag van sy dood het hy nog so 'n geel skynseltjie in die aand gehad, glo van al die radio's se golwe.Toe hy die dag daar weg is Amasone oerwoud toe om 'n entstof teen kanker te gaan soek, was die Amerikaners so dankbaar vir sy hulp, dat hulle hom 'n eksperimentele lemoenpit gegee het om te plant as hy die dag terug kom Suid-Afrika toe. In die Amasone gekom het hy duisende blaar- en sapmonsters geneem en binnekort kon hy met trots 'n tellegram deurstuur na Dr. D.F. Malan om te vermeld dat hy 'n kuur gekry het en dat hy binnekort terugvlieg Suid-Afrika toe.


Die geluk het my pa al vele kere in sy lewe ontwyk, maar oppad terug na Suid-Afrika verlaat dit hom heeltemal en die vliegtuig stort net duskant die Hartebeespoortdam neer. Na my Pa toe al die oorlewendes na veiligheid gedra het en na hulle wonde omgesien het, besluit hy toe om maar die 30 kilometer plaas toe te loop. Soos die noodlot dit ook toe nou wil hê, moes hy oppad plaas toe die Magaliesberg oorsteek en daar, 3 Kilometer van die plaasopstal af, val 'n Luiperd hom aan en hy beswyk aan sy wonde.


Ons het net sy koffer, sy skilpaddopmes in sy haaitongskede en ´n 50 Kilogram sak meel, wat hy onder die armes by Mooinooi wou uitdeel, by sy lyk gekry. Van die kankerkuur en die lemoenpitte was daar geen teken nie. Ons dra hom toe van die berg af en vergeet heeltemal van die pitte.


Toe noudiedag gaan stap ek met die kinders in die berg en kom op die alimintigste lemoenboom af wat ek nog ooit gesien het. Sy vrugte was so groot dat vier van hulle 'n bakkie sal vol lê en sy stam was so breed en lank dat ek vir my 'n hele eetkamerstel kompleet met twaalf stoele gemaak het. Ou Piet, my voorman, was die enigste een wat ooit van die vrugte geëet het voor die boom afgekap is en sy vreemde sieklikheid het tot vandag toe nie weer kop uit gesteek nie. Kyk, ek weet nie wat die Amerikaners aan daardie pitte gedoen het nie, maar as ek nie elke 6 maande my eetkamerstel goed afskuur en virnis nie, loop daar oral sulke groen blaartjies uit...



Die Wit Rus