Genoeg is genoeg
Ek het vir Lea Langeveldt op die ondeunde strande van Buffelsbaai ontmoet. Al te lekker gekliek, sy het van Toyota bakkies gehou en dit was genoeg om my heel gat oor kop verlief te maak (ek was maar veertien - nie dat veel verander het nie).
Na die vakansie het ek die telefoon lyn na Deelfontein distrik net duskant De Aar warm gebel, my gat is net so warm geslaan toe die rekening kom en daarna moes ´n groot hap van my sakgeld die linguistiese pad na die nooi van my hart teer. So het dae ook weke geword en die sekelmaan vol en ons het besluit dat ek op Lea-hulle se plaas moes gaan kuier. Die geneuk was dat Deelfontein so week te perd vêr was en nie my of Lea se pa sou sommer geredelik met hul spaargeldjies afstand wou doen net om as´t ware petrol op ons kalwer-vlamme te gooi nie. Gelukkig het die uwe nog altyd ´n troefkaart gehad wat geen gelyke ken nie – twee ouma´s. Toe sê ek nou maar vir my pa ek sal maar afstand doen van my ¨spaargeld¨ wat ek oor die jare versamel het om die ou brandstoffies te betaal (pesioen geld gee tog al te lekker uit op veertien), solank hy net sou bestuur. Stom van verbasing dat ek spaargeld het, laat weet my pa my toe dat dit nie nodig is nie, hy moes in elk geval iemand in De Aar gaan sien. Maar was ek tóé vir jou dik in die pitte.
So gesê, so gedaan en ons twee was in die Hilux en op die langpad. Na ´n uitmergelende paar ure stop ons toe in De Aar waar Lea se pa my moes kry. Man, ek kry nou nog hoendervleis as ek dink aan die twee ponie-tails wat daardie dag oor oom Kobie se dash geloer het. Ek en Lea het so te sê gelyk uitgeklim en na mekaar toe begin loop. En toe, drie treë van mekaar slaan ons chokes toe van die skaamgeit. Mense, ´n heidense skaam. Ons het net na mekaar se skoene gestaar soos twee Aktuarisse met persoonlikheid en ´n bewerige ¨hallo¨ uitgeforseer. Al die ure om die telefoon het skielik niks beteken nie. Boonop moes ek nog vier dae van daardie ongemaklikheid verduur. Met verlange in my oë het ek gekyk hoe my pa verby die kafee om die hoek verdwyn. Mensig, ek het alleen gevoel. Maar toe kom die woorde soos ´n ligstraal deur die wolke uit Lea se mond; ¨Is jou pa se bakkie ´n 4x4?¨ Die stortvloed van woorde wat daarna gevolg het was genoeg om enigiemand mal te maak, ons het ensiklopidië vol geklets. Toe ons by die plaas aankom kon ek sweer ek het oom Kobie homself duislig teen ´n muur sien stut. Lea se ma, tannie Dora ,was wyer as die Heer se genade, met arms wat trane uit ´n bol deeg kon knie. Díe het my eers omhels asof ek haar verlore seun was en my toe gevoer tot ek soos ´n paartie-ballon gevoel het. Daarna het sy gesê; ¨Versadig stadsjapie? Nou ja, genoeg is genoeg, loop speel buite.¨
Oom Kobie het ´n stokou Land Rover op die plaas gehad wat maar eintlik Lea en haar klein sussie se ry ding was. Lea en haar sussie het vir my elke bossie op daardie plaas gaan wys. Hulle het my selfs die skape se name geleer, en glo my, daar was honderde. Terug by die huis het ons gou die oom gaan groet, hy moes Kaap toe vir ´n seminaar. Ek was nogal spyt, ek het gevoel dis belangrik dat ek en die oom ´n bietjie bond, ek was immers sy aanstaande skoonseun. Behalwe dat ons mekaar nou nie kon leer ken nie was ek nou die ¨man¨ op ´n vyf duisend hektaar plaas met honderde Luiperds en Pofadders - effens ontnugterend vir ´n standerd sessie. Na ´n uitgerekte vaarwel, ek moes darrem eers so ´n bietjie oor bakkies praat, het tannie Dora van haar laat hoor; ¨Ja toe nou Kobie, genoeg is genoeg, val in die pad.¨
Ek en Lea sou die aand alleen in ´n ou murasie vêr van die plaashuis gaan kamp, dis ongelooflik hoe die mense onse kinders daardie tyd vertrou het - maar dit wás darrem die dae voor selfone en Jerry Spinger. Bullybeef en deeg vir stokbrood gepak bo-op die berg peusel happies wat tannie Dora vir ons ingepak het is ons toe daar weg met die Land Rover. Ek moet sê; soos ek nou hier sit verlang ek vreeslik - ´n moerse kampvuur, liters Oros, geselsies oor niks en geen vuil gedagtes nie – daai was maar eintlik die dae. So teen nege uur die aand het die wolke swart op die horison begin dreig. Gelukkig was ons voorberei vir die grootste storm in mense heugenis; waterdigte tente, gaslampies, ekstra slaapsakke. Afrika kon maar gooi, ons was gereed.
Ek kan nou nie mooi onthou hoe laat dit was nie, moes seker al na elf gewees het, het ek wakker geword van die ritsluiter van die tent wat oopgaan. Daar in die reën het tannie Dora gestaan; ¨Lea-julle, kom help gou, die kar sit vas.¨ Sy het seker bekommerd geraak en ons kom soek of net vinnig kom kyk of die ¨stadsjapie¨ nie vir haar dogter nuwe tricks leer nie. Tannie Dora het vir Lea gesê om die Land-Rover na Buffel-se-hek te neem (waar ook al dit was) sy sit sommer agter-in. By die hek aangekom het my hart omtrent gaan staan, die kar het nie vas gesit nie, dit het op die dak in die sloot langs die pad gelê. En daar, halflyf by die ruit uit ... het tannie Dora se lyk gelê. Ek en Lea het gelyk omgekyk na die agterste sitplek – niks. ¨Leaaaaa!¨ het ons deur die gedruis in ons ore gehoor. Dit was Lea se klein sussie wat nogsteeds vasgegordel in die kar gesit het. Sy kon nie die ding loskry nie en die water in die sloot het vinnig gestyg. Ek het haar losgesny en haar agter in die Land Rover gaan sit. Lea het op haar knië langs haar ma gesit en huil. Ons het na die buurplaas gery en hulle het alles verder uitgesorteer.
Die begrafnis was groot, baie mense het vir tannie Dora lief gehad. Lea het nie gehuil nie. Ek het.
Die storie het my nou weer bygeval toe Lea my vanoggend bel. Sy was oppad na Johannesburg met haar kar toe twee mans haar van die pad af dwing. Hulle het haar uitgepluk en presies vertel hoe hulle haar nou die veld in gaan sleep en verkrag. Die volgende oomblik het ´n ander kar op die hoofweg se band gebars en altwee boewe ´n meter voor Lea getref. Lea en die bestuurder van die kar het nie eers ´n skrapie opgedoen nie. Die polisie was stomgeslaan, maar ek en Lea weet, ´n groot vrou met ´n groot hart het besluit; genoeg is genoeg.
Die Wit Rus