Fransie van Hanover

 

So in die middel van die vorige eeu het daar ´n man in Hanover gebly met die naam Fransie van Onselen. Nooit getrou nie – daarvoor was hy net te skaam. Nooit gedrink nie – daarvoor was hy te suinig. En nooit enigiets avontuurlustig probeer nie – net te bang. Fransie het ook uit die aard van die saak geen vriende gehad nie. Dag na dag het hy sy veilige vervelige agt tot vyf by die poskantoor met ´n suur gemoed deurgeswoeg. Fransie was nooit ´n dag siek nie, en selfs al was hy, het hy maar die snot senuweeagtig in sy sakdoek geblaas, bang dat hy iemand sal ontstel. Elke partytjie saam met sy kollegas het hy gemis, te skrikkerig dat hy dalk iets op die slip-´n-slide sal breek. Die posmeester het alles probeer om Fransie betrokke te kry, hom selfs een aand na sy huis genooi vir ete. Fransie het absoluut niks geëet nie omdat hy bang was dat die seekos dalk aan die aartappel slaai geraak het – Fransie het vermoed hy is allergies vir skulpvis. Na die posmeester se vrou gedreig het om ¨die ondankbare klein swernoot¨ se kop met ´n kreefknyper te deurboor het die posmeester maar handdoek ingegooi.

 

In Fransie se vyftiende jaar in diens van Hanover poskantoor word daar toe ´n dame van hoofkantoor na hulle verplaas.

Dubbel D donkerbril effens groter as haar kop, voorarms wat ´n stempel lekker hard kon moer en ´n stel tamaai pretbolle op die boeg het sy een Woensdag by die kantoortjie ingedeins gekom.

Haar naam was Bes Maree, gebore in Calitzdorp, skool gegaan in Derby en sedes verloor in Volksrust. Soos afgelei kan word was Bes nou nie van preutse natuur nie. Die boere van Volksrust het haar nie verniet ¨goed, beter, Bes¨ genoem nie.

 

Of dit nou Fransie se talcum-powder reuk of sy gekrulde neushare was weet niemand tot vandag toe nie, maar Bes het ´n ongesonde fassinasie met Fransie ontwikkel. Een aand laat, na hulle voorraad getel het, het Bes ´n lap vol chloroform in haar boesem laat lê, Fransie se kop daarin vasgedruk en na hy uitgepass het hom ontvoer na Durban. Bes het gehoop die son en see maak iets wakker in sy dooie oë. Maar toe Fransie daar wakker skrik was hy onmiddellik op ´n trein en betyds vir werk terug in Hanover – netnou verloor hy sy werk.

Fransie het al gedink hy moet vir Bes beduie dat hy eintlik nogal van haar hou, maar na die Durban-trip het hy aand na aand gedroom hoe hy versmoor tussen haar buuste. Daardie selfde jaar nog is Bes weg Johannesburg toe – haar hart kon dit net nie hou nie. Fransie wou nog iets sê maar hy was bang sy neem dalk aanstoot as hy te reguit is.

 

So het die lewe op Hanover maar voortgesleep, die spyt het elke aand by Fransie kom spook. Was dit nie dat hy so bevrees was dat mense hom sou spot nie sou hy dalk met iemand gaan praat. Jaar na jaar het hy sy doodnormale joppie by die poskantoor gedoen en hom eenkant gehou.

En een oggend terwyl Fransie sy testikels poeier ontplof sy gasstoof en blaas hom en sy hele huis moer toe.

 

Die mense van die dorp het almal gewonder wat om op die staats gefinansierde grafsteen te skryf. Nie een kon onthou dat Fransie ooit iets merkwaardig of anders as alledaags gedoen het nie. Die ou, grys, doodgewone steen staan daar êrens; Hier lê Fransie van Onselen - hy was daar.

 

Ou Fransie was nooit in die hospitaal nie, hy het nooit ´n babelaas gehad nie, nooit geraas nie en was altyd op sy plek. Hy was nooit in ´n casino gewees nie maar het sy enigste lewe verloor deur sy chips op dieselfde plek te hou.

 

 

Die Wit Rus