Fransie van
Hanover
So in die middel van die vorige eeu het daar ´n
man in Hanover gebly met die naam Fransie van Onselen. Nooit getrou nie –
daarvoor was hy net te skaam. Nooit gedrink nie – daarvoor was hy te suinig. En
nooit enigiets avontuurlustig probeer nie – net te bang. Fransie het ook uit die
aard van die saak geen vriende gehad nie. Dag na dag het hy sy veilige vervelige
agt tot vyf by die poskantoor met ´n suur gemoed deurgeswoeg. Fransie was nooit
´n dag siek nie, en selfs al was hy, het hy maar die snot senuweeagtig in sy
sakdoek geblaas, bang dat hy iemand sal ontstel. Elke partytjie saam met sy
kollegas het hy gemis, te skrikkerig dat hy dalk iets op die slip-´n-slide
sal breek. Die posmeester het alles probeer om Fransie betrokke te
kry, hom selfs een aand na sy huis genooi vir ete. Fransie het absoluut niks
geëet nie omdat hy bang was dat die seekos dalk aan die aartappel slaai geraak
het – Fransie het vermoed hy is allergies vir skulpvis. Na die posmeester se
vrou gedreig het om ¨die ondankbare klein swernoot¨ se kop met ´n kreefknyper te
deurboor het die posmeester maar handdoek ingegooi.
In Fransie se vyftiende jaar in diens van
Hanover poskantoor word daar toe ´n dame van hoofkantoor na hulle verplaas.
Dubbel D donkerbril effens groter as haar kop,
voorarms wat ´n stempel lekker hard kon moer en ´n stel tamaai pretbolle op die
boeg het sy een Woensdag by die kantoortjie ingedeins gekom.
Haar naam was Bes Maree, gebore in Calitzdorp,
skool gegaan in Derby en sedes verloor in Volksrust. Soos afgelei kan word was
Bes nou nie van preutse natuur nie. Die boere van Volksrust het haar nie verniet
¨goed, beter, Bes¨ genoem nie.
Of dit nou Fransie se talcum-powder reuk
of sy gekrulde neushare was weet niemand tot vandag toe nie, maar Bes het ´n
ongesonde fassinasie met Fransie ontwikkel. Een aand laat, na hulle voorraad
getel het, het Bes ´n lap vol chloroform in haar boesem laat lê, Fransie se kop
daarin vasgedruk en na hy uitgepass het hom ontvoer na Durban. Bes het gehoop
die son en see maak iets wakker in sy dooie oë. Maar toe Fransie daar wakker
skrik was hy onmiddellik op ´n trein en betyds vir werk terug in Hanover –
netnou verloor hy sy werk.
Fransie het al gedink hy moet vir Bes beduie
dat hy eintlik nogal van haar hou, maar na die Durban-trip het hy aand na
aand gedroom hoe hy versmoor tussen haar buuste. Daardie selfde jaar nog is Bes
weg Johannesburg toe – haar hart kon dit net nie hou nie. Fransie wou nog iets
sê maar hy was bang sy neem dalk aanstoot as hy te reguit
is.
So het die lewe op Hanover maar voortgesleep,
die spyt het elke aand by Fransie kom spook. Was dit nie dat hy so bevrees was
dat mense hom sou spot nie sou hy dalk met iemand gaan praat. Jaar na jaar het
hy sy doodnormale joppie by die poskantoor gedoen en hom eenkant gehou.
En een oggend terwyl Fransie sy testikels
poeier ontplof sy gasstoof en blaas hom en sy hele huis moer toe.
Die mense van die dorp het almal gewonder wat
om op die staats gefinansierde grafsteen te skryf. Nie een kon onthou dat
Fransie ooit iets merkwaardig of anders as alledaags gedoen het nie. Die ou,
grys, doodgewone steen staan daar êrens; Hier lê Fransie van Onselen - hy was
daar.
Ou Fransie was nooit in die hospitaal nie, hy
het nooit ´n babelaas gehad nie, nooit geraas nie en was altyd op sy plek. Hy
was nooit in ´n casino gewees nie maar het sy enigste lewe verloor deur sy
chips op dieselfde plek te hou.
Die Wit Rus