Die vrees voor die fees
Een van my vriende trou die naweek en my senuwees is klaar. Nee, ek is nie seremoniemeester nie. Ook nie strooijonker nie. Die rede hoekom ek voel soos ´n lam ter slagting, is omdat ek een van die mooiste asters in Pretoria saamgenooi het en sy (heel waarskynlik agv ´n welsyns-refleks) ingestem het om te gaan. Ek weet wat julle dink – dis ´n goeie ding. Wel broers en susters, dames en here, ja en nee. Sien, sodra ek in die teenwoordigheid van amper-heilige skoonheid is, slaan my chokes mos toe soos ´n ou Nissan Langley se kattebak. Laasgenoemde fenomeen is eintlik ´n goeie ding, anders raak ek die simpelste goed kwyt en kort voor lank voel ek soos Charles Thatcher van die ¨Môre is nog ´n dag¨ faam. ¨Rhyna ek shoek tjips vir my schweermaag¨ hoor ek in my kop. Reguit gestel laat, onder andere die feit dat sy al meer bereik het in haar lewe as wat ek seker ooit gaan, my uiters outisties voel.
Ek moet darem eers noem dat hierdie vrees voor die fees nie heeltemal bloedstollend van aard is, soos as jy alleen Exorcist kyk nie. Dis eerder ´n rugraat-wriemel-lewendige-skool-pilcards-in-die-maag tipe vrees. Nog steeds, dit is net nie normaal nie. Ek moet backsummies op die gras doen as so ´n sensasionele aster instem om saammet my êrens heen te gaan. Nie elke Sarie en Rooi Rose begin opswot (met highlighters – I shit you not) in ´n waansinnige poging om ´n sinvolle gesprek te voer nie. Ek sê vir myself oor en oor; kalmeer, jy gaan ´n maagsweer ontwikkel, maar dan sien ek ´n storie op bladsy 67 oor die Chelsea blomme skou en kan myself net nie help nie – alle asters hou tog van blomme.
Die franse wiskundige, wetenskaplike en filosoof René Descartes, het beweer dat ´n mens kondisioneer word tot ´n spesifieke emosionele reaksie agv sekere ondervindings in jou lewe en dat sulke reaksies gewysig kan word. So het hy besef sy voorliefde vir skeel vroue het ontstaan omdat hy as kind ´n skeel vriendin lief gehad het. Toe hy dit besef, kon hy sy voorkeur verander. Volgens Descartes se hipotese, moet ek net aanvaar dat ek in een of ander stadium van my lewe ´n meisiekind teleurgestel het met my lelike gesig, onvanpaste uitlatings of onaanvaarbare gedrag, die probleem identifiseer en ¨presto!¨ ek beïndruk soos ´n masjien. Wel dis toe nie heeltemal so maklik nie. Al afwyking wat ek aan kan dink is my voorliefde vir klein boutjies omdat ek ´n meisie met smal jeupies liefgehad het in die kleuterskool. En nee, die identifisering van my voorskoolse voorliefde het nie my voorkeur verander nie.
Ja, ek het ook al die v´s hierbo getel – mens noem dit alliterasie.
Ek kan veilig sê dat nie Descartes, Socrates of Aristotle ´n oplossing aan my kan bied nie. So draai ek maar na die ou staatmaker Herr Sigmund Freud; As die stelling gemaak word dat ek ´n vrees het om die persepsie dat ek ´n mislukking is, by vroumense te vestig, lei ek volgens die psigoanalitiese profiel aan ....wag daarvoor.... Depressie. Ek haal graag die simtome uit die profiel aan; ¨Depression is characterized by a sad or hopeless mood and pessimistic thinking.¨ Dis nou fokken fantasties, het julle enige ideë hoeveel kos Prozac? Ek moet sê ek voel nie depressief nie en ek is hopeloos te kleinserig om selfmoord te pleeg, so dis seker ook nie so erg nie.
Die enigste oplossing wat ek aan kan dink om oor my ¨depressie¨ te kom is om ´n penvriendin te kry. Dan kan ek mooi nadink wat ek wil sê, uitvee en weer begin. Hele strofes copy en paste op presies die regte plek en my stadig maar seker gewoond maak aan die borspersone wat sit en piepie. Plus, ek kan frases onderaan bysit wat herinner aan die tyd toe briewe nog soos edelgesteentes agter die posbus-deurtjie geskuil het, byvoorbeeld; Groete vir al die mense tuis, Sê vir tant Hannie die kapokkies is al spekvet, Langhans van Eerstevlei stuur liefdegroete, Kotie se ma het griep onder lede, stuur asseblief ´n botteltjie Kasterolie weg saammet oupa Frans.
Ag as ek tog maar ´n cut-paste-delete masjientjie vir hierdie naweek kon kry wat tyd kan stop en terugdraai, kon die aster miskien hoor wat my hart wil sê, nie my stembande nie. Ek kon vinnig danslesse gaan neem én aan ´n USN lyf werk.
Ter afsluiting, voor julle my verkeerd verstaan; ek wil nie met haar score, met haar kys, trou, 3 kinders en ´n Labrador kry nie. Aphrodite sal nooit so baie van my hou nie. Ek hoop net van harte dat ek én sy dit sal geniet en ek nie ´n totale Njerts van myself sal maak nie, al sê die Sarie se ¨Hartbreek-quiz¨ dat ek gaan.
Die Wit Rus