Emosionele pyn verslawing
Ek het nou al baie stukke op hierdie website aan die ouens opgedra, dit hoort so, ek verstaan hulle beter. Ek het dit goed gedink om híerdie stuk aan vroumense op te dra, nie dat ek dink hulle gaan dit waardeer nie. Ek mag dalk in die nabye toekoms met ´n paar brandende bra´s gegooi word, maar ek glo dis baie belangrik dat die waarheid op een of ander manier uitkom. As iemand my hierop wil uitdaag, mail my, die link is op die indeks bladsy, ek´s geensins bang vir kritiek nie – dink dit tog net mooi deur en wees eerlik met jouself voor jy skryf. As net een vroumens verby haar hangups kan kyk, stil gaan sit en nadink oor hierdie stuk het ek my doel bereik.
Alle vroumense wil soos prinsesse behandel word, maar byna geen van hulle het al die binnekant van ´n paleis gesien nie. Hulle hou van die bad boys, die ouens wat hulle gebruik, seermaak. Bogenoemde is ´n klinklare feit wat van toepassing is op elke vroumens in hierdie wêreld. Ja, daar is díe wat tot die besef gekom het dat hulle masochistiese natuur een of ander tyd tot selfvernietiging sal lei en verander het, maar elke Eva het een of ander tyd verby die ¨nice guy¨ gepeil reg in die arms van ´n selferkende player.
Waar het dit alles begin? Is julle moeg daarvoor om onuitgedaag deur die lewe te wals omdat julle Sandton-pakkies mans afskrik. Hunker julle terug na die tyd wat hubby se pantoffels gefluf moes wees teen die tyd wat hy van die werk af kom? Was die skielike vryheid van ´n samelewing van ongekende gelykhede en regstellende aalmoese vir julle te veel van ´n skok? Ek het eers gewonder of ´n variasie van Stockholm sindroom wyd onder die vroulike geslag voorkom. Lyers van díe sindroom begin met mense wat hulle leed wil aandoen identifiseer as ´n verdedigings-meganisme uit vrees vir geweld. Klein dade van goedhartigheid vanaf die wreedaard word dan vergroot aangesien die persoon wat geterroriseer word se vermoë om perspektief te vind ingeperk is. Die teorie dat alle vroumense aan ´n Stockholm sindroom variasie lei word egter verkeerd bewys deur die feite dat die aanwesigheid van so ´n wyd verspreide siekte kwalik ´n geestes-krenking genoem kan word maar eerder ´n natuurlike denkwyse en dat vroumense hulself vrywillig in ´n gyselaar-situasie plaas al weet hulle wat die gevolge daarvan sal wees.
Na aanleiding van my eie, en ander, se ervarings het ek ´n hipotese geformuleer;
Dit wil voorkom of emosionele pyn ´n baie belangrike dwelm vir vrouens is. Hulle emosionele draadwerk is soos die sentrale senustelsel en pyn ´n dwelm. Hulle raak desperaat vir nog ´n hit, met geen besorgdheid rakende die nagevolge vir hulle of ander nie. En dit moet ons nie vergeet nie ¨of ander¨. Die vroumense wat hulself oorgee aan misbruik doen dit nie net aan hulself nie maar ook aan die wat hulle lief het. Meeste mans het geen behoefte aan misbruik nie dankie, ons is baie gelukkig om gelukkig te wees. Die hunkering na emosionele pyn raak onstellend baie soos ´n dwelm-verslawing; solank daar binnekort nog ´n hit oppad is voel hulle ´n flenter vir ander mense se emosionele status, maar huil na die crash op díe persone se skouers. Hulle bou ´n tolleransie op sodat meer en meer nodig is om die drang te bevredig - gebruik byvoorbeeld seks om die emosionele doring wat later uitgeruk gaan word weerhaakies te gee. Soos enige verslawing is dit nie maklik om op te gee nie en is daar dikwels ´n ingryping nodig om dit te stuit. Laat hierdie dan vir elke vrou wat hierdie lees ´n ingryping wees. Haal daardie brille af wat die stil outjies om die tafel miskyk, onderskei tussen arrogansie en selfvertroue, afhanklikheid en misbruik, sterk karaktertrekke en manupilasie.
Jy kan nou daar sit en dink watse pot excrementum nou net hierbo geskryf is maar lees tog weer en dink op hoeveel van jou vriendinne dit van toepassing is, of dalk op jouself. Moet dit nie voor die voet as ´n veralgemening beskou nie. Om die manlike geslag te blameer daarvoor dat julle soos drek behandel word is ´n veralgemening. Hoe sal julle weet hoe alle mans vroumense behandel as jy sit en wag dat die Mnr Cocky´s van die wêreld sy move maak en dan later saam met hóm huis toe gaan? Verander die rules of engagement en jy wen dalk net ´n oorlog.
Die Wit Rus