Drank en digkuns
Een van my baie goeie vriende is een aand die spreekwoordelike ´bat´ gegee deur sy meisie (sy het hom gelos). Hy het natuurlik heeltemal vergeet wat ek nou al jare vir hom sê; dat ´n man nooit moet toelaat dat ´n vroumens sy hart breek nie. Maar ek weet dis moeilik en partykeer onafwendbaar, veral as die girl soos Minki van der Westhuizen lyk. Die arme man was so mismoedig dat hy een aand hoopeloos te veel brannewyn gedrink het en daar, in die kroeg, begin dig het agter op ´n coaster. Of dit nou my vriend self, of oom Richard Leeu was wat die volgende geskryf het weet ek nie, maar dit is so diep dat ons besluit het om dit met die res van die wêreld te deel. Net so terloops; hy het gelukkig toe nie selfmoord gepleeg nie en voel al baie beter.
Hartseer se lied
was daar te min plek in die engel-wêreld waar jy dwaal
kan jy ook huil, kan jy ook lag
kan jy nog omgee?
het jy my verstaan toe ek geswyg het
kan jy vergewe?
kon jy die rivier in my oë sien
die woestyn in my hart
die dag toe jy my na Atlantis stuur?
die Treine ry al van vroegdag en skeur deur die koue nag na Vergeet se paleis
die Kristal in my hart het geskree maar ek was doof
ek kon die Seer keer
die skeur keer
die Lag styf vashou
die sterre vluister vir my
sê ek moet Onthou
sê ek wil Vergeet
ek wou jou saam op my Reënboog wegvat
na ´n pot vol Goud tussen die mis
ek het my amper verloor daardie nag tussen die buigtjank van blik
en die sterre in my kop
Saam is dood
Alleen het sy kis oopgeskeur
en die wagte van Stix gesystap
sy silwer sikkels laat klingel soos hy hardloop
na spilonke in die donker Hartskeurberg
Die Wit Rus