Drank en digkuns


Een van my baie goeie vriende is een aand die spreekwoordelike ´bat´ gegee deur sy meisie (sy het hom gelos). Hy het natuurlik heeltemal vergeet wat ek nou al jare vir hom sê; dat ´n man nooit moet toelaat dat ´n vroumens sy hart breek nie. Maar ek weet dis moeilik en partykeer onafwendbaar, veral as die girl soos Minki van der Westhuizen lyk. Die arme man was so mismoedig dat hy een aand hoopeloos te veel brannewyn gedrink het en daar, in die kroeg, begin dig het agter op ´n coaster. Of dit nou my vriend self, of oom Richard Leeu was wat die volgende geskryf het weet ek nie, maar dit is so diep dat ons besluit het om dit met die res van die wêreld te deel. Net so terloops; hy het gelukkig toe nie selfmoord gepleeg nie en voel al baie beter.




Hartseer se lied


was daar te min plek in die engel-wêreld waar jy dwaal

kan jy ook huil, kan jy ook lag

kan jy nog omgee?

het jy my verstaan toe ek geswyg het

kan jy vergewe?

kon jy die rivier in my oë sien

die woestyn in my hart

die dag toe jy my na Atlantis stuur?


die Treine ry al van vroegdag en skeur deur die koue nag na Vergeet se paleis

die Kristal in my hart het geskree maar ek was doof

ek kon die Seer keer

die skeur keer

die Lag styf vashou


die sterre vluister vir my

sê ek moet Onthou

sê ek wil Vergeet


ek wou jou saam op my Reënboog wegvat

na ´n pot vol Goud tussen die mis

ek het my amper verloor daardie nag tussen die buigtjank van blik

en die sterre in my kop


Saam is dood

Alleen het sy kis oopgeskeur

en die wagte van Stix gesystap

sy silwer sikkels laat klingel soos hy hardloop

na spilonke in die donker Hartskeurberg




Die Wit Rus