Drank

 

Drank. Ons almal ken dit. Ons benut en manipuleer sy veelvoudige eliksers in nagtelike Bacchanals. Verag en respekteer hom as die son sy oostelike buiging maak.

Mense het al gesinne, beroepe, besittings en lewens verloor as gevolg van drank.

Party het al kontrakte, miljoene rande, vriende en vriendinne ryker geword deur die betowering van die kruik. So ons kan nie regtig beweer drank is geheel en al boos nie. Wyn word wêreldwyd in christelike rituele gebruik. In Andiese gemeenskappe word periodiese dronkgat geit op feeste en die daaropvolgende onvermoë om werk te verrig, selfs as normaal beskou.

 

Drank in al sy uiteenlopende vorme, is al vir ´n baie lang tyd deel van die mensdom;

In 6500 vC is bier vir die eerste keer van gars gemaak. Maw bier is gemaak voor mense die wiel in Mesopotamië begin gebruik het in 3500 vC en voor die eerste piramides in 2700 vC gebou is. Die Egiptenare het reeds in 2600vC ´n ingewikkelde brou proses gehad.

In die middel eeue het monnike hulle brouery aan sadistiese kerkleiers verskoon deur te sê dit is ´n erkende ambag.

Hops is al in die 11de eeu in Duitsland gebruik om bier te brou. Die chemikus Louis Pasteur het in die 1860´s baie van die mikrobiologiese prosedures gevestig wat vandag in die kommersiële brou bedryf gebruik word.

Mense in die midde ooste het al in 4000vC druiwe verbou en die Egiptenare het al in 2500vC druiwe gebruik om wyn te maak. Die Nederlanders het al in 1654 druiwe uit die Ryn streek hier na Suid-Afrika gebring om wyn mee te maak.

Die Chinese het sterk drank, die voorgangers van ons geliefde brandewyn, al in 800vC gedistilleer.

Die van julle wat al braaf genoeg was om Absinthe te probeer sal kan getuig van die uiters kak smaak van díe drankie, dit kom van die hoof geursel - die Wildeals struik of Artemisia absinthium, vandaar die naam. Absinthe wat deur oorsensitiewe Europeërs geassosieer word met stuiptrekkings, hallusinasies, geestesongesteldheid en psigose word al van 1797 kommersieel geproduseer. Absinthe is in 1908 in Switserland en in 1915 in Frankryk verbied. Dis vandag nog in baie lande onwettig om Absinthe te verkoop.

Ek moet sê, in al my jare het ek nog nooit van iemand gehoor wat groen feetjies of iets soortgelyk gesien het na ´n tot Absinthe nie. Ek het wel al gehoor van mense wat die pragtigste engele gesien het nadat hulle Klipdrift gedrink het.

 

Soos julle kan sien is drank al ´n geruime tyd met ons en nog steeds sukkel baie mense om aan die regte kant van die ¨effe gekuier / doos dronk¨ Rubicon te bly.

Vir my en meeste van my vriende is drank ´n sosiale kruk om ons persoonlikhede se intrinsieke hinkepink, wat ons verhoed om met die skoner geslag te kommunikeer, weg te steek. Wat sou ons tog gemaak het sonder die voggies? Geen ander prosedure is so maklik bekombaar, bekostigbaar en uitvoerbaar soos drank-inname, om ´n man met die vertroue van Adonis te vul nie.

Drank het die vermoë om vreemde mense in vriende te verander, selfs al sou dit nooit moontlik gewees het binne ´n stywe nugter milieu nie.

´n Bekende aspek van drank, seker ook sy gevaarlikste, is dat dit sorge verdrink. Tydelik. Onthou dít. In die oggend as jy opstaan klop die kak steeds aan jou deur. Maar dit is darem lekker om vir ´n paar ure die juk van jou skouers te haal en bietjie te vergeet. ´n Oom daar van Nylstroom sê nou die dag vir my; ¨Dink jy ek hou daarvan om te drink? Drank is fokken sleg man, ek drink net om van my vrou te vergeet.¨

Min het hy geweet, dat hy so amper George Bernard Shaw aangehaal het; ¨Alcohol is the anaesthesia by which we endure the operation of life.¨

 

Dit is maar een van die baie aanhalings oor drank en alkohol. Hier is nog ´n paar;

¨Yes, madam, I am drunk. But in the morning I will be sober and you will still be ugly.¨ - Winston Churchill.

¨Always do sober what you said you'd do drunk. That will teach you to keep your mouth shut.¨ - Ernest Hemmingway.

¨Beer is living proof that God loves us and wants us to be happy.¨ - Benjamin Franklin

¨I feel sorry for people who don't drink, because when they wake up in the morning, that's the best they're gonna feel all day.¨ - Frank Sinatra

¨ The best beer in the world, is the open bottle in your hand¨. - Danny Jansen

¨ In wine there is wisdom. In beer there is strength. In water there is bacteria.¨ - Duitse spreekwoord

 

Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek praat nie alkoholisme, dronkgat-geweld of onverantwoordelike gedrag aangehits deur drank, goed nie. Ek wil net beklemtoon dat ons nie altyd drank as Lucifer se magtigste instrument tot siel verrotting moet beskou nie. Ek glo dat eensaamheid ´n erger euwel is. Drank kán oordeelkundig gebruik word.

Drank het my al baie aande gegee wat ek nie kan onthou nie, saam met vriende wat ek nooit sal vergeet nie.

 

 

Die Wit Rus