Dankie Dok !
Ek neem nie die slang kwalik nie, dis maar in sy geaardheid om te byt. Maar hy moet my ook nie kwalik neem omdat dit in my geaardheid is om hom dood te slaan nie. - CJ Langenhoven
Beeld 8 Mei 2007 land op my lessenaar. Voorblad; ¨Affies se skoolhoof rand glo seun aan ná wangedrag¨. Na bewering het Dr. Edwards ´n leerling aan die keel gegryp na aanleiding van ´n voorval waar die betrokke leerling vir ´n proefonderwyseres oog geknip het. Baie dankie Beeld, julle gee ´n fantastiese nuwe dimensie aan eensydige beriggewing. Volgens my bronne (wat nie in twyfel getrek mag word nie) is die oogknip maar die puntjie van ´n kolossale ysberg deurspek met die sêgoed en gedrag wat mens net van laeklas gespuis sal verwag.
Nou moet ek ook eers sê; Ek was nog nooit ´n groot fan van die dok nie, (hy ook seker nie van my nie) maar na dáárdie berig kom ´n plakkaat van hom in sy Springbok jirsie bo my bed. In die bogenoemde berig wroeg die ouers; ¨...hulle as ouers verskil met die skool oor hoe tugprosedures gevolg word¨. My genugtig, geen wonder die klein skuim het uitgedraai soos hy het nie. Pappa en Mamma se ou blou bulletjie kan doen net wat hy wil, dada en moems sal vir altyd daar wees om sy poefie op die mat van ´n ordentlike samelewing te verdedig. Ek bevestig glad nie die Dok het hierdie hondsvrot regtig aan die keel gegryp nie maar kom ons stel, vir die doel van hierdie skrywe, voor dit het wel gebeur.
Ek stem geensins saam met Dr Edwards se gedrag nie. Volgens my moes hy eerder elke tand in daardie mannetjie se bek uitgebliksem het. Mens moet egter in gedagte hou dat die ¨leerder¨ se reg om ´n doos te wees deur die grondwet beskerm word. Die hoof kan dan seker ook nie kwalik geneem word oor sy lakse optrede nie.
Toe ek op Affies was, was daar ook sulke mannetjies wat grootmeneer was voor hulle pêlle, maar nie die punch kon vat as hulle gedissiplineer word nie. En wonder bo wonder sit díe manne nou agter ´n toonbank in die Video Den of op ´n scooter met Pizza in rooi op die kant geskryf. Lees gerus díe aanhaling;
¨For every force, there is a counter force. For every negative there is a positive. For every action there is a reaction. For every cause there is an affect.¨ - Grace Speare
In boere-taal; As jy die buurman se vrugte steel en hy vang jou, gaan jy ´n pakkie slae kry – vat dit soos ´n man. As jy ´n ander man se meisie vry, gaan jy gedôner word. As jy neerhalende en walglike aanmerkings teenoor iemand maak wat jy eintlik moet respekteer (jou ma is ook ´n vrou) hoort jy nie in ´n skool soos Affies nie. Jy verdien nie topklas onderrig nie en jy verdien nie jou dag in die hof nie.
Hierdie geval lig een van die gevaarlikste siektes in Suid-Afrika uit; Die verskuiwing van blaam. Oortreders weier om verantwoordelikheid vir hul aksies te aanvaar. Dit is eerder iemand / iets anders se skuld as hul eie;
Dit is nie my siek brein wat my dryf om te verkrag nie, dis my armlastige omstandighede.
Dit is nie haat wat my laat moor nie, dis die sware kettings van ´n verkwiste jeug se skuld.
Dit is nie bravade onder my pêlle wat my onderwysers laat verneder nie, dis my ouers se onwil om my ordentlik op te voed.
So verskuif oortreders die blaam af tot in die sewentigste generasie. Wie word nou vervolg? Gaan ons beendere opgrawe en dít in ´n tronk toesluit? Gaan ons die oortreder van alle verantwoordelikheid vrywaar en hom terug strate toe stuur omdat dit nie regtig sy skuld was nie? Vertel dít vir die vrou wie se lewe verwoes is, die ouers wat hul klein dogtertjie vir altyd verloor het, die onderwyseres wat haar hele loopbaan weer in oorweging gaan neem en nou heel waarskynlik sukkel om mense in die oë te kyk.
Wat ek wil weet is; Waar is die ware Affies? Ek weet julle weet wat reg en verkeerd is. Julle het baie meer regte as die onderwysers. As julle oor tien jaar nog met trots wil sê; ¨Ek was in die Afrikaanse Hoër Seunskool Pretoria¨, sal julle dinge moet vasvat. Onthou julle daardie goed wat ons die eerste paar dae in standerd ses oor en oor gesê het? Pas goeie waardes toe met dáárdie riglyne in gedagte. Onthou; Op die ou end kom alles op respek neer.
Laastens: Dankie dok, ek is bly iemand gee nog om.
Die Wit Rus