Swaar sluk van groot skrik


Kom ek vertel julle ´n storie wat ekself nooit sou glo as ek nie die resultate met my eie oë gesien het nie. Die storie van klein Daantjie van Kimberley. Ou Daantjie (net sy oupa het hom Daan genoem), was altyd kolosaal. Seker maar van al die jêmtertjies en frikadelle en ander geurige gebak uit sy ma se lou-oond. Daardie kombuis van Tant Kotie was altyd vol van die wonderlikste reuke. Soet, suur, bedompig van wildsvleis kook en meeste van die keer salig snoesig met geur van een of ander varsgebakte deeg-gedoente. Dit was dan ook nie snaaks dat Daantjie se pa, Oom Dikwillem, sy naam so goed gestand gedoen het nie.

¨Ja nee, ´n gewigtige klomp die Pieterses¨, het Tant Hannie altyd na kerk gesê, ¨maar liewe mense¨.


Ek het vir jare die Pieterse familie glad nie te siene gekry nie. Eers noudiedag ry ek weer daar by tannie Hannie aan en op pad na haar huis toe, juis ´n Sondag oggend, sien ek ´n familie wat nes soos die Pieterses lyk, maar brandmaer en bloswang van gesondheid.

En toe vertel Tant Hannie my daardie middag die volgende storie;


Man dit was ´n bedrukte dag hier so laat Mei se kant wat Oom Dikwillem se pa oorlede is. Was hy darrem nou vir jou ´n statige man, altyd die toonbeeld van gesondheid. So penreggop geloop soos ´n trotse man moet. Nou ek is nie een wat my verlekker in ander mense se noodlot nie en wat daardie aand in die Pieterses se plaasopstal gebeur het, hoef algar nou nie te weet nie. Maar ek kan dit ook nou nie saam graf toe neem nie. As dit nie was dat ek perongeluk die gesprek tussen Tant Kotie en dominie Schoombie gehoor het nie, sou ek ook niks van die affêre wis nie.

Die symste aand van die begrafnis word Daantjie glo wakker van iemand wat teen sy venster klop. Daantjie loop toe na die venster, maar niks. Al wat hy sien is die Wilgerbome daar onder by die riviertjie. As die wilgerlatte so in die wind swaai lyk dit sommer mos of een of ander boosheid aant gis is. Daantjie wat seker redelik bang moes gewees het is ook nou nie die slimste van kalante nie en díe is toe daar uit in die koue, nagjurk en al, om ondersoek in te stel. Toe Daantjie by die tuinhekkie kom staan sy oupa lewensgroot voor hom. Daardie arme kind moes sy hygend-hert afgeskrik het.

Wat vir ´n spook is nou so wreed, het hy nie ander goed om te doen nie? Maar ja, daar by die voorhekkie lees Daantjie se oupa toe vir hom die Leviete voor.


Hy sê; ¨Daan, jy moet vanaand nou mooi na jou oupa luister. Daardie ma van jou gaan julle almal nog in ´n voortydige graf inkook. Die hele dorp gons van julle dikgatgeit, ek het vanaand die verskriklikste dinge gehoor, mense praat mos anders as hulle jou nie kan sien nie. En daardie nuwe vers wat jou pa by Gert-gordelroos gekoop het se been is seer, loop kyk wats fout. Nou vertel jy môre vir jou pa alles wat ek vandag vir jou gesê het, en as hy jou nie glo nie vra vir hom of hy nog steeds die Jenewer onder die kombuis se vloerplanke wegsteek.¨


Die bloedjie kon ook nie ´n woord uitkry nie en daar verdwyn sy oupa nog soos ´n wolk in die wind. Dis daar waar hulle vir Daantjie die volgende oggend gekry het - voor die tuinhekkie. Met sy tande wat op mekaar klap en nogsteeds lam van die skrik. Kon glo vir ´n week nie praat nie. Toe die kind uiteindelik bykom en die boodskap oordra wou ou Dikwillem hom sommer ´n hewige loesing gee oor al die ¨bogpratery¨. Maar toe Daantjie hom vra of hy nog die Jenewer onder die vloerplanke bêre raak ou Dikwillem doodsbleek.


Kotie het die Gin onder die kombuisplanke gaan uitgehaal en saammet ´n tamaai kas kos daar na die weeshuis toe gekarwei. Van daardie dag eet die Pieterses net gesond. Deesdae as hul so van dan en wan te veel vet of stysel inkry is daar in die aande ´n harde geklop aan die vensters en ´n lae teleurgestelde sug in die kombuis. Dan gaan gooi Kotie die brood in die asblik en begin solank met môre se slaai.



Tant Hannie het nog daarna gespot dat sy wens sy het ook so spook wat haar bietjie in toom kan hou met die geëet saam, maar ek weet mos mens spreek nie sulke goed oor jou selwers nie. Daar kry ek mos toe gister ´n oproep van Tant Hannie; Sy het ´n tjekkie in die pos gegooi. Haar ou yskas het opgepak en ek moet tog vir haar ´n nuwe een van Pretoria bring. Sy´t nou al twee nuwes daar in Kimberley gekoop en altwee se deure lol met die oopmaakslag. Ek wonder of dit nie haar oorlede man is wat haar figuur bietjie dophou nie...



Die Wit Rus