Buffelsfontein
Die
gebeure op ons familie-plaashuis naby Brits het al geslagte besoekers skrik op
die lyf gejaag. Dit het so erg geraak dat dit nou leegstaan en net op naweeke
besoek word. Mense praat nie graag daaroor nie, meestal omdat mense dink hulle
praat kak of dat hulle te veel gedrink het. Ek het ‘n bietjie navorsing oor die
geskiedenis van die huis gedoen en dit mag dalk ‘n paar goed
verduidelik;
Die
huis is in 1871 deur Abraham le Roux gebou en later aan sy seun Antonie le Roux
nagelaat. Antonie het in 1887 met Anna Maria Riekert getrou, ‘n vrou met ‘n
voorliefde vir klavier speel en wie se eikehout klavier nou nog in die huis
staan. Hulle het drie dogters en een seun gehad. Die huis is in 1904 in puin
gelê deur ‘n brand. Van alles wat in die huis was het net die klavier
onverklaarbaar behoue gebly. Daar is wyd geskinder dat dit die Engelse soldate
se werk was, wat in daardie tyd die streek met ‘n ysterhand regeer het. Antonie
het nie net al sy herrinderinge van sy pa en sy familie in die brand verloor nie
maar ook sy geliefde vrou. Hy het haar langs sy pa in die familie-begrafplaas
agter die huis begrawe. Die haat het so in Antonie se gemoed opgebou dat daar
nie aan die plaas aandag gegee is nie en die huis moes deur die kinders, waarvan
die oudste net 17, en die werkers herbou word. Op 19 Januarie 1905 het ‘n ding
gebeur wat Antonie heeltemal geknak het – een van die half-voltooide huis se
dakbalke het sy jongste dogter Rita doodgeval.
Na die
begrafnis het Antonie almal verjaag, insluitend sy kinders. Hy het die huis
manalleen klaargebou en die laaste wat Antonie le Roux lewend gesien is, was in
Oktober 1906 toe hy na bewering vir twee dae sonder kos of water by die grafte
van sy vrou en kind gesit en prewel het. ‘n Paar dae later is in die ‘Brits pos’
berig dat sestien engelse soldate by ‘n nabygeleë fort keelaf gesny is. Die ou
mense van die streek sê my dat daar daardie tyd vertel is, dat die soldate se
gesigte vertrek was van vrees toe hulle gekry is. Na díe gebeure is ‘n hurkense
figuur (die mense het geglo dis Antonie) baie in die familie-begrafplaas gesien.
Na baie mislukde hinderlae naby die begrafplaas deur die Engelse, is dit as ‘n
liegstorie afgemaak.
In
1930 is die beendere van ‘n man langs ‘n ou Mauser in ‘n kloof op die plaas
gekry. Die Mauser het die voorletters van Antonie le Roux opgehad en is saammet
die bene langs Anna en klein Rita begrawe. Na die begrafnis het die wit huis op
Buffelsfontein begin goël.
Tot
onlangs het ek en die mense wat al daar oornag het ook al deurgeloop onder die
vreemde gebeure. Dit word nou al as normaal aanvaar dat die ou klavier in die
sitkamer vanself begin speel, deure hulself oop en toe sluit en selfone sonder
enige kragbron begin laai op enige gegewe tyd. Die gebreekde staanoorlosie in
die eetkamer het ook al sy sy twaalf slae in die gang afgetel. Vriende van my
het my ook al vertel dat daar een aand ‘n sterk wind in die hoek-kamer gewaai
het, maar dat al die vensters toe was. Hulle het nodeloos om te sê nie ‘n oog
toegemaaak nie. Ek het het dinge al as vanselfsprekend begin aanvaar tot dit een
aand ‘n bietjie veel vir my geword het;
Dit
was al na twaalf toe ek by die huis ingestap het een Dinsdag-aand. Na ‘n vinnige
stort was ek reguit bed toe, maar net voor ek kon insluimer hoor ek ‘n hartseer
sug aan die voetenent van die bed. Ek het my flits en revolwer gegryp en na die
geluid geskyn. Wat ek daar op die punt van die bed gesien het gee my nou nog
rillings. Reg voor my, op die bed, was ‘n spierwit klein dogtertjie met bloed
wat soos trane oor haar gesig rol en diep donker gate waar haar oë moes wees. Ek
het net daar opgespring en weggejaag sonder om terug te
kyk.
Of ek
nou gedroom het weet ek nie, maar een ding is seker, iets was daardie aand saam
met my in daardie huis en ek slaap nooit weer daar nie. Veral nie nadat ons
voorman noudiedag gevra het wie die baas en miesies is wat so in die aand by die
grafplaas rondloop – ek moet tog vir hulle sê die klein nonnie wat hulle saamdra
sommer maklik so in die aand sal koue vang.
Die
Wit Rus