Buffelsfontein


Die gebeure op ons familie-plaashuis naby Brits het al geslagte besoekers skrik op die lyf gejaag. Dit het so erg geraak dat dit nou leegstaan en net op naweeke besoek word. Mense praat nie graag daaroor nie, meestal omdat mense dink hulle praat kak of dat hulle te veel gedrink het. Ek het ‘n bietjie navorsing oor die geskiedenis van die huis gedoen en dit mag dalk ‘n paar goed verduidelik;


Die huis is in 1871 deur Abraham le Roux gebou en later aan sy seun Antonie le Roux nagelaat. Antonie het in 1887 met Anna Maria Riekert getrou, ‘n vrou met ‘n voorliefde vir klavier speel en wie se eikehout klavier nou nog in die huis staan. Hulle het drie dogters en een seun gehad. Die huis is in 1904 in puin gelê deur ‘n brand. Van alles wat in die huis was het net die klavier onverklaarbaar behoue gebly. Daar is wyd geskinder dat dit die Engelse soldate se werk was, wat in daardie tyd die streek met ‘n ysterhand regeer het. Antonie het nie net al sy herrinderinge van sy pa en sy familie in die brand verloor nie maar ook sy geliefde vrou. Hy het haar langs sy pa in die familie-begrafplaas agter die huis begrawe. Die haat het so in Antonie se gemoed opgebou dat daar nie aan die plaas aandag gegee is nie en die huis moes deur die kinders, waarvan die oudste net 17, en die werkers herbou word. Op 19 Januarie 1905 het ‘n ding gebeur wat Antonie heeltemal geknak het – een van die half-voltooide huis se dakbalke het sy jongste dogter Rita doodgeval.


Na die begrafnis het Antonie almal verjaag, insluitend sy kinders. Hy het die huis manalleen klaargebou en die laaste wat Antonie le Roux lewend gesien is, was in Oktober 1906 toe hy na bewering vir twee dae sonder kos of water by die grafte van sy vrou en kind gesit en prewel het. ‘n Paar dae later is in die ‘Brits pos’ berig dat sestien engelse soldate by ‘n nabygeleë fort keelaf gesny is. Die ou mense van die streek sê my dat daar daardie tyd vertel is, dat die soldate se gesigte vertrek was van vrees toe hulle gekry is. Na díe gebeure is ‘n hurkense figuur (die mense het geglo dis Antonie) baie in die familie-begrafplaas gesien. Na baie mislukde hinderlae naby die begrafplaas deur die Engelse, is dit as ‘n liegstorie afgemaak.


In 1930 is die beendere van ‘n man langs ‘n ou Mauser in ‘n kloof op die plaas gekry. Die Mauser het die voorletters van Antonie le Roux opgehad en is saammet die bene langs Anna en klein Rita begrawe. Na die begrafnis het die wit huis op Buffelsfontein begin goël.


Tot onlangs het ek en die mense wat al daar oornag het ook al deurgeloop onder die vreemde gebeure. Dit word nou al as normaal aanvaar dat die ou klavier in die sitkamer vanself begin speel, deure hulself oop en toe sluit en selfone sonder enige kragbron begin laai op enige gegewe tyd. Die gebreekde staanoorlosie in die eetkamer het ook al sy sy twaalf slae in die gang afgetel. Vriende van my het my ook al vertel dat daar een aand ‘n sterk wind in die hoek-kamer gewaai het, maar dat al die vensters toe was. Hulle het nodeloos om te sê nie ‘n oog toegemaaak nie. Ek het het dinge al as vanselfsprekend begin aanvaar tot dit een aand ‘n bietjie veel vir my geword het;


Dit was al na twaalf toe ek by die huis ingestap het een Dinsdag-aand. Na ‘n vinnige stort was ek reguit bed toe, maar net voor ek kon insluimer hoor ek ‘n hartseer sug aan die voetenent van die bed. Ek het my flits en revolwer gegryp en na die geluid geskyn. Wat ek daar op die punt van die bed gesien het gee my nou nog rillings. Reg voor my, op die bed, was ‘n spierwit klein dogtertjie met bloed wat soos trane oor haar gesig rol en diep donker gate waar haar oë moes wees. Ek het net daar opgespring en weggejaag sonder om terug te kyk.


Of ek nou gedroom het weet ek nie, maar een ding is seker, iets was daardie aand saam met my in daardie huis en ek slaap nooit weer daar nie. Veral nie nadat ons voorman noudiedag gevra het wie die baas en miesies is wat so in die aand by die grafplaas rondloop – ek moet tog vir hulle sê die klein nonnie wat hulle saamdra sommer maklik so in die aand sal koue vang.





Die Wit Rus