Breinspoel


Selfs die akkedisse en die klippe het gehuil die dag toe Adri tronk toe is. Die dag toe die samelewing wat vir Adri al haar besluite geneem het haar onder die bed van haar eie drome ingevee het.



Adri du Plooi was ´n free spirit, iemand wat van haar brood aan al twee kante gebotter gehou het – omdat sy kon. Sy het van kleins af haar eie kop gevolg en glad nie geweet wat sy met haar lewe wil doen nie. Maar daarmee was sy fyn-pikkewyn – daar was te veel plekke om te sien, te veel goed om te doen, om vasgebind te word deur reëls en roetine.


So het matriek ook gekom en gegaan. Haar ouers het haar gedwing om te gaan swot ¨want dis hoe die lewe werk en basta.¨ Met ´n groot gesukkel het Adri haar ouers oorreed dat sy eerder in ´n woonstel naby die universiteit kan gaan bly - die koshuis se regulasies sou haar gebreek het.


Die eerste maand van haar eerste jaar was toe heel lekker, sy het baie vriendinne gemaak en om onder haar pa se oë uit te wees was vir Adri hemel. Elke aand was ´n fees, al het iemand net by haar kom koffie drink.


Die sesde maand by die universiteit het Adri eendag en iets vreemd in die woonstel se kombuis gehoor. Sy het versigtig by die deur ingeloer en gesien hoe haar wasmasjien bokspring – sy´t geweet sy moes nie daardie ekstra trui ingegooi het nie.

Net toe Adri dit wou afsit skree iemand; ¨Hey!¨

Sy´t haar yskoud geskrik – dit het kompleet geklink of die wasmasjien dit gesê het...

Die wasmasjien het weer gerommel en gesê; ¨Wat sal die mense sê?¨

Adri het ´n dolk van ´n gil gegee, kamer toe gehardloop en ´n halwe bottel wyn afgesluk in twee minute.

¨Word ek nou heeltemal mal? Dis al daai Absinthe gisteraand,¨ het sy gedink.


Nog ´n halwe bottel wyn later was sy reg vir baklei. Stadig die kamerdeur oopgemaak en kombuis toe geloer – nie ´n geluid nie. Op haar tone het sy die kombuis bekruip en versigtig in die deur gaan staan.

Sy´t moed geskep, die wasmasjien reguit in die aan-liggie gekyk en gesê; ¨Vir wat vra jy wat sal die mense sê? Van wat?¨ Adri het so entjie terug gestaan – netnou strip die ding sy drom en spoeg haar vol Skip.

¨Wat sal die mense sê as jy so sonder ´n man rondloop? Jy weet jy hou van gemaklike skoene en dan is jou hare nog lekker kort ook,¨ het die wasmasjien geborrel.

Adri het ´n tree voorentoe gestaan en geskree; ¨Man ek gee nie om wat mense sê nie, ek geniet my lewe net soos dit is jou stuk blik!¨

Adri het die wasmasjien so lekker skop gegee en erg gewip weggeloop. Sy kon nie glo dat sy nou net vir ´n wasmasjien geskree het nie maar genoeg was genoeg.


Terug op kampus het Adri gevoel asof almal vir haar kyk. Sy´t elke paartjie wat hand aan hand loop aangestaar of hulle haar laaste Rolo gevat het. Sy´t verby die plastics geloop en gehoor hoe hulle spog oor hulle nuwe verloofringe, hulle ouens se nuwe karre. Adri was dadelik naar – sy kon nie daardie bitches met hulle Prada skoene en aangeplakte laggies hanteer nie.


Later daardie week het Adri een oggend koffie gemaak toe die wasmasjien weer begin rammel; ¨Les!¨ het dit gebrom. Adri het so rukkie na die kraletjies gestaar wat sy op ´n onverwagse vakansie na Botswana gekoop het, dit in die asblik gegooi en omgeswaai kamer toe.

Die kredietkaart wat haar pa vir noodgevalle vir haar gegee het brand nou al vir ses maande in die laai en díe, het sy gedink, was die regte tyd. Adri het daardie dag Brooklyn mall warm gekoop, haar hare en make-up laat doen en afgesit mediese kampus toe. Sy het geflirt soos ´n prostituut in ´n casino. Haar ogies gefladder soos ´n frieskoei met suur melk. Sommer daardie selfde dag het Adri vir haar ´n man gevang, die gebruiklike aantal maande gewag en dik skimpe begin gooi oor blink ringe en sluiers. Na die troue is die wasmasjien saam na die nuwe huis, al asof Adri ´n skuldige trofee wou hê vir haar nuwe lewe.


Die tyd gaan maar seker vinnig verby as jy heeltyd plastiek moet smile asof jy van jou lewe hou. Nog vinniger as jy dienend jou voorafbepaalde takies doen sonder om te kla. Want voor Adri haar oë kon uitvee het sy met ´n man gesit met sedelike waardes en baie geld waarvoor sy nie lief was nie. ´n Dogtertjie waarvoor sy nie reg was nie en ´n roetine wat sy gehaat het.


So het Adri toe een blou Donderdag vir die tuinjong gesê om die wasmasjien in haar BMW se kattebak te laai terwyl sy haar negende Whisky vir die dag gaan wegslaan het. Sy´t in die kar geklim en by die oprit uitgejaag soos ´n mal mens – reg voor ´n stokou Beetle in. Toe Adri uiteindelik bykom was die ambulanse al daar. Sy´t gesien hoe hulle die lyk van ´n jong meisie uit die Beetle haal – die wasmasjien het reg deur die Volla windskerm geskiet.


Hulle het die lykie langs haar stretcher kom neersit en Adri het gedink; ¨Sy lyk nes ek toe ek getroud is.¨



Die dagboekie waarin Adri in die tronk geskryf het is na haar dood in haar sel gevind. Die laaste inskrywing was die volgende;



Vir my dogter wat ek skaars geken het:


Dis oukei dat jy nie weet waarheen jou lewe gaan nie

Dis oukei as iemand nie van jou hou nie

Dis oukei om alleen te wees, al is dit nie altyd lekker nie

Dis oukei as iemand jou agter jou rug beskinder

Net jy en die liewe Heer kan jou oordeel


As jy iemand liefhet maak seker dis met passie en met jou hele hart

- jou eie passie, jou eie hart

Maak die groot besluite in die lewe NET vir jouself, maar sonder selfsug


Party mense kan baie meer bied as wat geld ooit kan

Hou sulke mense naby – hulle is skaars


Moenie ander mense se definisie van sukses en geluk aanvaar nie

Jou geluk en sukses lê in jou eie hart, nie op die tonge van vreemdelinge nie




Die Wit Rus