Die Blou Willys jeep


Ek en Sarel Fourie is nou al vir 20 jaar vriende. Dit is nou behalwe vir die ses maande in standerd 2 wat ek nie met hom gepraat het nie – hy het my ‘Rambo-mes’ se waterdigte vuurhoutjies gebruik om ‘n vuur aan te steek. Ek dink dis juis ons albei se fasinasie met vuur wat ons vriendskap al hierdie jare aan die brand gehou het. Ons het al per geleentheid, maar meer per ongeluk, al my pa se ‘stoet’ Lovebirds vermoor met ‘n sleggeplaasde vuur. Wie sou nou kon dink ‘n plastiek stoel brand so lekker?


Op ons plaas was daar ook altyd ruim geleentheid om goed aan te jaag. Einde standerd vyf besluit ek, Sarel, Willie en Gert om ‘n Saterdag soentoe toe te gaan. Die blou Willys jeep wat al vir jare in die stoor staan is reggemaak en ons het besluit dit is tyd om hom te gaan toets. Alles werk toe heel goed behalwe as dit by briek kom. Om die jeep tot stilstand te bring moes ‘n kombinasie van vinnige pedaalwerk en nog vinniger handbriekaksie ingespan word. So het dit twee mense gevat om te briek, een om die stuurwiel reguit te hou en die pedaal te pomp en die ander om die handbriek stadig op te trek. Nie te stadig nie, anders is ons deur ‘n nartjie-boord, maar ook nie te vinnig nie, anders is ons oor die bonnet. Soos die dag al warmer begin word het het ons verbeelding ook begin oorkook en daar is (nie heeltemal eenparig) besluit om ‘n groot hout plukkas agter die jeep met ‘n tou vas te bind. Ons proefkonyn, Gert, sou dan binne-in sit en al agter die jeep aan deur die sand getrek word.

Die eerste paar meter gaan toe so prettig dat daar (weereens nie heeltemal eenparig) besluit word om die kas so ‘n bietjie spoed te gee. En dis toe wat die kak die karnaval-wiel tref. Die jeep se petrol haak toe mos vas en ek raak heel verbouereerd agter die stuur. Sarel en Willie spring toe altwee af en met die moet ek toe probeer clutch, briek en handbriek gelyk. Twee doringdrade, ‘n boom en vyf verskrikte plaaswerkers later kom ek toe tot stilstand. Hoe Gert vir sy ma verduidelik het wat met hom gebeur het weet ek vandag toe nie. Hý het bly klou agter in die krat en het die hele verwoesting meegemaak. Ek het net ‘n baie brose Gert met ‘n gekreun uit die kas uit gehaal, toe Sarel en Willie daar aan gehardloop kom – “jus ouens dit was cool, kom ons doen dit weer !”.


‘n Paar jaar later het ek en Sarel met daardie einste blou jeep hoërskool toe gery, van standerd nege tot matriek het ons altyd droë oë en gebarste lippe gehad – daar is mos geen pret daarin om met ‘n jeep te ry met die kappie op nie. In die winter was dit ‘n avontuur om by die skool te kom. Die jeep se brieke is intussen reggemaak, maar hy het ‘n vreeslike koulikheid aan hom gehad. As dit in die oggend regtig moer koud was, kon jy maar weet die jeep gaan by elke robot vrek as iemand nie heeltyd bietjie rev nie. Ek sê iemand, want as bestuurder kan jy nie briek en petrol trap nie, die pedale is te vêr van mekaar af. So het dit weer twee mense gevat om te bestuur. In matriek besluit ons toe om ‘n ander vriend van ons te laat saamry skool toe – Jan Gouws.

Jan was ‘n karakter soos min, hy het al in een van die Amerikaanse ambassade se asblikke weggekruip en is wragtig by die hekke deur al die sekuriteit ingestoot tot binne. Toe hulle hom vra hoekom hy by die ambassade wou inkom, het hy soos ‘n waverse Everest-bestyger geantwoord; “omdat dit daar is”.



Jan het een koue Julie oggend ‘n meisie wat hom op een of ander manier benadeel het, in die tweede kar agter ons by ‘n robot gewaar. Sonder enige skaamte het hy afgespring en vir haar gaan sê hy verneem dit het toe nie te waffers met haar breinoorplanting gegaan nie. Jan het nie daarmee rekening gehou dat die meisie so groot sal skrik dat sy summier sal begin grens nie. Nog minder dat haar pa uit die kar sal spring en hom sal begin jaag nie. Met díe petalje wat hom agter ons afspeel, vergeet ek en Sarel toe heeltemal van die jeep se koulike enjin en díe vrek toe net toe Jan opspring en begin skree dat ons moet “fokken ry” anders word hy “vandag doodgedôner”. Na min of meer die derde klap wat die oom gegee het kry ons toe die jeep aan die brand en daar gaan ons. Toe ons uiteindelik by die skool kom het ek en Sarel, soos dit goeie vriende betaam, ons selwers al heel natgepis van die lag. Jan het daardie middag vir ons ‘n boodskap deur ‘n standerd ses outjie gestuur; “Meester, meester Jan sê hy sal nie vanmiddag kan saamry nie, sy wang is seer”. Jan het later opgemerk dat vroumense nes ou jeeps is – ook maar lekker moeilik as dit koud is.



Die Wit Rus