Die blom van Bothaville


In Bothaville, aan die verkeerde kant van die treinspoor, duskant die berg en anderkant die parkie, bly Wanda Verwey saam met haar ma-hulle. Almal het altyd gewonder of dit haar ma se gerook so deur die geboorte was, of dalk die kat-hare oor al die meubels wat Wanda se rare toestand meegebring het. Niemand kon verseker sê nie.

Sien, as die kwik op ´n goeie dag verby 25 grade druk kry sy ¨die siekte¨. Raak heel waansinnig. Haar mond gaan sit so skuins in haar gesig en sy begin hardloop tot sy êrens ´n bedding blomme kry – dan eet sy haarself trommeldik aan al wat ´n gekleurde blaar en stingel het. So het sy een jaar met die bazaar by die laerskool heeltemal uitgefok en begin hol. Die ouderlinge het haar drie ure daarna in die kerk se tuin gekry, besig met die daisy´s.

Mense is van heinde en ver laat kom om Wanda se duiwels uit te dryf maar met geen sukses - as dit die dag koel was, was sy niks anders as enige skeeloog dogtertjie nie.

Haar ma het maar gesmile, jammer gesê en haar kind uit byna elke tuin in die dorp gaan vang. Het een warm somer selfs Netstar op Wanda se rug laat inplant dat sy kon weet waar sy wei. En so het dinge maar aangegaan, die omheinings-plek het ´n fortuin gemaak en die gemeenskap het van Wanda vergeet. Tot een warm dag in November;


Wanda het daardie dag die pad kafee toe aangedurf met haar splinternuwe scooter. Haar helmet was hopeloos te klein en gevolglik het Wanda se gesig gelyk soos ´n groot bol suurdeeg met ´n pispot wat bo-op vasgedruk is. Wange wat flap in die wind is sy toe uit by die oprit en af met die hoofstraat. Maar soos mense wat al ´n helmet op ´n warm dag moes aantrek jou kan vertel, is dit ´n hittige affêre. En so bekruip die siekte vir Wanda op die scooter. Toe sy oor du Bruinstraat vlieg is haar mond al so skeef soos Jacques van Geraas. En daar haak die scooter se petrol vas. Wanda het vir elke bos blomme die dorp gemik en dwarsdeur gejaag – kon glad nie verstaan hoekom sy nie gestop kry nie. Oor elke stopstraat in die dorp, deur die stadsaal en oor tannie Greyling het sy gespin. Drie honde en twee katte in hulle moer gery en klein Danie Beaufort aan sy kraag met die nommerplaat gehaak. Deur die kwekery se nette het Danie weer losgekom en sy is met twee sakke kunsmis aan die kickstand gehaak weer daar uit. Toe Wanda weer in die hoofstraat indraai besef Jags-Hannes van die DBV sy mik vir die lelies by die dam en kry ´n idee. Hy´t vooruit gejaag en ´n moerse vang-net oor die pad gaan span. Wanda is by daardie net in met ´n spoed wat niemand gedink het ´n scooter kan behaal nie, stadig maar seker tot stilstand gekom en toe skiet sy terug plein se kant toe en in by Mofgat-Floors se blommewinkel. Toe hulle haar uiteindelik onder al die takke en blare opspoor het sy ´n hele bos varkore opgevreet, stingels en al.


Wanda-hulle se huis is na die insident met ´n slordige spul lemmetjies-draad toegespan. Die tuin met al wat ´n blom is beplant en Wanda is nooit weer gesien nie.


As jy ooit weer in Bothaville is, gaan kyk bietjie in die biblioteek rond. In ´n hoekie onder die afdeling ¨werke uit die gemeenskap¨ is daar ´n boekie met gedigte. Ek haal graag ´n stukkie van Jags-Hannes van die DBV se gedig vir Wanda aan;


Bommekind, blommekind

ek hoor jou gedreun oor die wind

Soos ´n ster kom jy in die verte aangesnel

jou pantielyn wys soos die tights jou boude knel

As dit nie vir die siekte en my hooikoors vir stuifmeel was

het ek jou gepak op die rugbyveld se gras

Waar is jy nou my blommekind

het jou ma jou in die agterplaas vasgebind?

Eendag in die winter sal ek jou met my Kawwa kom haal

met watte in my neus en blomme agterop die saal

Ek sal jou die wêreld gaan wys

´n hok vir die warm dae sweis




En heel toevallig kom ek toe vanmôre op ´n foto af van ´n Hell´s angel en sy biker-chick by die Chelsea blommeskou. Die ou met watte in sy neus, en die vrou met ´n yspak op die kop.

Wys jou net, daar is vir almal iemand, jy moet net die regte een vang.



Die Wit Rus