Biep
Is dit net ek of biep alles deesdae? Mense waarsku al lank dat die masjiene ons gaan vrek moor en die wêreld gaan oorneem. Is hierdie gebiepery nie dalk die begin nie?
Nuwe karre biep as jy nie jou sitplek gordel aansit nie. My nuwe selfoon biep as ek dit waag om enige van sy knoppies te druk. My ma se kar biep as sy deur oop is – een lang, aanhoudende biep. En dis nie ‘n vriendelike biep nie, dis ‘n biep wat my brein vertaal as “Stjoooooooeeepiiiiitttttt”. Ek weet die blerrie deur is oop. Ek het dit oopgemaak sodat ek kan uitklim. My eerste Polar hardloop horlosie lê nou ook al vir twee jaar in die kas (sonder batterye) omdat dit elke uur, op die uur, biep. Dan is daar ook my baie grênd silwer mikrogolf oond wat biep-biep-biep-biep as dit klaar iets warm gemaak het en jy maak nie dadelik die deurtjie oop nie. As ek gou iets warm wil maak terwyl ek gaan piepie, beter ek bitter vinnig maak. Anders kak die mikrogolf my uit. Die gevolg is dat die laaste druppel my merk en dat daar geen tyd is vir hande was nie. En sodra ek gaan sit om my Woolies bangers en mash te geniet biep dit weer omdat ek nie die deurtjie mooi toegemaak het nie.
Die vreemdste van alles is dat ek al hierdie biepe trou gehoorsaam. Nee regtig. As dit by bieps kom is ek soos een van Pavlov se brakke. As daai mikrogolf biep hol ek om die deurtjie toe te maak . As my ma se kar biep pluk ek die deur toe asof al Pandora se leed uit die kar gaan ontsnap. Ek het selfs nou die dag amper van die treadmill af gedôner omdat my mp3 speler onverwags gebiep het. Sien, ek het nie mooi geweet wat die ding wil hê ek moet doen nie, toe hou ek maar onmiddellik op hardloop.
Nie te lank terug nie het ek per ongeluk by die kantoor ingestap sonder om eers die alarm af te sit. Die tegnologie in die gebou is blykbaar baie slinks, want dit los jou om eers om tot by die vêrste hoek van die kantoor te kom en dan, heeltemal onverwags ... “BIEPFOK, BIEPFOK, BIEPFOK!!!” na die derde biepfok bars alle hel los. Dit klink soos een van daardie lugafweer sirenes van die tweede wêreld oorlog. Ontwerp om jou met ‘n gevoel van “impending doom” te vul. Selfs die hare op jou private dele staan regop en jou oë rek op maniere wat glad nie natuurlik is nie. Twee tree van die sleutelbord het ek besef ek hardloop op teëls en probeer stop maar dit was te laat. Nou sit ek met potblou knieë en ‘n rekening vir een verskriklike lelike porselein vaas. Dit was amper ‘n verligting toe zero vyf my met sy pistool point. Hoe de hel het dit gebeur? Ek kan ‘n geweer loop in my gesig verdra maar ‘n biep van iets sonder enige ammunisie sal my in ‘n ommesientjie in trane laat uitbars.
Hulle sê al hierdie biepe het die doel om jou oor iets te waarsku. Dit is uit die aard van die saak nie ‘n slegte idee nie, maar ek wil nie noodwendig oor alles gewaarsku word nie. Veral nie dat die alarm oor sewe millisekondes gaan afgaan nie. Of dat die kar se deur oop is nie. Ek weet nie van julle nie maar ek lê nie teen ‘n kar se deur as ek bestuur nie, ek lê teen die sitplek. Jy kan mos hoor die deur is oop sodra die kar begin beweeg. Mense met kinders sal met my verskil maar ek glo dat kinders wat nie kar se deur mooi toemaak nie MOET uitval. Op daardie manier sal hy/sy it net een keer doen – ek belowe. Gevolglik sal ek nooit weer die sluit meganisme van my bakkie se deur hoef te vervang omdat een of ander snotneus, vertikaal gestremde jongeling my deur net half toegemaak het en dit eers agter gekom het toe ons bo-op die berg was nie.
Volgens my tel ‘n taxi toeter ook as ‘n biep. Die verskil is dat laasgenoemde biep my Pavloviaanse impuls stimuleer om te moor. Of ten minste my bulbar reg deur die betrokke taxi se skuifdeur te druk, te reverse en dit oor en oor te doen tot die bussie soos iets op ‘n arrive alive veldtog se plakkaat lyk.
Om saam te vat haat ek biepe. Ek haat biepe meer as krieket – en ek haat krieket meer as hierdie klein vlaggies wat mense deesdae op hulle karre se dakke en spieëltjies sit.
Natuurlik het ek myself nou net in die voet geskiet, want nou gaan ek al die klein biepe in die lewe hoor – ek het nou net vir die eerste keer agter gekom dat my laptop biep as dit my vra of ek hierdie stuk wil stoor. Ek kon sweer dit het dit nog nooit gedoen nie.
Die masjiene gaan nog ons almal kry, biep vir bleeping biep.
Die Wit Rus