Kind van die see


Dit was ´n koue, mistige oggend op Mosbaai. Die branders het hard teen die rotse gedonder. Om een of ander rede was die see daardie oggend woedend. Ek het saam met tannie Lena op haar stoep gesit, ons elkeen met ´n groot beker groentesop in die hand, geurig, strelend, vertroostend, net soos sy dit kan maak. Soms wens ek sy het my nooit vertel nie. Soms wens ek, ek kan vergeet van Belinda. Vergeet van tannie Lena se seer wat vir altyd saam met haar in haar klein, eenkant huisie sal bly.


Dit was ´n oggend nes hierdie, vertel sy, die mis het snoesig teen die sand gelê. Maar die see was nie so kwaad nie. Klein Belinda het vormpies in die deeg gedruk wat later soet en warm uit die oond sou kom. Met klein handjies net bedoel vir speel en troos het sy altyd ´n mannetjie self uitgesny waarvoor sy te jammer was om te eet. Tannie Lena moes hom dan later soetjies laat wegraak as die miere hom beetgekry het. Ek het voor daardie dag nooit van Belinda geweet nie, maar in my geestesoog kan ek sien hoe sy lyk; lang blonde hare, klein knopneusie wat tussen haar sproete uitloer en groot ogies wat elke dag die see se kleur ingedrink het.

Tannie Lena wou daardie oggend gaan skulpe optel, Belinda was mal daaroor. Sy het gesiggies in die kleure en rondings gesien. Tannie Lena het Belinda se goue gerwe uitgekam en vlinder-knippies in haar hare gesit, sy was tog so lief vir vlinders.

Al huppelend het sy langs haar ma geloop, eers na Oom Karools by die apteek en toe na die stalletjies langs die pad in Varingstraat. Strandlangs huis toe en tot bo-op die groot rotse by Skerpklip. Belinda het die heel pad ¨Jesus se soldaatjie¨ gesing, so dat Tannie Lena later moeg geraak het daarvoor, maar hoe keer mens so ´n uitbundige bonneltjie sang?

Tannie Lena het uitasem op die kruin van Skerpklip gaan staan, dit voel altyd of mens die ganse see van daar kan sien. ¨Lenaaaa, Lenaaaa!¨ het dit van vêr gekom. Dit was ou Tante Hester wat so van vêr af geroep het. Daniel, haar kleinseun, was soos altyd daar om haar te help loop, dat die arme man nog nie waansinnig geword het nie, is ´n wonderwerk. Tannie Lena het geweet die ou vrou wou weer kla oor een of ander kwaal en het net gewuif. Maar Tante Hester was nie ´n mens wat jy sommer kon wegwaai nie. ¨Kom hieee kinta,¨ het sy geskree. Tannie Lena is ´n sagte mens en het maar nader gestap. Ou Tante Hester het ook, soos verwag, elkeen van haar kwale tot in diepte bespreek. En toe, asof diep in gedagte, in die verte verby tannie Lena getuur; ¨Lena, wat doen jou kjind daar op die rotse?¨ Tannie Lena het omgekyk net toe Belinda se vlegsels onder die rotse verdwyn. Sy´t nader gehardloop. Geval. Opgestaan. Amper self oor die afgrond die see in getuimel. Belinda het kop onderstebo in ´n diep donker kolkgat tussen die skerp klippe gedryf. Tannie Lena wou inspring. Haar liefling gaan red. Maar Daniel het haar terug gehou; ¨dis te laat, dit help nie die see vat julle altwee nie,¨ en hy was reg, daardie rotse sal selfs die sterkste swemmer net ´n sekonde van lewe gun. Tannie Lena het geskree, gepleit, gehuil, maar Daniel het haar net styf vasgedruk.

Sy moes toekyk hoe haar dogtertjie se lyfie deur wrede branders teen die rotse vasgedruk word, met hul wit krullende vingers haar laaste asempie uitdruk.


Toe tannie Lena klaar vertel het was dit asof die see skielik stil word, op een knie eerbiedig sy kop laat sak. Ons het daardie middag op die strand geloop en skulpe optel. Tannie Lena was stil. Ek ook.

Sy het in die water gaan staan met die golwe wat net-net oor haar voete spoel, afgekyk in die sand, en iets opgetel -

´n klein, geel, vlinder-knippie.

En vir ´n oomblik toe die wind gaan lê kon ons altwee die golwe hoor sing;

ek is nie ´n stap soldaatjie nie....


Tannie Lena het na my gedraai en met trane wat oor haar wange rol gesê; ¨sy was maar altyd ´n kind van die see.¨



Die Wit Rus