Om Bekend te wees
Wat is bekend-wees regtig? As mens mooi daaroor dink is dit in essensie die feit dat baie mense al jou stem gehoor het of jou gevreetjie en/of intellektuele eiendom al beloer het. Ek wou nog altyd bekend wees - wie wil nie? Ek wil hê mense moet staar en agter hulle hande vluister as ek verby loop, my uittrek met hul oë (maar net met hul oë) en ek wil my foto in die pers sien (´n goeie foto). Die probleem is dat ´n mens redelik uitnemend of vreeslik mooi moet wees in wat jy doen, om bekend te wees – Paul Rothman is die versinnebeelding van die moderne Adonis, Valiant Swart maak musiek soos Apollo dit bedoel het en Ferdinand Rabie kán ´n draairoomys-drollie druk. Nogal snaaks vir watse tipe stront ´n mens bekend kan raak né?
Dis verskriklik hoe onregverdig beroemdheid werk;
Party mense skryf tot in die nanag, élke nag, meesterlike liedjies, hou uitmergellende vertonings in elke dodgy club in die land, maak berge skuld om ´n cd te laat opneem en word nie eers na dit alles ´n bietjie erkenning gegun nie.
Ander mense sit ´n paar dae in ´n gefinansierde, volledig gemeubuleerde huis onder M-net se dak, suip champagne in ´n borrelbad en eet so slordig as wat hulle kan, kos wat verniet afgelewer word. Die dag as hulle by die deur uitstap, is hulle nasionale helde. Dan kan hulle nog vir maande daarna betaal word om op televisie en openbare geleenthede te chat oor hulle ¨persoonlike wroeging¨ met Stockholm sindroom en ander sielkundige krenkings opgedoen vanweë al die fokkol doen.
Nee, as ek eendag bekend word wil ek dit verdien. Al weet ek daar is wel ´n slegte aspek verbonde aan hierdie skyn-utopia. Op hierdie stadium weeg die voordele net ´n bietjie swaarder as die nadele;
Nadele:
As jou bynaam vir jou meisie ¨my ou Meerminskaamlippie¨ of iets dergelik is, weet al die Huisgenoot en Son lesers dit.
As jy ´n slegte vel dag het, is daar altyd ´n steelfotograaf (mooi woord vir Paparazzi né?) daar om dit af te neem, te vergroot en te photoshop tot jou wang soos ¨Vanuatu, islands of fire¨ lyk.
Ek was noudiedag saam toe iemand vir die sanger Adam Tas vra of hy aan sy kitaar-vingers kan voel. Adam het hierdie ou maar laat voel, maar ek sweer as iemand my eendag vra om aan my tik-vingers te voel skree ek onmiddelik; ¨FREAK!!¨ en hol weg.
Voordele:
Jy maak meeste van die tyd baie geld.
Mense lag vir al jou grappe.
Die kans dat Nina Swart ´n onderhoud met jou sal voer verbeter aansienlik.
Jy word uitgenooi om as ´n spreker op te tree by funksies en daars free kos en goed.
Jou ¨fans¨ rep geen woord oor die breinlose retoriek van ´n liedjie waarvan die sentrale tema byvoorbeeld ´n pers kombers is nie. (Of dit ´n voordeel is, is kwestieus).
Mense wat aanbieders is van programme soos Pasella en Top Billing sien die wêreld verniet.
Mooi meisies vra vir jou handtekening en partykeer moet jy dit met ´n koukie op hul borste aanbring (ek het dit een keer op TV gesien).
Jy hoef nie te drink om interessant te wees nie.
Sien, 8 teen 3 is beroemdheid in my boekie ´n wenner.
Vir al die bekendes asook onbekendes wat na regte bekend behoort te wees; baie geluk en moenie laat die pers julle onderkry nie.
Vir Ferdinand Rabie; myne is groter as joune.
Vir die regisseurs van Pasella; ek´s geen Adonis nie maar ek kan soos Barry White praat.
Vir almal wat ook bekend wil wees; ons dag sal kom en indien nie, kan ons altyd gaan streak op Loftus.
Die Wit Rus
Nota: Adam Tas se cd ¨My memories in Menthol¨ is nou beskikbaar. As jy die Don Juan in jouself wil uitbring of die melodieuse soetvloeiendheid van die woord Knoppiesdoringboom wil ontdek, gaan kry hom nou. (Gaan veral goed saammet A-klas rooiwyn en een standaard vroue persoon).